Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Moet ek vriende maak buite my kliek?

Moet ek vriende maak buite my kliek?

 “Ek is gemaklik tussen my groepie vriende, en dit is vir my baie moeilik om vriende buite ons kliek te maak.”—Alan.

 “Ek het ’n klein groepie vriende, en dis hoe ek daarvan hou. Ek is nie iemand wat sommer met mense sal praat wat ek nie ken nie.”—Sara.

 Voel jy ook soos Alan en Sara? Het jy ’n klein groepie goeie vriende en is dit vir jou moeilik om nuwe vriende te maak?

 Dan is hierdie artikel net vir jou!

 Die probleem met ’n kliek

 Daar is niks daarmee verkeerd om deel van ’n klein groepie goeie vriende te wees nie. Om deel van ’n groep te wees, laat jou voel dat jy êrens behoort en dat jy ’n plek het waar mense jou aanvaar nes jy is, met foute en al.

 “Dit is lekker om deel van ’n groep te wees en as ander van jou hou. Wanneer jy jonk is, wil jy net êrens inpas.”—Karen, 19.

 Het jy geweet? Buiten Jesus se 12 apostels, het hy baie ander vriende gehad. Maar drie van sy apostels—Petrus, Jakobus en Johannes—was sy beste vriende.—Markus 9:2; Lukas 8:51.

 Wanneer jy net ’n klein groepie vriende het, kan dit ’n probleem wees. Byvoorbeeld:

  •   Dit kan keer dat jy ander goeie vriendskappe begin.

     “Wanneer jy net vriende is met mense wat soos jy is, keer dit dat jy nuwe dinge ervaar en fantastiese mense leer ken.”—Evan, 21.

  •   Mense kan dink dat jy ’n snob is.

     “Wanneer jy net ’n klein groepie vriende het, kan jy mense laat dink dat jy met niemand anders wil praat nie.”—Sara, 17.

  •   Dit kan maak dat jy ander mense boelie.

     “Jy sal dalk nooit iemand boelie as jy alleen is nie, maar wanneer jy saam met jou vriende is en hulle dit doen, dink jy skielik dis OK—selfs snaaks.”—James, 17.

  •   Dit kan jou in die moeilikheid laat kom—veral as jy enigiets sal doen om deel van die groep te wees.

     “Net een slegte persoon in ’n klein groepie vriende kan die hele groep kry om iets verkeerds te doen.”—Martina, 17.

 Wat jy kan doen

  •   Kyk na jou standaarde.

     Vra jou af: ‘Volgens watter standaarde wil ek lewe? Maak my vriende dit vir my makliker of moeiliker om by hierdie standaarde te bly? Sal ek enigiets doen om hierdie vriende te behou?’

     Bybelwaarheid: “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes.”—1 Korintiërs 15:33.

     “As jou vriende nie dieselfde standaarde as jy het nie, kan jy dinge begin doen wat jy nooit andersins sou gedoen het nie.”—Ellen, 14.

  •   Kyk na wat vir jou belangrik is.

     Vra jou af: ‘Is my groepie vriende vir my belangriker as my standaarde? Wat sal ek doen as ’n vriend iets verkeerds gedoen het?’

     Bybelwaarheid: “Almal vir wie ek geneentheid het, wys ek tereg.”—Openbaring 3:19.

     “As een van jou vriende iets verkeerds gedoen het en die persoon vir jou belangriker is as wat reg en verkeerd is, sal dit dalk moeilik wees om iets te sê.”—Melanie, 22.

  •   Maak nuwe vriende.

     Vra jou af: ‘Sal dit vir my goed wees om ook vriende te maak met mense wat ek nie so goed ken nie?’

     Bybelwaarheid: “Terwyl julle nie uit persoonlike belangstelling ’n oog op net julle eie sake hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander.”—Filippense 2:4.

     “Kinders wat nie gewild is nie, het dalk net ’n moeilike tyd by die huis. Wanneer jy hulle eers leer ken, vind jy gewoonlik uit dat hulle op hulle eie manier ‘awesome’ is.”—Brian, 19.

 Kortliks: Daar is niks daarmee verkeerd om ’n klein groepie goeie vriende te hê nie. Maar dit kan vir jou goed wees om met ander mense ook vriende te maak. Die Bybel sê: “Wie ander ryklik verkwik, sal ook ryklik verkwik word.”—Spreuke 11:25.