Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Waarom moet ek die stereotipe in die media verwerp?—Deel 2: Vir seuns

Waarom moet ek die stereotipe in die media verwerp?—Deel 2: Vir seuns

 Watter stereotipe skep die media van seuns?

 Kyk na hierdie woorde en beantwoord dan die vrae wat daarop volg.

Kolom 1

Kolom 2

Rebels

Respekvol

Selfsugtig

Lojaal

Aggressief

Medelydend

Lui

Hardwerkend

Roekeloos

Verantwoordelik

Bedrieglik

Eerlik

  1.   Watter woorde beskryf die manier waarop tienerseuns gewoonlik uitgebeeld word in die media (insluitende rolprente, TV-programme en advertensies)?

  2.   Watter woorde beskryf die soort reputasie wat jy wil hê?

 Waarskynlik kom jou antwoorde op die eerste vraag uit kolom 1 en jou antwoorde op die tweede vraag uit kolom 2. As dit die geval is, is dit goed. Waarom? Omdat die media se uitbeelding van seuns waarskynlik nie weerspieël wie jy werklik is nie—of die soort persoon wat jy moet word nie. Vind uit waarom.

  •   Die media beeld seuns dikwels uit as gewelddadig en rebels. Die boek Why Boys Don’t Talk​—and Why It Matters sê dat die gewildste manlike karakters op TV, in rolprente en in sport “fisies baie sterk en aggressief is. . . . Die boodskap is dat jy net cool is as jy aggressief en rebels is.”

     Iets om oor te dink: Sal ’n aggressiewe houding jou help om ’n beter vriend, medewerker of huweliksmaat te word? Wat verg groter krag wanneer iemand jou ontstel—om aan jou woede uiting te gee of om dit te beheers? Watter een van die twee sou toon dat jy ’n ware man is?

     Die Bybel sê: “Hy wat nie gou toornig word nie, is beter as ’n sterk man, en hy wat sy gees beheers, as die een wat ’n stad inneem.”—Spreuke 16:32.

    As jy jou humeur beheers, is jy sterker as ’n soldaat

  •   Die media beeld seuns uit as behep met seks. “In rolprente en op TV verander seuns dikwels meer van meisie as wat hulle van klere verander”, sê die 17-jarige Chris. Gary, 18, sê selfs: “Die tipiese seun in die media is behep met seks.” Party rolprente laat dit byvoorbeeld lyk asof ’n seun se enigste doel in die lewe is om na partytjies toe te gaan, te drink en seks te hê.

     Iets om oor te dink: Weerspieël hierdie stereotipe die soort reputasie wat jy wil hê? Behandel ’n ware man vroue as seksvoorwerpe, of behandel hy hulle met respek?

     Die Bybel sê: “Elkeen van julle moet weet hoe om sy eie liggaam te beheer in heiligheid en eer, nie met gierige, onbeheerste seksuele hartstog nie.”—1 Tessalonisense 4:4, 5, NW.

  •   Die media beeld seuns uit as onverantwoordelik. In talle gewilde rolprente en TV-programme word tienerseuns dikwels uitgebeeld as lui en onbevoeg. Dit is dalk waarom party volwassenes min vertroue in die potensiaal van seuns het. Gary, wat vroeër aangehaal is, sê: “Toe ek 16 geword het, het ek gesukkel om ’n werk te kry omdat werkgewers in my omgewing slegs vroue in diens wou neem. Hulle het gedink dat alle tienerseuns onverantwoordelik of onbetroubaar is!”

     Iets om oor te dink: Is die stereotipe van die onverantwoordelike en onbetroubare tienerseun regverdig? Hoe kan jy toon dat jy anders is?

     Die Bybel sê: “Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges ’n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.”—1 Timoteus 4:12, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

 Wat jy moet weet

  •   Die media kan ’n kragtige uitwerking op jou hê. Die media kan jou byvoorbeeld laat dink dat jy die jongste modegier moet volg om gewild te wees. “In advertensies sien jy hoe ouens moet aantrek en hoe hulle deur meisies omring is”, sê die 17-jarige Colin. “Dit laat ’n mens voel dat jy onmiddellik daardie klere wil gaan koop. Ek het dit al ’n paar keer gedoen!”

