Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Moet ek ’n tatoeëermerk kry?

Moet ek ’n tatoeëermerk kry?

 Waarom is dit so gewild?

 “Ek dink dat party tatoeëermerke pragtige kunswerke is”, sê ’n jong man met die naam Ryan.

 Die rede waarom jy ’n tatoeëermerk wil hê, kan ’n uitwerking hê op hoe jy daaroor voel. Byvoorbeeld, ’n tiener met die naam Jillian sê: “’n Meisie wat saam met my op skool was, was nog klein toe haar ma gesterf het. Toe die meisie ’n tiener word, het sy dus haar ma se naam op die agterkant van haar nek laat tatoeëer. Ek dink dat sulke tatoeëermerke baie oulik kan wees.”

 Ongeag die beweegrede, jy moet lank en hard dink voordat jy besluit om enigiets permanent op jou vel aan te bring! Watter vrae moet jy jou afvra as jy daaraan dink om ’n tatoeëermerk te kry? En watter Bybelbeginsels kan jou help om die beste besluit te neem?

 Watter vrae moet jy jou afvra?

 Wat is die gesondheidsgevare? “Wanneer jy ’n tatoeëermerk kry, word die vel geprik, wat beteken dat velinfeksies en ander komplikasies kan ontstaan”, sê die Mayo-kliniek se webwerf. “Soms vorm bulte wat granulome genoem word rondom die tatoeëermerk. Tatoeëring kan ook lei tot keloïede—ongelyke velletsels wat veroorsaak is deur die oormatige groei van littekenweefsel.” Die webwerf sê verder: “As die toerusting wat gebruik is om jou tatoeëermerk te maak, besmet is met besmette bloed, kan jy verskeie bloedgedrae siektes kry.”

 Watter uitwerking sal dit op jou reputasie hê? Of jy nou daarvan hou of nie, jou voorkoms dra ’n boodskap oor. Dit identifiseer jou as volwasse of onvolwasse, as betroubaar of onbetroubaar. “Wanneer ek iemand met ’n tatoeëermerk sien, klassifiseer ek hom outomaties as iemand wat baie drink en partytjies hou”, sê ’n tiener met die naam Samantha.

 Melanie, 18, sien ’n ander aspek daarvan. “Ek dink dat tatoeëermerke jou natuurlike skoonheid verbloem”, sê sy. Dis asof dié wat dit het, nie wil hê dat jy moet sien wie hulle werklik is nie, en daarom steek hulle hulle weg onder tatoeëermerke.”

 Sal jy altyd daarvan hou? Met verloop van tyd kan ’n toename in gewig of selfs veroudering die vorm van ’n tatoeëermerk verander. “Ek het al gesien hoe tatoeëermerke jare later lyk, en dis glad nie mooi nie”, sê ’n jong man met die naam Joseph.

 “Tatoeëermerke gaan dikwels uit die mode”, sê die 21-jarige Allen. “Wat vir die persoon eens betekenisvol was, kan net ’n paar jaar later nie meer so belangrik wees nie.”

 Allen het ’n goeie punt. Die feit is, soos mense ouer word, verander hulle beskouings, hulle smaak en hulle gevoelens—maar hulle tatoeëermerke verander nie. “Om ’n tatoeëermerk te kry wat my net herinner aan dwase gevoelens, is iets wat ek nie graag wil plaas op die lys van dinge waaroor ek jare later gaan spyt wees nie”, sê ’n jong vrou met die naam Teresa.

 Watter Bybelbeginsels is van toepassing?

 ’n Volwasse persoon neem tyd om al die faktore in ag te neem voordat hy ’n besluit neem (Spreuke 21:5; Hebreërs 5:14). Dink aan die volgende Bybelbeginsels wat met die onderwerp van tatoeëermerke verband hou.

  •  Kolossense 3:20: “Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want dit is welbehaaglik in die Here.”

      Watter gevolge sal daar wees as jy by jou ouers woon, maar nie hulle leiding in ag neem nie?

  •  1 Petrus 3:3, 4: “Laat julle versiering nie dié wees van uiterlike haarvlegtery en van die omhang van goue sierade of die dra van boklere nie, maar laat dit die geheime persoon van die hart in die onverderflike versiering van die stille en sagmoedige gees wees.”

      Waarom dink jy lê die Bybel soveel klem op “die geheime persoon van die hart”?

  •  1 Timoteus 2:9: “Vroue [moet hulle] met beskeidenheid en gesonde verstand [versier].”

      Wat beteken die woord “beskeidenheid”? Waarom is beskeidenheid op die lange duur aantrekliker as lyfkuns?

  •  Romeine 12:1: “[Bied] julle liggaam aan ... as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is, ’n heilige diens met julle denkvermoë.”

      Waarom stel God belang in hoe jy jou liggaam behandel?

 In die lig van hierdie faktore het baie mense besluit om nie ’n tatoeëermerk te kry nie. Inteendeel, hulle het iets beters gevind as tatoeëermerke. Teresa, wat vroeër aangehaal is, sê: “As daar ’n frase of slagspreuk is waarvan jy baie hou of ’n persoon wat vir jou belangrik is, dan moet jy volgens hierdie slagspreuk lewe of vir hierdie persoon sê hoeveel hy of sy vir jou beteken. Leef jou oortuigings uit eerder as om ’n tatoeëermerk te kry.”