Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Is ek behep met my voorkoms?

Is ek behep met my voorkoms?

 Vrae: Is ek behep met my voorkoms?

  1.   Watter stelling beskryf jou gevoelens die beste?

    •  Ek is nooit tevrede met hoe ek lyk nie.

    •  Ek is soms tevrede met hoe ek lyk.

    •  Ek is altyd tevrede met hoe ek lyk.

  2.   Wat omtrent jou liggaam sou jy die graagste wou verander?

    •  Lengte

    •  Gewig

    •  Liggaamsbou

    •  Hare

    •  Gelaatskleur

    •  Spiere

    •  Ander

  3.   Voltooi die volgende sin.

     Ek voel die onsekerste oor my liggaam . . .

    •  wanneer ek op die skaal klim.

    •  wanneer ek in die spieël kyk.

    •  wanneer ek my met ander vergelyk (vriende, modelle, rolprentsterre).

  4.   Voltooi die volgende sin.

     Ek weeg my . . .

    •  elke dag.

    •  elke week.

    •  minder as een keer per week.

  5.   Watter uitdrukking beskryf jou gevoelens die beste?

    •  Swak selfbeeld. (Voorbeeld: “Elke keer wanneer ek in die spieël kyk, verbeel ek my ek sien ’n vet, lelike figuur. Ek het my selfs al uitgehonger om gewig te probeer verloor.”—Serena.)

    •  Gebalanseerde selfbeeld. (Voorbeeld: “Daar gaan altyd iets omtrent ons voorkoms wees waarvan ons nie hou nie, maar party dinge moet ons maar net aanvaar. Dis sinloos om ongelukkig te wees oor iets wat ons nie kan verander nie.”—Natanya.)

 Die Bybel sê dat ons nie meer van onsself moet dink “as wat dit nodig is om te dink nie” (Romeine 12:3). Dit is goed—selfs nodig—om in ’n sekere mate aandag aan jouself te skenk. Dit is byvoorbeeld waarom jy jou tande borsel en na jou higiëne omsien.

 Maar sê nou jy is dikwels ontevrede met jou voorkoms—miskien in so ’n mate dat jy behep is daarmee? As dit die geval is, wonder jy dalk . . .

 ‘Waarom het ek ’n swak selfbeeld?’

 Daar kan verskeie redes wees, soos:

  •  Invloed van die media. “Jongmense word gebombardeer met beelde wat ons laat voel dat ons altyd plankdun en pragtig moet wees. En as ons nie so lyk nie, voel ons baie lelik!”—Kellie.

  •  Invloed van ouers. “Ek het opgemerk dat, as ’n moeder behep is met haar voorkoms, die dogter dikwels ook so is. Dit geld ook vir vaders en seuns.”—Rita.

  •  Swak selfbeeld. “Mense wat behep is met hulle voorkoms, wil heeltyd hê dat ander hulle moet verseker dat hulle goed lyk. Sulke mense is uitputtend!”—Jeanne.

 Ongeag wat die oorsaak is, wonder jy dalk . . .

 ‘Moet ek iets aan my voorkoms doen?’

 Kyk na wat ander jongmense sê.

 “Jy kan nie altyd die dinge omtrent jou voorkoms verander waarvan jy nie hou nie; dit is dus beter om dit te aanvaar. As jy dit doen, sal hierdie dinge ook vir ander minder opvallend wees.”—Rori.

  “Probeer so gesond as moontlik lewe. As jy gesond is, sal jy lyk soos jy behoort te lyk. En as iemand jou nie kan waardeer vir wie jy is (eerder as vir hoe jy lyk) nie, is daardie persoon nie jou vriend nie.”—Olivia.

 Die les: Doen jou bes om so goed moontlik te lyk. Maar moet jou nie oor die res kwel nie. Dit kan gevaarlik wees as jy te besorg is oor jou voorkoms. (Sien “ Julia se verhaal”.)

 Aan die ander kant kan ’n gebalanseerde gesindheid jou help om ’n realistiese beskouing van jouself te hê, soos ’n jong vrou met die naam Erin ondervind het. “Natuurlik is daar dinge waaroor ek onseker voel”, sê sy, “maar ek het opgelet dat ek net sleg voel wanneer ek op die verkeerde dinge fokus. Nou doen ek gereeld oefeninge en eet ek gesond. En die res kom vanself reg.”

 Hoe om ware skoonheid te verkry

 Wanneer jy ’n gebalanseerde beskouing van jou voorkoms het, sal jy goed voel (en lyk). Die Bybel kan jou help. Dit spoor jou aan om die volgende aan te kweek:

  •  Vergenoegdheid. “Dit is beter om te geniet wat ons het as om iets anders te begeer, want dit maak geen sin om die wind na te jaag nie.”—Prediker 6:9, Contemporary English Version.

  •  ’n Gebalanseerde beskouing van oefening. “Liggaamlike oefening het min voordeel.”—1 Timoteus 4:8.

  •  Innerlike skoonheid. “Die mens sien wat vir die oë sigbaar is; maar Jehovah sien wat die hart is.”—1 Samuel 16:7.

 “Ons gesigsuitdrukking wys hoe ons oor onsself voel. As iemand vergenoegd is, kan ander dit sien en voel hulle outomaties aangetrokke tot daardie persoon.”—Sarah.

 “Skoonheid word dikwels gou raakgesien. Maar jou persoonlikheid en jou goeie eienskappe is wat mense die langste sal onthou.”—Phylicia.

 Sien ook Spreuke 11:22; Kolossense 3:10, 12; 1 Petrus 3:3, 4.