Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Wat moet ek omtrent sexting weet?

Wat moet ek omtrent sexting weet?

 Wat is sexting?

 “Sexting” is die gebruik om seksueel eksplisiete teksboodskappe, foto’s of video’s deur middel van ’n selfoon te stuur. “Dis al amper ’n normale manier van kommunikeer”, sê ’n man. “Jy stuur en ontvang ’n paar boodskappe, en dis nie lank nie of julle ruil erotiese foto’s uit.”

 Waarom doen mense dit? Volgens party tieners “is dit ’n manier om vir ander te sê dat jy seksueel aktief is as jy ’n kaalfoto van jou meisie of kêrel op jou selfoon het”, sê ’n senior assistentstaatsaanklaer wat in The New York Times aangehaal is. “Dis ’n elektroniese liefdesbyt.” Een tiener noem dit selfs ’n vorm van “veilige seks”. Sy sê: “Jy kan nie daarvan swanger raak nie en jy kan nie seksueel oordraagbare siektes kry nie.”

 Hier is nog ’n paar redes waarom tieners seksboodskappe stuur:

  •   Om te flankeer met iemand met wie hulle graag ’n verhouding wil hê.

  •   Omdat iemand vir hulle ’n eksplisiete foto gestuur het, en hulle verplig voel om ‘die guns terug te betaal’.

 Wat is die gevolge van sexting?

 Sodra jy ’n foto deur middel van ’n selfoon stuur, behoort dit nie meer aan jou nie, en ook het jy geen beheer oor hoe dit gebruik word nie—of watter uitwerking dit op jou reputasie sal hê nie. “Foute en oortredings was nog nooit so maklik om gestuur en geberg te word vir ander om te sien nie”, sê Amanda Lenhart, senior navorsingspesialis en outeur van ’n verslag oor sexting van die Pew-navorsingsentrum.

 Die volgende het al gebeur:

  •    Kaalfoto’s is deur die ontvanger aan baie van sy vriende aangestuur om hulle te vermaak.

  •    Kêrels wat afgesê is, het kaalfoto’s as ’n vorm van wraak versprei.

 HET JY GEWEET? In baie gevalle is die stuur van kaalfoto’s in dieselfde lig beskou as kindermishandeling of die verspreiding van kinderpornografie. Party minderjariges wat seksboodskappe gestuur het, is al as seksoortreders vervolg.

 Wat sê die Bybel?

 Die Bybel praat gunstig oor seksuele genot in die huwelik (Spreuke 5:18). Maar dit veroordeel uitdruklik enige seksuele gedrag tussen ongetroude persone. Kyk na die volgende Bybelverse:

  •   “Laat hoerery en elke soort onreinheid of hebsug nie eens onder julle genoem word nie, . . . ook nie skandelike gedrag of dwase praatjies of onwelvoeglike skertsery nie.”—Efesiërs 5:3, 4.

  •   “Maak dan dood julle liggaamsdele wat op die aarde is ten opsigte van hoerery, onreinheid, geslagsdrif, skadelike begeertes en hebsug.”—Kolossense 3:5.

 Hierdie verse waarsku nie net teen “hoerery” (seks buite die huwelik) nie, maar ook teen dinge soos “onreinheid” (’n breë term wat na enige soort sedelike onreinheid verwys) en “geslagsdrif” (wat nie na normale romantiese gevoelens verwys wat in die huwelik bevredig kan word nie, maar na hartstog wat waarskynlik tot ongepaste gedrag sal lei).

 Vra jou af:

  •   In watter opsig is dit ’n vorm van “onreinheid” om kaalfoto’s deur middel van ’n selfoon te stuur?

  •   Hoe wakker dit ongepaste “geslagsdrif” aan?

  •   Waarom is die begeerte om na kaalfoto’s te kyk of dit te versprei, ‘skadelik’?

 Die volgende Bybelgedeeltes voorsien ’n selfs dwingender rede om sexting te vermy.

