Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Vriendskap of verliefdheid?​—Deel 2: Watter seine stuur ek?

Vriendskap of verliefdheid?​—Deel 2: Watter seine stuur ek?

 Jy hou daarvan om daar te wees wanneer ’n vriend iemand nodig het om mee te gesels. En die afgelope ruk gesels jy en een vriend baie. Die probleem is dat dit iemand van die teenoorgestelde geslag is. Jy sê vir jouself: ‘Ons is net vriende’, en jy neem aan dat die ander persoon ook so dink. Moet jy bekommerd wees?

 Wat kan gebeur

 Dit is nie verkeerd om vriende van die teenoorgestelde geslag te hê nie. Maar sê nou jy ontwikkel ’n spesiale vriendskap met een van hulle? Dan kan hy of sy maklik dink dat jy meer as vriende wil wees.

 Is dit wat jy wil hê die persoon moet dink? Kyk na ’n paar maniere waarop dit kan gebeur, selfs sonder dat jy dit bedoel.

  •   Jy gee iemand te veel aandag.

     “Al kan jy nie iemand anders se gevoelens beheer nie, moet jy nie olie op die vuur gooi deur aan die een kant te sê dat julle net vriende is en aan die ander kant die persoon heeltyd te bel om te gesels nie.”—Sierra.

  •   Jy reageer op iemand se aandag.

     “Ek het nie eerste teksboodskappe begin stuur nie, maar toe ’n meisie vir my baie teksboodskappe begin stuur, het ek elke keer teruggeskryf. Daarna was dit vir my moeilik om vir haar te verduidelik dat ons net vriende is.”—Richard.

  •   Jy flirt met iemand.

     “Party mense dink dat dit ’n speletjie is om te flirt. Hulle speel met ander se gevoelens, al wil hulle nie in ’n verhouding wees nie. Ek het dit al baie sien gebeur, en iemand kry altyd seer.”—Tamara.

 Die slotsom: Gereelde kommunikasie en aandag is tekens van romantiese belangstelling.

 Waarom dit saak maak

  •   Dit maak die ander persoon seer.

     Die Bybel sê: “’n Uitgestelde verwagting maak die hart siek” (Spreuke 13:12). Wat sou jy verwag as iemand heeltyd vir jou seine van romantiese belangstelling stuur?

     “Daar is ’n gesegde wat sê: ‘Jy hou iemand aan ’n lyntjie.’ Dit is soos om ’n vis te vang, maar jy laat dit nie los nie en jy katrol dit ook nie in nie. Dit kan in ’n verhouding gebeur. As jy nie in ’n verhouding belangstel nie, maar jy hou iemand ‘aan ’n lyntjie’, sal jy daardie persoon baie seermaak.”—Jessica.

  •   Jy kry ’n slegte reputasie.

     Die Bybel sê: “[Moenie] uit persoonlike belangstelling ’n oog op net julle eie sake hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander” (Filippense 2:4). Hoe sou jy iemand beskryf wat net aan hom- of haarself dink? Watter uitwerking kan dit op die persoon se reputasie hê?

     “Ek dink nie dat ’n ou wat met meisies flirt, aantreklik is nie. En daar is dalk ’n groter kans dat iemand wat flirt, ontrou sal wees in die huwelik. Jy gebruik iemand net om jou goed te laat voel oor jouself, en dit is selfsugtig.”—Julia.

 Die slotsom: Mense wat seine van romantiese belangstelling stuur sonder dat hulle ’n verhouding wil hê, maak ander seer, sowel as hulleself.

 Wat jy kan doen

  •   Die Bybel sê dat “jonger manne soos broers” en “jonger vroue soos susters” behandel moet word “met alle kuisheid” (1 Timoteus 5:1, 2). As jy dit doen, sal jy jou vriendskappe met diegene van die teenoorgestelde geslag beskerm.

     “As ek getroud was, sou ek nie met iemand anders se man of vrou flirt nie. Dit is nou, terwyl ek ongetroud is, goeie oefening vir my om gebalanseerd te wees wanneer dit by die teenoorgestelde geslag kom.”—Leah.

  •   Die Bybel sê: “In die oorvloed van woorde ontbreek die oortreding nie” (Spreuke 10:19). Hierdie beginsel is nie net van toepassing op gesprekke nie, maar ook op teksboodskappe—insluitende hoe dikwels jy dit stuur en waaroor dit gaan.

     “Jy hoef regtig nie elke dag vir ’n meisie teksboodskappe te stuur tensy jy met haar wil uitgaan nie.”—Brian.

  •   Die Bybel sê: “Die wysheid van bo is allereers kuis” (Jakobus 3:17). ’n Drukkie kan onskuldig wees, maar dit kan as ’n teken van romantiese belangstelling beskou word.

     “Ek probeer my gesprekke vriendelik hou, maar ek hou die persoon op ’n afstand—letterlik en figuurlik.”—Maria.

 Die slotsom: Ondersoek jou gedrag met die teenoorgestelde geslag noukeurig. “Goeie vriendskappe is skaars”, sê ’n tiener met die naam Jennifer, “en jy wil dit nie bederf omdat jy verkeerde seine gestuur het nie.”

 Wenke

  •   Luister na die dinge wat ander mense sê. As iemand vra: “Gaan jy en so-en-so uit?” kan dit dalk toon dat julle vriendskap te heg geword het.

  •   Behandel al jou vriende van die teenoorgestelde geslag dieselfde. Moenie meer aandag aan een persoon gee as aan ander nie.

  •   Wees versigtig wanneer jy teksboodskappe stuur—insluitende hoe dikwels jy dit stuur, waaroor dit gaan en watter tyd van die dag jy dit stuur. “Jy het geen rede om vir iemand van die teenoorgestelde geslag in die middel van die nag teksboodskappe te stuur nie”, sê ’n meisie met die naam Alyssa.