Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Is ek gereed om uit die huis te trek?

Is ek gereed om uit die huis te trek?

 Die gedagte om uit jou ouers se huis te trek, kan opwindend wees, maar jy kan op dieselfde tyd ook bang voel. Hoe weet jy of jy gereed is om op jou eie te bly?

 Kyk na jou redes

 Daar is baie redes hoekom jy dalk sal besluit om uit die huis te trek — soms is dit nie vir die regte redes nie. Byvoorbeeld, ’n jong man met die naam Mario erken: “Ek wou uit die huis trek om weg te kom van die verantwoordelikhede wat ek by die huis gehad het.”

 Die waarheid is, jy sal heel moontlik minder vryheid hê as jy uittrek. Onya wat 18 jaar oud is, sê: “As jy op jou eie bly, moet jy vir jou eie huis sorg, jou eie kos maak en jou eie rekeninge betaal. Jou ouers gaan nie daar wees om jou te help nie!”

 Die les: Jy moet verstaan hoekom jy uit die huis wil trek om te weet of jy gereed is daarvoor.

 Bereken die koste

 Jesus het gesê: “Wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg het om dit te voltooi nie?” (Lukas 14:28). Hoe kan jy “die koste bereken” as jy uit die huis wil trek? Hoe goed doen jy met die volgende?

  KAN JY GOED MET JOU GELD WERK?

 Die Bybel sê: ‘Geld dien as ’n beskerming.’ — Prediker 7:12.

  •  Is dit vir jou moeilik om geld te spaar?

  •  Spandeer jy maklik baie geld?

  •  Leen jy gereeld geld by ander mense?

 As jou antwoord ja is op enige van hierdie vrae, kan jou droom om op jou eie te bly, vinnig in ’n nagmerrie verander!

 “My broer het uit die huis uitgetrek toe hy 19 jaar oud was. Binne ’n jaar het hy al sy spaargeld opgebruik. Die bank het sy kar teruggeneem omdat hy nie daarvoor betaal het nie, en hy kon nie meer geld leen nie. Hy het gesmeek om terug huis toe te kom.” — Danielle.

 Wat jy nou kan doen: Vra jou ouers hoeveel hulle gewoonlik in ’n maand uitgee. Watter rekeninge kry hulle en hoe werk hulle met hulle inkomste om dit te betaal? Wat doen hulle om te spaar?

 Die les: As jy nou al leer hoe om met jou geld te werk terwyl jy by die huis bly, sal dit jou help om die groot finansiële verantwoordelikhede te hanteer wanneer jy op jou eie bly.

  HET JY SELFDISSIPLINE?

 Die Bybel sê: “Elkeen sal sy eie vrag dra.” — Galasiërs 6:5.

  •  Stel jy altyd dinge uit?

  •  Moet jou ouers jou altyd herinner om jou takies te doen?

  •  Kom jy altyd later huis toe as wat jou ouers gesê het jy moet?

 As jou antwoord ja is op enige van hierdie vrae, sal jy dit moontlik moeiliker vind om verantwoordelik te wees wanneer jy op jou eie bly.

 “Wanneer jy op jou eie bly, is daar dinge wat jy nie regtig sal geniet om te doen nie, maar waarvoor jy tyd moet maak. Niemand gaan vir jou sê om hierdie dinge te doen nie, so jy moet jouself motiveer en by ’n roetine bly.” — Jessica.

 Wat jy nou kan doen: Probeer ’n maand lank om soveel verantwoordelikhede as moontlik by die huis aan te pak. Byvoorbeeld, maak die huis op jou eie skoon, was jou eie klere, doen self die inkopies, kook elke aand kos en was die skottelgoed ná die tyd. Dit sal jou ’n idee gee van hoe dit sal wees as jy op jou eie bly.

 Die les: Jy het selfdissipline nodig as jy op jou eie wil bly.

Om uit die huis te trek sonder om voor te berei, is soos om uit ’n vliegtuig te spring sonder om eers te leer hoe om ’n valskerm te gebruik

  IS JY EMOSIONEEL VOLWASSE?

 Die Bybel sê: “Verwyder dan nou al hierdie dinge van julle: gramskap, toorn, slegtheid, smadende taal.” — Kolossense 3:8.

  •  Is dit vir jou moeilik om met ander oor die weg te kom?

  •  Raak jy gou kwaad?

  •  Wil jy altyd hê dat dinge op jou manier gedoen moet word?

 As jou antwoord ja is op enige van hierdie vrae, sal jy dit moontlik moeilik vind om saam met ’n kamermaat te bly of in die toekoms, ’n huweliksmaat.

 “Om met kamermaats te bly het my gewys wat my swakhede is. Ek het geleer dat ek nie kon verwag dat ander my slegte buie, wat deur stres veroorsaak is, moes verdra nie. Ek moes ’n beter manier vind om die stres te hanteer.” — Helena.

 Wat jy nou kan doen: Leer om met jou ouers en broers en susters oor die weg te kom. Hoe jy die foute hanteer van die mense met wie jy nou bly, wys hoe jy die foute sal hanteer van enigiemand saam met wie jy later sal bly.

 Die les: Om uit die huis te trek is nie ’n manier om weg te kom van jou verantwoordelikhede nie. Dit is ’n belangrike stap waarvoor jy moet voorberei. Hoekom praat jy nie met mense wat dit al reggekry het nie? Vra hulle wat hulle anders sou gedoen het of wat hulle wens hulle toe geweet het, wat hulle vandag weet. Dit is goed om dit te doen met enige groot besluit!