  •   “Doen jou uiterste bes om jou goedgekeur voor God te stel, as ’n werker wat hom oor niks hoef te skaam nie.”—2 Timoteus 2:15.

  •    “Watter soort mense behoort julle dan te wees in heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid!”—2 Petrus 3:11.

 Hierdie verse beskryf die positiewe gevolge van sedelike reinheid. As jou gedrag prysenswaardig is, hoef jy nie later oor impulsiewe dade spyt te wees.—Galasiërs 6:7.

 Vra jou af:

  •    Watter soort persoon is ek?

  •    Is ander se reputasie vir my belangrik?

  •    Wil ek vermaak word deur iets wat ander benadeel?

  •    Watter uitwerking kan sexting op my reputasie hê?

  •    Hoe kan sexting my ouers se vertroue in my afbreek?

 WARE VERHAAL “Ek het ’n vriendin wat haar verhouding met ’n seun geheim gehou het. Toe het sy ’n kaalfoto van haarself aan hom gestuur, en hy het vir haar een van hom gestuur. Skaars 48 uur later het haar pa besluit om haar selfoon te deursoek. Hy het op die teksboodskappe afgekom, en hy was verpletterd. Hy het haar gekonfronteer, en sy het alles erken. Ek weet dat sy jammer is oor wat sy gedoen het, maar haar ouers was werklik geskok en baie ontsteld! Hulle is nie eers seker of hulle haar nog kan vertrou nie.”

 Lewenswaarheid: Sexting verlaag die een wat dit stuur sowel as die een wat daarna kyk. “Ek is baie vies vir myself en verskriklik teleurgesteld in myself”, sê ’n tiener wie se kêrel druk op haar geplaas het om vir hom seksboodskappe te stuur.

 Met die oog op die sedelike, etiese en moontlike regsgevolge van sexting sal jy verstandig wees as jy die Bybel se raad volg:

  •   “Vlug . . . vir die begeertes wat eie is aan die jeug.”—2 Timoteus 2:22.

  •   “Wend my oë af, sodat hulle niks sien wat waardeloos is nie.”—Psalm 119:37.

 Wat sou jy doen?

 Pas die Bybel se raad in ’n werklike situasie toe. Kyk wat Janet gesê het, en kies dan watter opsie jy dink die beste is.

 “Eenkeer het ek ’n seun ontmoet, en ons het nommers uitgeruil. Binne ’n week het hy my gevra om vir hom foto’s te stuur van my in ’n bikini.”—Janet.

 Wat dink jy moes Janet gedoen het? Wat sou jy doen?

  •  OPSIE A Jy kan redeneer: ‘Daar is niks verkeerd daarmee nie. As ons strand toe gaan, sal hy my in elk geval in swemklere sien.’

  •  OPSIE B Jy kan redeneer: ‘Ek is nie seker wat hy in gedagte het nie. Kom ek stuur vir hom ’n foto waarin ek meer klere aanhet en kyk dan wat gebeur.’

  •  OPSIE C Jy kan redeneer: ‘Hierdie seun soek net een ding. Ek gaan sy boodskap uitwis.’

 Opsie C lyk die beste, nie waar nie? Die Bybel sê immers: “Verstandige mense sal onheil sien kom en dit vermy, maar iemand wat nie dink nie, sal oop oë daarin loop en later daaroor spyt wees.”—Spreuke 22:3, Good News Translation.

 Hierdie oefening wys op ’n algemene oorsaak van sexting en ander vorme van wangedrag: ’n Slegte keuse van vriende (Spreuke 13:20). “Assosieer met mense wat jy weet nie ongepaste gedrag sal duld nie”, sê ’n jong vrou met die naam Sarah. ’n Ander jong vrou, Delia, stem saam. “Party sogenoemde vriende probeer jou nie help om by jou sedelike standaarde te bly nie, maar om dit te verbreek”, sê sy. “As hulle gedrag in stryd is met God se wette, moedig hulle jou aan om jou sedelike beginsels prys te gee. Is dit werklik wat jy wil hê?”