Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Om met iemand uit te gaan – Deel 1: Is ek reg om met iemand uit te gaan?

Om met iemand uit te gaan – Deel 1: Is ek reg om met iemand uit te gaan?

Wat beteken dit om met iemand uit te gaan?

  Party mense voel dat om met iemand uit te gaan, net iets lekkers is wat deel van hulle sosiale lewe is. Maar in hierdie artikel verwys ons na die tyd wat ’n paartjie saam spandeer om te sien of hulle goeie huweliksmaats vir mekaar sal wees. So, om met iemand uit te gaan het ’n doel. Dit is nie net ’n manier om die aandag van iemand van die teenoorgestelde geslag te geniet nie.

 Om met iemand uit te gaan, beteken dat jy die een of ander tyd ’n besluit moet neem – of om te trou of om die romantiese verhouding te beëindig. Wanneer jy begin om met iemand uit te gaan, moet jy gereed wees vir een van hierdie twee dinge om te gebeur.

 Die slotsom: As jy glo dat jy reg is om met iemand uit te gaan, moet jy ook glo dat jy reg is om te trou.

Om met iemand uit te gaan sonder die doel om te trou, is soos om na ’n werksonderhoud te gaan sonder die doel om te werk

Is jy reg om met iemand uit te gaan?

  Om met iemand uit te gaan kan tot ’n huwelik lei. So, jy moet dink aan watter eienskappe jy het wat die verhouding sal bevoordeel of sal benadeel. Byvoorbeeld, dink aan die volgende:

  •   Verhoudings in die gesin. Hoe jy jou ouers en broers en susters behandel – veral wanneer jy gestres is – wys dikwels hoe jy jou huweliksmaat sal behandel.

     Bybelwaarheid: “Moenie enige soort wrok koester nie, en laat vaar alle woede, geskree en beledigende taal, saam met alles wat sleg is.” – Efesiërs 4:31.

     Vra jou af: ‘Sal my ouers en my broers en susters sê dat ek hulle met respek behandel? Wanneer ek nie saamstem met een van hulle nie, kan ek kalm daaroor praat of word ek kwaad en stry ek?’

    As jy nie konflik met jou ouers kan hanteer nie, sal jy dit regtig met ’n huweliksmaat kan doen?

  •   Selfopofferend. Wanneer jy getroud is, moet jy dink aan wat jou maat wil hê en sal jy dikwels opofferings moet maak vir hom of haar.

     Bybelwaarheid: “Laat elkeen nie sy eie voordeel bly soek nie, maar dié van die ander persoon.” – 1 Korintiërs 10:24.

     Vra jou af: ‘Moet ek altyd my sin kry? Beskou ander my as redelik? Op watter maniere wys ek dat ek ander se behoeftes bo my eie stel?’

  •   Nederigheid. ’n Goeie huweliksmaat kan erken wanneer hy of sy verkeerd is en opreg sê dat hulle jammer is.

     Bybelwaarheid: “Ons almal maak dikwels foute.” – Jakobus 3:2, voetnoot.

     Vra jou af: ‘Erken ek maklik dat ek ’n fout gemaak het, of maak ek die heeltyd verskonings? Word ek kwaad wanneer iemand my raad gee oor hoe ek op ’n sekere punt kan verbeter?’

  •   Geldsake. ’n Persoon wat geld op ’n verantwoordelike manier hanteer, vermy gewoonlik een van die algemeenste oorsake van stryery in die huwelik.

     Bybelwaarheid: “Wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan bereken nie eers die koste om te sien of hy genoeg het om dit te voltooi nie?” – Lukas 14:28.

     Vra jou af: ‘Kan ek beheer hoeveel geld ek spandeer, of is ek dikwels in die skuld? Hoe het ek gewys dat ek geld op ’n verantwoordelike manier kan hanteer?’

  •   Christelike roetine. As jy een van Jehovah se Getuies is, behoort jy ’n goeie roetine te hê om die Bybel te studeer en die Christelike vergaderinge by te woon.

     Bybelwaarheid: “Gelukkig is dié wat besef dat hulle God nodig het.” – Matteus 5:3.

     Vra jou af: ‘Doen ek moeite om my geloof sterk te hou? Is my geestelike roetine vir my belangrik, of laat ek toe dat ander dinge daarmee inmeng?’

 Die slotsom: Die persoon met wie jy trou, verdien dit om ’n goeie maat te hê. As jy hard daaraan werk om so ’n persoon te wees, sal dieselfde soort persoon meer geneig wees om tot jou aangetrokke te voel.