     Iets om oor te dink: Weerspieël die manier waarop jy aantrek, wie jy werklik is, of volg jy net ander na? Wie vind in werklikheid daarby baat wanneer jy geld uitgee om altyd volgens die jongste mode aan te trek?

     Die Bybel sê: “Moenie langer na hierdie stelsel van dinge gevorm word nie.”—Romeine 12:2.

  •   Dit kan jou in werklikheid minder aantreklik maak vir meisies as jy die stereotipe volg. Kyk wat ’n paar van hulle gesê het:

    •  “Ek hou meer van ’n ou wat getrou is aan homself as een wat onseker is en ander probeer beïndruk deur voor te gee dat hy iemand anders is. ’n Seun wat te hard probeer, lyk op die ou einde net belaglik!”—Anna.

    •  “Adverteerders laat seuns voel dat hulle sekere toestelle of ’n sekere voorkoms moet hê om vir meisies aantreklik te wees. Maar wanneer meisies ouer word, begin hulle verby hierdie dinge kyk. Hulle sien eerder ’n man se eienskappe en kyk hoe hy ander behandel. Meisies hou byvoorbeeld daarvan as seuns eerlik en lojaal is.”—Danielle.

    •  “Die ‘mooi ou’ is gewoonlik trots, en ek wil nie saam met so iemand wees nie. Al is jy die aantreklikste ou in die wêreld, sal jy lelik wees as jou persoonlikheid nie by jou voorkoms pas nie.”—Diana.

     Iets om oor te dink: Die Bybel sê van die seun Samuel: “Samuel het toegeneem in grootte en in guns by die HERE sowel as by die mense” (1 Samuel 2:26, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Aan watter eienskappe moet jy aandag skenk sodat jy so ’n reputasie kan hê?

     Die Bybel sê: “Gedra julle soos manne.”—1 Korintiërs 16:13.

 Wat jy kan doen

  •   Bevraagteken die stereotipe. Slaan ag op hierdie woorde in die Bybel: “Alles wat in die wêreld is—die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele—het nie hulle oorsprong by die Vader nie, maar het hulle oorsprong by die wêreld.”—1 Johannes 2:16.

     Die media buit hierdie dinge uit en bevorder die idee dat dit normaal is. Leer dus om te bevraagteken wat jy sien. Dit is dikwels niks meer as die skepping van geldgierige bemarkers nie.

  •   Besluit self wie jy wil wees. Die Bybel sê: “Beklee julle met die nuwe persoonlikheid, wat deur juiste kennis vernuwe word na die beeld van die Een wat dit geskep het”—nie na die beeld wat deur die media bevorder word nie.—Kolossense 3:10.

     Om jou te help om hierdie raad te volg, dink weer aan die eienskappe wat jy aan die begin van hierdie artikel gekies het—die eienskappe waarvoor jy bekend wil staan. Waarom begin jy hierdie eienskappe nie nou aankweek of verbeter nie?

  •   Vind goeie rolmodelle. “Hy wat met wyses wandel, sal wys word”, sê die Bybel (Spreuke 13:20). Watter mans in jou lewe toon dat hulle wys is? Party is dalk in jou gesin, soos jou pa of jou oom. Ander is miskien volwasse vriende of kennisse. Jehovah se Getuies het talle voorbeeldige mans in die Christengemeente. En die Bybel bevat ook rolmodelle, insluitende Titus, wat ’n goeie voorbeeld vir jongmense gestel het.—Titus 2:6-8.

     Wenk: Gebruik die boek Volg hulle geloof na om te leer omtrent Bybelvoorbeelde van uitstekende rolmodelle vir mans, soos Abel, Noag, Abram, Samuel, Elia, Jona, Josef en Petrus.