Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Wat moet ek doen nadat ek gedoop is? – Deel 2: Behou jou integriteit

Wat moet ek doen nadat ek gedoop is? – Deel 2: Behou jou integriteit

 Die Bybel sê dat ‘Jehovah niks goeds sal terughou van dié wat ’n weg van integriteit volg nie’ (Psalm 84:11). Wat beteken dit om ‘’n weg van integriteit te volg’? Dit beteken dat jy op ’n manier lewe wat wys dat jy die belofte nakom wat jy aan Jehovah gemaak het toe jy jouself aan hom toegewy het (Prediker 5:4, 5). Hoe kan jy ’n weg van integriteit volg nadat jy gedoop is?

In hierdie artikel

 Hou aan om te volhard ten spyte van probleme

 Belangrike teks: “Ons moet baie verdrukking deurmaak om in die Koninkryk van God in te gaan.” – Handelinge 14:22.

 Wat dit beteken: Ons kan verwag dat alle Christene probleme sal hê. Omdat jy ’n Christen is, sal jy miskien probleme, soos bespotting of teenstand, ondervind. Maar ander dinge, soos finansiële probleme of siekte, kan alle mense raak.

 Wat om te verwag: Partykeer sal jou omstandighede verander, en soms op maniere waarvan jy nie hou nie. Die Bybel sê dat slegte dinge met enige iemand kan gebeur, of hulle nou Christene is of nie. – Prediker 9:11.

 Wat jy kan doen: Omdat jy weet dat jy uitdagings sal hê, kan jy jouself daarvoor voorberei. Beskou uitdagings as ’n geleentheid om jou geloof te versterk en om meer op Jehovah te vertrou (Jakobus 1:2, 3). Met tyd sal jy net soos die apostel Paulus voel, wat gesê het: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.” – Filippense 4:13.

 WARE VERHAAL. “Kort nadat ek gedoop is, het my broers die waarheid verlaat en het my ouers siek geword. Daarna het ek ook siek geword. Dit sou maklik gewees het om op te gee, om te vergeet dat ek my lewe aan God toegewy het en dat ek belowe het om sy aanbidding die belangrikste ding in my lewe te maak. Maar my toewyding het my eintlik gehelp om hierdie uitdagings te hanteer.” – Karen.

 Wenk: Leer meer oor Josef. Jy kan oor sy lewe lees in Genesis hoofstuk 37 en 39 tot 41. Dink hieraan: Watter onverwagse probleme het hy gehad, en hoe het hy dit hanteer? Hoe het Jehovah Josef gehelp?

 Het jy meer hulp nodig?

 Hou aan om versoekings te weerstaan

 Belangrike teks: “Elkeen word getoets wanneer hy deur sy eie begeerte gelok en verlei word.” – Jakobus 1:14.

 Wat dit beteken: Almal van ons word soms deur begeertes versoek en as ons dit nie beheer nie, kan dit veroorsaak dat ons doen wat verkeerd is.

 Wat om te verwag: Nadat jy gedoop is, sal jy nog steeds “vleeslike begeertes” hê (2 Petrus 2:18). Jy kan selfs in die versoeking kom om seks voor die huwelik te hê.

 Wat jy kan doen: Besluit nou al wat jy gaan doen – voordat jy versoek word – sodat jou begeertes nie veroorsaak dat jy slegte besluite maak nie. Onthou Jesus se woorde: “Niemand kan twee meesters as slaaf dien nie” (Matteus 6:24). Jy kan kies wie jou meester sal wees. Laat dit Jehovah wees. Maak nie saak hoe sterk ’n begeerte is nie, jy kan kies om nie daarop te reageer nie. – Galasiërs 5:16.

 Wenk: Vind uit wat jou sterk en swak punte is. Kies vriende wat die goeie in jou uitbring. Vermy mense, plekke en omstandighede wat dit vir jou moeiliker sal maak om te doen wat reg is. – Psalm 26:4, 5.

 Het jy meer hulp nodig?

 Hou aan om jou ywer te vergroot

 Belangrike teks: ‘Wees net so hardwerkend tot die einde toe sodat julle nie lui sal word nie.’ – Hebreërs 6:11, 12.

 Wat dit beteken: Iemand wat nie op sy werk fokus nie, kan maklik minder begin doen en lui word.

 Wat om te verwag: Jy was seker opgewonde en baie ywerig nadat jy gedoop is. Jou hart was vol liefde vir Jehovah. Maar soos tyd verbygaan, kan dit moeilik raak om Jehovah in alles te gehoorsaam. Dit kan jou mismoedig maak en jou ywer vir Jehovah laat afneem. – Galasiërs 5:7.

 Wat jy kan doen: Hou aan om die regte ding te doen, al voel jy nie altyd lus om dit te doen nie (1 Korintiërs 9:27). Intussen kan jy nader aan jou hemelse Vader kom deur hom beter te leer ken en deur gereeld met hom in gebed te praat. Hou ook aan om sterk vriendskappe te vorm met mense wat lief is om Jehovah te dien.

 Wenk: Onthou dat Jehovah baie lief is vir jou en gereed is om jou te help. Moenie dink dat Jehovah kwaad is vir jou as jy vir ’n kort rukkie nie so ywerig is nie. Die Bybel sê: “Hy gee krag aan die een wat moeg is, en hy versterk die een wat swak is” (Jesaja 40:29). Hy sal jou pogings seën om jou ywer weer terug te kry.

 Het jy meer hulp nodig?

 Die slotsom: As jy die weg van integriteit volg, sal jy Jehovah se hart bly maak! (Spreuke 27:11). Hy sal gelukkig wees omdat jy sy kant kies, en hy sal vir jou alles gee wat jy nodig het om Satan se aanvalle te weerstaan.