Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Is ek ’n perfeksionis?

Is ek ’n perfeksionis?

 As jy

  •   vir elke toets ’n 100 persent wil kry

  •   nuwe dinge vermy omdat jy bang is dat jy dit nie sal regkry nie

  •   dink mense beledig jou as hulle jou net wil reghelp

 . . . , dan is die antwoord op hierdie vraag dalk ja. Maar maak dit regtig saak?

 Wat is fout daarmee om ’n perfeksionis te wees?

 Daar is niks daarmee fout om altyd jou bes te probeer nie. Maar die boek Perfectionism​—What’s Bad About Being Too Good? sê: “Daar is ’n groot verskil tussen ’n gesonde poging om jou bes te doen en ’n skadelike strewe na ’n onbereikbare doelwit. Perfeksionisme kan ’n swaar las wees, want kom ons wees nou eerlik, niemand is volmaak nie.”

 Die Bybel stem hiermee saam. Dit sê: “Daar is geen mens regverdig op die aarde wat voortdurend goed doen” nie (Prediker 7:20). Omdat jy onvolmaak is, sal daar tye wees wanneer jy dinge nie so perfek sal doen nie.

 Is dit vir jou moeilik om te aanvaar? As dit so is, kyk na vier maniere waarop perfeksionisme jou negatief kan beïnvloed.

  1.   Hoe jy jouself beskou. Perfeksioniste stel onredelike hoë standaarde vir hulleself. Dit is ’n resep vir teleurstelling. “As ons realisties is, sal ons besef dat ons nie in alles goed sal wees nie. As ons te min van onsself dink omdat ons nie volmaak is nie, sal ons op die ou einde geen selfvertroue hê nie. Dit kan jou depressief maak.”—Alicia.

  2.   Hoe jy dit beskou wanneer iemand jou wil reghelp. Wanneer iemand ’n perfeksionis wil reghelp, dink die persoon dalk dat sy reputasie aangeval word. Jeremy sê: “Ek voel soos ’n idioot as iemand my reghelp. Wanneer jy ’n perfeksionis is, kan jy nie jou eie beperkings raaksien en die nodige hulp aanvaar nie.”

  3.   Hoe jy ander beskou. Perfeksioniste vind gewoonlik fout met ander mense, en ’n mens kan verstaan hoekom. Anna wat 18 jaar oud is, sê: “Wanneer jy van jouself verwag om dinge perfek te doen, verwag jy dieselfde van ander. Wanneer mense dit nie regkry nie, word jy die heeltyd deur hulle teleurgestel.”

  4.   Hoe ander jou beskou. Moenie verbaas wees as mense jou begin vermy as jy verwag dat hulle alles perfek moet doen nie! ’n Jong meisie met die naam Beth sê: “Dis uitputtend om te probeer om ’n perfeksionis tevrede te stel. Niemand wil in so ’n persoon se geselskap wees nie!”

 Is daar ’n beter manier?

 Die Bybel sê: “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word” (Filippense 4:5). Redelike mense is gebalanseerd en verwag nie te veel van hulleself of van ander mense nie.

 “Daar is al klaar soveel druk van buite. Hoekom nog meer druk op jouself plaas deur ’n perfeksionis te wees? Dit maak alles net te moeilik!”—Nyla.

 Die Bybel sê: ‘Wandel beskeie met jou God’ (Miga 6:8). Mense wat beskeie is, erken hulle beperkings. Hulle pak nie meer aan as wat hulle kan hanteer nie. Hulle mors ook nie tyd omdat hulle onnodig lank vat om iets te doen nie.

 “Ek pak nie te veel op ’n slag aan nie, anders voel dit vir my asof ek nie my verantwoordelikhede goed kan hanteer nie. Ek kan net soveel doen.”—Hailey.

 Die Bybel sê: “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag” (Prediker 9:10). So die oplossing vir perfeksionisme is nie om lui te wees nie. ’n Mens moet eerder hardwerkend wees, maar terselfdertyd ook redelik en beskeie.

 “Ek probeer my werk so goed as moontlik doen, en ek gee my beste. Ek besef dat dit nooit perfek sal wees nie, maar ek is tevrede omdat ek weet dat ek my bes gedoen het.”—Joshua.