Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Ek het ’n reël gebreek – Wat nou?

Ek het ’n reël gebreek – Wat nou?

 Amper alle gesinne het reëls, dalk vir dinge soos hoe laat jy by die huis moet wees, hoeveel tyd jy op elektroniese toestelle kan spandeer en hoe jy ander moet behandel – om maar net ’n paar te noem.

 Wat as jy ’n gesinsreël gebreek het? Jy kan niks verander aan wat gebeur het nie, maar jy kan keer dat dinge erger word. Hierdie artikel sal vir jou wys hoe jy dit kan doen.

 Wat om nie te doen nie

  •   As jou ouers nie weet dat jy ’n reël gebreek het nie, kan jy dalk probeer om weg te steek wat jy verkeerd gedoen het.

  •   As hulle weet dat jy die reël gebreek het, kan jy dalk verskonings maak of iemand anders blameer.

 Nie een van hierdie twee is goeie opsies nie. Hoekom nie? Want as jy jou foute wegsteek of flou verskonings maak, is dit onvolwasse. Dit wys net vir jou ouers dat jy nog moet grootword.

 “Dis nooit ’n goeie idee om te jok nie. Mettertyd sal jou ouers uitvind wat regtig gebeur het, en die straf sal nog erger wees as wat dit sou gewees het as jy net van die begin af vir hulle die waarheid vertel het.” – Diana.

 ’n Beter manier

  •   Erken wat jy gedoen het. Die Bybel sê: “Iemand wat sy oortredings geheim hou, sal nie sukses hê nie” (Spreuke 28:13). Jou ouers weet dat jy nie perfek is nie. Maar die vraag is: Kan jy eerlik wees?

     “Jou ouers sal jou makliker vergewe as jy die waarheid praat. Wanneer jy die waarheid praat, sal jou ouers jou meer vertrou.” – Olivia.

  •   Sê jy is jammer. Die Bybel sê: “Almal moet nederig wees” (1 Petrus 5:5). Jy moet nederig wees om te sê “Ek is jammer” sonder om enige verskonings te maak.

     “Wanneer mense altyd verskonings maak, voel hulle minder en minder skuldig wanneer hulle iets verkeerds gedoen het. Op die ou end sal hulle glad nie eers meer skuldig voel oor wat hulle verkeerd gedoen het nie.” – Heather.

  •   Aanvaar die gevolge. Die Bybel sê: “Luister na dissipline” (Spreuke 8:33). Moenie kla nie, en aanvaar enige straf wat jou ouers vir jou gee.

     “Hoe meer jy kla oor die straf wat jy gekry het, hoe erger sal jou situasie word. Vind ’n manier om die straf te aanvaar, en moenie fokus op wat jy verloor het nie.” – Jason.

  •   Wen weer jou ouers se vertroue. Die Bybel sê: ‘Raak ontslae van die ou persoonlikheid, wat met julle vorige lewenswyse ooreenkom’ (Efesiërs 4:22). Hou aan om goeie besluite te maak sodat jou ouers jou weer kan vertrou.

     “As jy gereeld goeie besluite maak en vir jou ouers wys dat jy nie weer dieselfde fout sal maak nie, kan jy met tyd weer hulle vertroue wen.” – Karen.

 WENK: Doen meer as wat hulle van jou vra sodat jy vir hulle kan wys dat hulle jou kan vertrou. Byvoorbeeld, wanneer jy volgende keer uitgaan, laat weet jou ouers wanneer jy op pad huis toe is – selfs al gaan jy nie laat wees nie. Dit sal hulle help om te sien dat jy wil hê dat hulle jou weer moet vertrou.