Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Wat moet ek omtrent seksuele aanranding weet?—Deel 1: Voorsorgmaatreëls

Wat moet ek omtrent seksuele aanranding weet?—Deel 1: Voorsorgmaatreëls

 Wat is seksuele aanranding?

 Hoewel wetlike definisies van plek tot plek verskil, kan die algemene term “seksuele aanranding” verwys na ongewenste seksuele kontak, waarby fisiese geweld soms betrokke is. Dit kan dinge insluit soos seksuele molestering van kinders of tieners, bloedskande, verkragting en seksuele uitbuiting deur ’n professionele persoon wat veronderstel is om te help—dalk ’n dokter, ’n onderwyser of ’n geestelike. Party slagoffers, hetsy hulle mondeling aangeval of fisies aangerand word, word met liggaamlike leed gedreig as hulle vertel wat gebeur het.

 Volgens ’n opname word daar elke jaar in die Verenigde State alleen byna ’n kwartmiljoen gevalle van seksuele aanranding gerapporteer. Byna die helfte van die slagoffers is tussen die ouderdomme van 12 en 18.

 Wat jy moet weet

  •   Die Bybel veroordeel seksuele aanranding. Die Bybel praat van ’n seksmal skare wat twee mans wou verkrag wat die stad Sodom ongeveer 4 000 jaar gelede besoek het—’n voorval wat duidelik toon waarom Jehovah daardie stad vernietig het (Genesis 19:4-13). En die Wet wat sowat 3 500 jaar gelede aan Moses gegee is, het bloedskande verbied, insluitende die seksuele aanranding van ’n familielid.—Levitikus 18:6.

  •   Die meeste aanrandings word deur ’n kennis gepleeg. “In twee uit drie verkragtings ken die slagoffer haar aanvaller”, sê die boek Talking Sex With Your Kids. “Hy is nie ’n vreemdeling wat agter ’n bos uitgespring het nie.”

  •   Albei geslagte word seksueel aangerand. In die Verenigde State is omtrent 10 persent van die slagoffers manlik. Volgens die Nasionale Netwerk vir Verkragting, Molestering & Bloedskande (RAINN) kan manlike slagoffers “’n vrees ontwikkel dat die voorval hulle gay sal maak” of dat “hulle nie manlik genoeg is nie”.

  •   Dit is nie verbasend dat seksuele aanranding so algemeen is nie. Die Bybel het voorspel dat baie mense ‘in die laaste dae sonder natuurlike geneentheid, wreedaardig en sonder selfbeheersing sal wees’ (2 Timoteus 3:1-3). Hierdie eienskappe word duidelik gesien in mense wat ander seksueel probeer uitbuit.

  •   Seksuele aanranding is nie die slagoffer se skuld nie. Niemand verdien om seksueel uitgebuit te word nie. Net die oortreder is verantwoordelik vir sy of haar dade. Jy kan nogtans voorsorgmaatreëls tref om die kanse te verminder dat jy seksueel aangerand sal word.

 Wat jy kan doen

  •   Wees voorbereid. Weet vooraf wat jy gaan doen as iemand—selfs iemand met wie jy uitgaan of ’n familielid—jou probeer dwing om seksuele kontak te hê. ’n Jong vrou met die naam Erin stel voor dat jy, om jou op enige vorm van groepsdruk voor te berei, jou potensiële scenario’s kan voorstel en voorberei hoe jy sal reageer. “Dit klink dalk verspot”, sê sy, “maar dit sal die kanse verminder dat jy in ’n werklike situasie ’n slagoffer word.”

     Die Bybel sê: “Let . . . streng op hoe julle wandel, dat dit nie as onwyses is nie, maar as wyses, . . . omdat die dae boos is.”—Efesiërs 5:15, 16.

     Vra jou af: ‘Wat sal ek doen as iemand aan my vat op ’n manier wat my ongemaklik laat voel?’

  •   Maak seker dat jy ’n plan het om weg te kom. RAINN beveel aan dat jy “en jou vriende of familie ’n kodewoord kies wat jy kan gebruik wanneer jy hulle bel om hulle te laat weet dat jy ongemaklik voel, sonder dat die persoon saam met wie jy is, dit besef. Jou vriende of familie kan jou dan kom haal of ’n verskoning uitdink sodat jy kan wegkom.” Jy kan jou baie hartseer spaar deur gevaarlike situasies te vermy.

     Die Bybel sê: “’n Verstandige mens sien onheil kom en vermy dit; onervare mense loop oop oë daarin en boet daarvoor.”—Spreuke 22:3, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

     Vra jou af: ‘Watter plan het ek om weg te kom?’

    Maak seker dat jy altyd ’n plan het om weg te kom

  •   Stel grense—en bly daarby. As jy byvoorbeeld met iemand uitgaan, moet jy en jou vriend bespreek watter soort gedrag gepas en onvanpas is. As die persoon met wie jy uitgaan, dink dat dit verspot is om grense te stel, moet jy nie met hom uitgaan nie. Gaan uit met iemand wat jou waardes respekteer.

     Die Bybel sê: “Die liefde . . . gedra hom nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie.”—1 Korintiërs 13:4, 5.

     Vra jou af: ‘Wat is my waardes? Watter soort gedrag is onwelvoeglik?’