Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Is die okkulte net onskadelike pret?

Is die okkulte net onskadelike pret?

 Wat dink jy?

  •   Is dit gevaarlik om horoskope, ouijaborde of geestemediums te raadpleeg?

  •   Is verhale oor die okkulte sommer net stories – ’n simboliese stryd tussen goed en sleg – of is daar meer daarby betrokke?

 Hierdie artikel gaan bespreek hoekom party mense spiritisme dalk interessant vind en hoekom ’n mens versigtig moet wees.

 Hoekom vind party dit interessant?

 Mense in die vermaaklikheidswêreld het al baie geld gemaak deur films, TV-programme, videospeletjies en boeke oor die okkulte te maak. Daarom het baie jongmense begin nuuskierig word oor dinge soos astrologie, demone, vampiere en towery. Hoekom? Hier is ’n paar redes:

  •   Nuuskierigheid: Om uit te vind of daar regtig ’n geestewêreld is

  •   Bekommernis: Om uit te vind wat in die toekoms gaan gebeur

  •   Kommunikasie: Om met ’n geliefde wat gesterf het te probeer kommunikeer

 Hierdie redes is nie noodwendig verkeerd nie. Dit is byvoorbeeld heel natuurlik om te wonder oor wat in die toekoms gaan gebeur of om na ’n geliefde te verlang wat gesterf het. Maar daar is gevare waarvan jy bewus moet wees.

 Hoekom moet ons versigtig wees?

 Die Bybel bevat ernstige waarskuwings teen enigiets wat met spiritisme te doen het. Dit sê byvoorbeeld:

 “Daar mag niemand onder jou gevind word wat ... van waarsêery gebruik maak, die toorkuns beoefen of voortekens soek of wat ’n towenaar is nie, of wat ’n towerspreuk oor ander uitspreek of ’n geestemedium of ’n beroepsvoorspeller van gebeure om inligting vra of die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir Jehovah verfoeilik.”Deuteronomium 18:10-12.

 Hoekom waarsku die Bybel ons so sterk teen spiritisme?

  •   Wanneer ons by spiritisme betrokke raak, ondersteun ons die demone. Die Bybel leer dat party engele teen God in opstand gekom het en hulleself sy vyande gemaak het (Genesis 6:2; Judas 6). Hierdie goddelose engele, wat demone genoem word, mislei mense deur middel van geestemediums, toekomsvoorspellers en dié wat waarsêery en astrologie beoefen. As ons sulke dinge beoefen, maak dit ons ’n vriend van God se vyande.

  •   Spiritisme bevorder die valse idee dat sekere mense die toekoms kan voorspel. Maar dit is net God wat kan sê dat hy “van die begin af die uiteinde verkondig, en van ouds af die dinge wat nog nie gedoen is nie”. ­– Jesaja 46:10; Jakobus 4:13, 14.

  •   Spiritisme bevorder die valse idee dat die dooies met die lewendes kan kommunikeer. Maar die Bybel sê: “Wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks ... Daar is geen werk of beplanning of kennis of wysheid in Sjeool [nie].” – Prediker 9:5, 10.

 As gevolg van hiervan vermy Jehovah se Getuies gebruike wat met spiritisme te doen het. Hulle vermy ook vermaak wat dinge soos zombies, vampiere en die bonatuurlike uitbeeld. ’n Jong vrou met die naam Maria sê: “As dit enigiets met spiritisme te doen het, dan behoort ek dit nie te kyk nie.” a

Net soos ’n skelm jou probeer kry om te dink dat hy iemand anders is, maak die demone asof hulle jou geliefdes is wat gesterf het

 Wat jy kan doen

  •   Wees vasbeslote om ‘geen oortreding teen God te begaan nie’ deur enige gebruik of vermaak te vermy wat met die okkulte te doen het. – Handelinge 24:16.

  •   Raak ontslae van enigiets wat met die okkulte te doen het. Lees Handelinge 19:19, 20, en kyk na die goeie voorbeeld wat die eerste-eeuse Christene in hierdie opsig vir ons gestel het.

 Onthou: Wanneer jy gebruike verwerp wat met die okkulte te doen het, wys jy duidelik dat jy Jehovah ondersteun. En dit maak sy hart bly! – Spreuke 27:11.

a Dit beteken nie dat alle fantasieverhale spiritisme direk bevorder nie. Maar Christene gebruik hulle Bybelopgeleide gewete om enige gebruik of vermaak wat spiritisme bevorder, te vermy. – 2 Korintiërs 6:17; Hebreërs 5:14.