Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Waarom moet ek eerlik wees?

Waarom moet ek eerlik wees?

 Waarom party mense oneerlik is

 In vandag se wêreld kan dit lyk asof eerlikheid jou sal benadeel. Party redeneer dalk:

  •   ‘As ek nie vir my ouers lieg nie, sal ek moontlik gehok word.’

  •   ‘As ek nie in hierdie toets kul nie, sal ek dit miskien druip.’

  •   ‘As ek nie hierdie item steel nie, sal ek daarvoor moet spaar.’

 ‘Maar hoekom is dit ’n probleem?’ vra party dalk. ‘Almal is mos oneerlik, of nie?’

 Die antwoord op hierdie vraag is nee. Baie mense—insluitende ’n groot aantal jongmense—glo dat dit voordele inhou om eerlik te wees, en met goeie rede. Die Bybel sê: “Wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai” (Galasiërs 6:7). Met ander woorde, ons dade het altyd gevolge—hetsy goeie of slegte gevolge.

 Kyk byvoorbeeld na party slegte gevolge wat mense al ondervind het omdat hulle gelieg het.

  “Ek het vir my ma daaroor gelieg dat ek met ’n sekere seun gesels het. Sy het duidelike bewyse gehad dat ek nie die waarheid praat nie. Nadat ek drie keer vir haar gelieg het, was my ma moeg vir my leuens. Ek is vir twee weke gehok en kon ’n maand lank nie my selfoon gebruik of TV kyk nie. Ek het nooit weer vir my ouers gelieg nie!”—Anita.

 Iets om oor te dink: Waarom sal dit dalk ’n ruk neem voordat Anita se ma haar weer vertrou?

 Die Bybel sê: “Noudat julle onwaarheid afgelê het, moet julle derhalwe die waarheid praat, elkeen van julle met sy naaste.”—Efesiërs 4:25.

  “Ek het vir my ouers gelieg en gedink dat ek daarmee weggekom het totdat hulle my later gevra het om weer te verduidelik wat gebeur het. My storie was so ver van die waarheid dat ek nie eens die besonderhede kon onthou nie. Wanneer jy van die begin af die waarheid praat, het jy nie daardie probleem nie!”—Anthony.

 Iets om oor te dink: Hoe kon Anthony hierdie ongemaklike situasie vermy het?

 Die Bybel sê: “Die Here het ’n afsku van leuenaars; Hy hou van betroubare mense.”—Spreuke 12:22; Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

  “Ek het ’n vriendin wat altyd ekstra besonderhede by haar stories voeg. Sy oordryf en vertel dinge buite konteks. Ek is lief vir haar en probeer om dit nie te ernstig op te neem nie. Maar dis baie moeilik om haar te glo of te vertrou.”—Yvonne.

 Iets om oor te dink: Hoe kan die feit dat Yvonne se vriendin oordryf en “klein” onwaarhede vertel haar reputasie raak?

 Die Bybel sê: “Ons [wil] ons in alles eerlik . . . gedra.”—Hebreërs 13:18.

’n Gekraakte fondasie kan ’n hele struktuur verswak; net so kan oneerlikheid jou goeie reputasie skade aandoen

 Waarom eerlikheid voordele inhou

 Kyk nou na ’n paar van die goeie gevolge wat dit kan inhou as jy eerlik is.

  “’n Vrou wat voor my geloop het, het geld laat val. Ek het haar geroep en haar geld teruggegee. Sy was baie dankbaar. Sy het gesê: ‘Dit was baie gaaf van jou. Daar is min mense wat eerlik genoeg is om dit te doen.’ Dit het goed gevoel om geprys te word omdat ek die regte ding gedoen het!”—Vivian.

 Iets om oor te dink: Waarom was die vrou dalk verbaas dat iemand so eerlik was? Hoe het eerlikheid Vivian tot voordeel gestrek?

 Die Bybel sê: “Gelukkig is dié wat . . . te alle tye regverdigheid beoefen.”—Psalm 106:3.

  “Ons werk as ’n gesin in die skoonmaakbedryf, en soms sien ons ’n muntstuk op die vloer lê wanneer ons ’n kantoor skoonmaak. Wanneer dit gebeur, sit ons die muntstuk op die naaste lessenaar. Een werknemer was amper geïrriteerd omdat ons so eerlik is—‘Dis net ’n paar sent!’ het sy gesê. Maar ons het altyd haar vertroue gehad.”—Julia.

 Iets om oor te dink: Hoe sal Julia se reputasie as ’n eerlike persoon haar dalk help wanneer sy ’n getuigskrif nodig het vir ’n ander werk?

 Die Bybel sê: “Doen jou uiterste bes om jou goedgekeur voor God te stel, as ’n werker wat hom oor niks hoef te skaam nie.”—2 Timoteus 2:15.

  “Ek is vir 80 uur se werk betaal in plaas van 64. Hoewel dit lekker sou gewees het om die ekstra geld te hou, kon ek dit net nie doen nie. Ek het dit onder die aandag gebring van die bestuurder van die rekeningafdeling, en sy was baie dankbaar. Die maatskappy doen baie goed, maar dit sou vir my soos diefstal gevoel het as ek die geld gehou het.”—Bethany.

 Iets om oor te dink: Is dit minder oneerlik om van ’n maatskappy te steel as van ’n persoon?

 Die Bybel sê: “Die slinkse persoon is vir Jehovah verfoeilik, maar Sy intimiteit is met die regskapenes.”—Spreuke 3:32.