Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Wat moet ek oor sport weet?

Wat moet ek oor sport weet?

 Sport kan goed of sleg vir jou wees. Dit hang hoofsaaklik af van watter sportsoort jy speel, hoe jy speel en hoe dikwels jy speel.

 Watter voordele het dit?

 Om sport te speel, kan tot goeie gesondheid bydra. Die Bybel erken dat “liggaamlike oefening ... voordeel” het (1 Timoteus 4:8). “Om sport te speel, is ’n wonderlike manier om aktief te bly”, sê ’n jong man met die naam Ryan. “Dis baie beter as om videospeletjies in die huis te speel.”

 Om sport te speel, kan spanwerk en selfdissipline bevorder. Die Bybel gebruik ’n illustrasie wat op sport gebaseer is, om ’n positiewe les te leer. Dit sê “dat die hardlopers in ’n wedloop almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang”. Dit sê verder: “Elkeen wat aan ’n wedstryd deelneem, beoefen selfbeheersing in alles” (1 Korintiërs 9:24, 25). Wat is die punt? Dit verg selfbeheersing en samewerking om ’n sportsoort volgens die reëls te speel. ’n Tiener met die naam Abigail stem saam. Sy sê: “Sport het my geleer hoe om met ander saam te werk en te kommunikeer.”

 Om sport te speel, kan vriendskappe bou. ’n Wedstryd bring mense nader aan mekaar. “Amper alle sportwedstryde sluit ’n vorm van kompetisie in”, sê ’n jong man genaamd Jordan, “maar as julle dit net vir pret doen, is sport ’n wonderlike manier om tyd saam met vriende deur te bring.”

 Wat is die slaggate?

 Die sportsoort wat jy speel. Die Bybel sê: “Jehovah ondersoek die regverdige sowel as die goddelose, en Sy siel haat beslis elkeen wat geweld liefhet.”—Psalm 11:5.

 Sommige sportsoorte is ongetwyfeld gewelddadig. ’n Jong vrou met die naam Lauren, sê byvoorbeeld: “Die hele punt van boks is om die ander deelnemer met die vuis te slaan. As Christene baklei ons nie, en daarom geniet ons dit nie om te kyk hoe ander mekaar te lyf gaan nie.”

 Om oor na te dink: Regverdig jy die feit dat jy gewelddadige sport speel of kyk omdat jy meen dat dit jou nie gewelddadig sal maak nie? Indien wel, onthou dat Psalm 11:5 sê dat Jehovah die persoon verwerp wat “geweld liefhet”, nie net die persoon wat dit beoefen nie.

 Hoe jy speel. Die Bybel sê: “[Moet] niks uit twisgierigheid of uit egotisme doen nie, maar [ag] met ootmoed die ander hoër as julleself.”—Filippense 2:3.

 Enige aktiwiteit waarby mededingende spanne betrokke is, sal natuurlik ’n sekere mate van kompetisie insluit. Maar as jy meen dat jy ten alle koste moet wen, sal dit net al die pret bederf. “’n Mededingende gees kan ’n mens maklik oorheers”, sê ’n tiener met die naam Brian. “Hoe beter jy ’n sportsoort speel, hoe harder moet jy daaraan werk om nederig te bly.”

 Om oor na te dink: ’n Jong man met die naam Chris erken: “Ons speel elke week sokker, en daar was al beserings.” Vra jou dus af: ‘Watter faktore kan beserings waarskynliker maak? Wat kan ek doen om die risiko van ’n besering te verminder?’

 Hoe dikwels jy speel. Die Bybel sê: ‘Maak seker van die belangriker dinge.’—Filippense 1:10.

 Jy moet prioriteite stel; geestelike dinge moet eerste kom. Die meeste wedstryde kan ’n hele paar ure duur, hetsy jy dit speel of net kyk. “Ek het voorheen met my ma vasgesit oor hoeveel tyd ek gebruik om sport op TV te kyk terwyl ek die tyd beter kon benut”, sê ’n jong vrou met die naam Daria.

Om te veel aandag aan sport te gee, is soos om te veel sout op jou kos te gooi.

 Om oor na te dink: Luister jy wanneer jou ouers raad gee oor jou prioriteite? ’n Jong vrou met die naam Trina sê: “Wanneer ek en my broers en susters sport gekyk het en belangrike pligte verwaarloos het, het my ma ons daaraan herinner dat die spelers betaal word, of ons nou kyk hoe hulle speel of nie. ‘Maar wie betaal julle?’ sou sy vra. Sy het bedoel dat die spelers reeds ’n werk het. Maar as ons ons huiswerk en ander verantwoordelikhede verwaarloos, sou ons nie in die toekoms vir onsself kon sorg nie. My ma het eintlik vir ons gesê dat sport, of ons dit kyk of speel, nie die belangrikste ding in ons lewe moet wees nie.”