Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek ophou uitstel?

Hoe kan ek ophou uitstel?

Is jy moeg om altyd laat klaar te kry met jou huistake en skoolwerk? Jy moet regtig ophou om dinge uit te stel! Hierdie artikel sal jou help om op te hou om uit te stel, selfs al

Lees hierdie artikel en  beantwoord ons vrae oor uitstellery.

 Die Bybel beskryf ’n slegte gevolg van uitstellery. Dit sê: “Hy wat die wind dophou, sal nie saad saai nie; en hy wat na die wolke kyk, sal nie oes nie.”—Prediker 11:4.

 Kyk na ’n paar faktore wat tot die probleem kan bydra en na wat jy kan doen om op te hou om uit te stel.

 Die taak lyk oorweldigend.

 Kom ons wees nou eerlik—party take lyk so oorweldigend dat dit makliker is om dit eenvoudig uit te stel. Hier is ’n paar beter idees.

  •   Verdeel die projek in kleiner dele. “Al weet ek dat ek ver agter is, probeer ek die agterstand inhaal deur een ding op ’n slag te doen,” sê ’n meisie met die naam Melissa.

  •   Begin onmiddellik. “Begin sodra jy die taak kry, al beteken dit net dat jy dit op jou lys sit van alles wat jy moet doen of gou ’n paar idees neerskryf voordat jy dit vergeet.”—Vera.

  •   Vra hulp. Jou ouers en onderwysers het waarskynlik al ’n soortgelyke uitdaging gehad. Waarom vra jy hulle nie hoe hulle dit te bowe gekom het nie? Hulle kan jou dalk help om jou idees agtermekaar te kry en ’n plan te maak.

 Wenk “Stel ’n rooster op. Dit beteken natuurlik dat jy georganiseerd moet wees en daarby moet bly, maar dit werk—jy kry alles gedoen wanneer dit gedoen moet word.”—Abbey.

 Jy voel net nie lus daarvoor nie.

 Die take wat jy moet doen, sluit alte dikwels juis die dinge in wat vir jou die verveligste is. Wat kan jy dan doen? Probeer die volgende.

  •   Dink aan ’n rede om dit vroeg te doen. Dink byvoorbeeld hoe goed jy sal voel wanneer jy klaar is. “Dit is vir my baie lekker wanneer ek iets betyds gedoen het of wanneer ek voor die tyd klaar is en uiteindelik kan ontspan,” sê ’n meisie met die naam Amy.

  •   Dink aan die gevolge. Wanneer jy uitstel, vergroot jy die stres en verminder jy jou kanse op sukses. Die Bybel sê: “Wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai.”—Galasiërs 6:7.

  •   Skuif die sperdatum vorentoe in jou gedagtes. “Dit help my as ek my verbeel dat die sperdatum van ’n taak ’n dag of twee vroeër is,” sê ’n meisie met die naam Alicia. “Dan kan ek weer daarna kyk, en ek het nog ’n dag of twee oor.”

 Wenk “Dit hang alles af van jou geestesgesteldheid. Sê vir jouself dat jy gaan doen wat jy moet doen en dat niks in jou pad sal staan nie. Wanneer ek dit vir myself sê, word alles gedoen wat gedoen moet word.”—Alexis.

 Jy is reeds te besig.

 “Mense sê dikwels dat ek ’n uitsteller is,” sê ’n seun met die naam Nathan, “maar dis onregverdig! Hulle besef nie hoe besig ek is nie!” As jy soos Nathan voel, probeer die volgende wenke.

  •   Doen maklike take eerste. “Iemand het my eenkeer geleer dat jy ’n taak wat in minder as vyf minute voltooi kan word, dadelik moet doen,” sê ’n meisie met die naam Amber. “Dit sluit dinge in soos om skoon te maak, jou klere op te hang, die skottelgoed te was en iemand te bel.”

  •   Stel prioriteite. Die Bybel sê dat ons moet ‘seker maak van die belangriker dinge’ (Filippense 1:10). Hoe kan jy dit in jou daaglikse lewe toepas? “Ek maak ’n lys van alles wat ek moet doen en skryf neer wanneer dit klaar moet wees,” sê ’n meisie met die naam Anna. “Maar die belangrikste is: Ek skryf neer wanneer ek aan elke projek gaan werk en wanneer ek daarmee klaar wil wees.”

 Lyk dit beperkend? Dink weer! Die feit is: Wanneer jy ’n rooster opstel, beheer jy jou tyd en laat jy nie toe dat jou tyd jou beheer nie. En dit verminder jou stres. “As ek ’n plan het, kalmeer dit my en help dit my om te bepaal wat werklik belangrik is,” sê ’n meisie met die naam Kelly.

  •   Maak seker dat jou aandag nie afgelei word nie. “Ek vertel almal in die huis wanneer ek aan my projek gaan begin werk,” sê Jennifer. “As daar enigiets is wat hulle wil hê ek moet doen, vra ek hulle om my asseblief te sê voordat ek begin. Ek skakel ook my selfoon en e-poswaarskuwings af.”

 Wenk “Wat jy ook al moet doen, sal nie verdwyn totdat jy dit doen nie. In plaas van gedurig te dink aan wat jy nog moet doen, kan jy dit liewer maar net doen. Dan kan jy vir die res van die dag ontspan.”—Jordan.