Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe lyk ek?

Hoe lyk ek?

 Waarom maak dit saak hoe jy aantrek? Omdat jou klere iets omtrent jou sê. Watter boodskap stuur jou klere uit?

 Drie groot modefoute en hoe jy dit kan vermy

Fout #1: Die media sê vir jou hoe jy moet lyk.

 “Soms begin ek van ’n styl hou omdat ek dit al in soveel advertensies gesien het”, sê ’n tiener met die naam Theresa. “Wanneer jy gebombardeer word met beelde van mense wat ’n sekere kledingstuk dra, kan dit moeilik wees om hulle nie na te volg nie.”

 Meisies is nie die enigstes wat deur advertensies beïnvloed word nie. “Seuns word net so maklik deur veranderinge in die mode beïnvloed”, sê die boek The Everything Guide to Raising Adolescent Boys. “Oral om hulle is daar bemarking wat op hulle gemik is.”

 ’n Beter benadering: Die Bybel sê: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe” (Spreuke 14:15). In ooreenstemming met hierdie beginsel moet jy leer om goed na te dink oor wat jy in advertensies sien. Byvoorbeeld, wanneer jy advertensies sien vir klere wat beskryf word as “cool”, “hot” of “sexy”, moet jy jou afvra:

  •  ‘Tot wie se voordeel is dit in werklikheid as ek hierdie styl volg?’

  •  ‘Met watter lewenstyl sou hierdie klere my verbind?’

  •  ‘Pas hierdie lewenstyl werklik by my en wat ek glo?’

 Modewenk: Kyk ’n week lank noukeurig na advertensies vir klere en ander advertensies wat met die mode verband hou. Watter lewenstyl bevorder dit? Is daar subtiele boodskappe wat ontwerp is om jou te laat voel asof jy sekere klere moet dra? “Daar is baie druk om perfek te lyk, perfek aan te trek en om die aandag op jou ‘perfekte’ liggaam te vestig”, sê ’n tiener met die naam Karen. “Adverteerders wat dit besef, vind dat jongmense ’n maklike teikenmark is.”

Fout #2: Jy dra wat gewild is, net om in te pas.

 “As ’n sekere soort kleredrag in die mode is,” sê ’n tiener met die naam Manuel, “gaan almal daardie klere dra. As jy dit nie dra nie, gaan mense jou oordeel.” ’n Tiener met die naam Anna voel dieselfde. “Dit gaan meer daaroor om in te pas as om die mode te volg”, sê sy.

 ’n Beter benadering: Die Bybel sê: “Moenie langer na hierdie stelsel van dinge gevorm word nie” (Romeine 12:2). Gaan deur jou klerekas met hierdie raad in gedagte en vra jou af:

  •  ‘Watter faktore beïnvloed hoofsaaklik watter klere ek kies?’

  •  ‘Hoe belangrik is dit vir my om klere te hê met gewilde handelsmerke?’

  •  ‘Probeer ek om mense met my kleredrag te beïndruk?’

 Modewenk: Moenie net twee opsies sien nie​—gewild (en aanvaarbaar) of outyds (en onaanvaarbaar)​—maar besef eerder dat daar ’n derde opsie is: selfversekerd en gerus. Hoe gemakliker jy is met jouself, hoe minder belangrik sal dit vir jou wees om in te pas.

Fout #3: Om te dink ‘hoe sexier, hoe beter’.

 “Om eerlik te wees, soms is dit nogal ’n versoeking om iets te dra wat ’n bietjie gewaagd is, met ander woorde te kort of te styf of te kaal”, erken ’n meisie met die naam Jennifer.

 ’n Beter benadering: Die Bybel sê: ‘Laat julle versiering nie dié wees van die uiterlike nie, maar laat dit die geheime persoon van die hart wees’ (1 Petrus 3:3, 4). Dink in ooreenstemming met hierdie raad na oor wat aantrekliker is​—kleredrag wat die oog vang of eienskappe wat die hart raak.

 Modewenk: Uit al jou mode-bykomstighede is beskeidenheid die aantreklikste. Dit is waar dat dit vandag nie ’n gewilde woord is nie. Maar dink so daaraan:

 Het jy al met iemand gesels wat te veel praat en net oor homself of haarself praat? Die hartseer ding is dat daardie persoon waarskynlik glad nie besef dat hy of sy jou in werklikheid wegstoot nie!

Kleredrag, soos ’n gesprek, kan die aandag so op jou vestig dat dit ander om jou wegstoot

 Wanneer jy onbeskeie aantrek, word jy soos daardie persoon. Jou kleredrag sê ‘kyk na my’, en dit kan veroorsaak dat jy onseker of selfbehep lyk​—of selfs albei. Dit skep dalk ook die indruk dat jy desperaat is vir enige soort aandag​—selfs die verkeerde soort.

 In plaas daarvan om iets te adverteer wat jy nie verkoop nie, probeer eerder om beskeie te wees. “Beskeidenheid beteken nie dat jy soos jou ouma moet aantrek nie”, sê ’n tiener met die naam Monica. “Dit beteken net dat jy jouself en ander om jou respekteer.”