Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Skepping of evolusie?​—Deel 3: Waarom moet ek aan die skepping glo?

Skepping of evolusie?​—Deel 3: Waarom moet ek aan die skepping glo?

“As jy aan die skepping glo, sal mense dalk dink dat jy dom is, dat jy vashou aan kinderagtige oortuigings wat jou ouers jou geleer het of dat jy deur godsdiens gebreinspoel is.”—Jeanette.

 Voel jy soos Jeanette? Indien wel, twyfel jy dalk of jy aan die skepping moet glo. Niemand hou immers daarvan om as oningelig beskou te word nie. Wat kan help?

 Besware teen geloof in die skepping

 1. As jy aan die skepping glo, sal mense dink dat jy teen die wetenskap gekant is.

 “My onderwyseres het gesê dat mense wat aan die skepping glo, net te lui is om ’n verduideliking te vind vir hoe die wêreld werk.”—Maria.

 Wat jy moet weet: Mense wat sulke dinge sê, is nie bewus van die feite nie. Bekende wetenskaplikes soos Galileo en Isaac Newton het in ’n Skepper geglo. Hulle geloof het nie gebots met hulle liefde vir die wetenskap nie. Net so vind party wetenskaplikes vandag dat die wetenskap nie in stryd is met geloof in die skepping nie.

 Probeer die volgende: Tik die frase (met aanhalingstekens) “verduidelik waarom sy aan God glo” of “verduidelik waarom hy aan God glo” in die soekvenster van die Wagtoring—AANLYN BIBLIOTEEK vir voorbeelde van deskundiges op die gebied van die geneeskunde en die wetenskap en wat aan die skepping glo. Wat het hulle gehelp om tot hierdie gevolgtrekking te kom?

 Die slotsom: As jy aan die skepping glo, beteken dit nie dat jy teen die wetenskap gekant is nie. Inteendeel, as jy meer oor die natuur leer, kan dit jou geloof in die skepping versterk.—Romeine 1:20.

2. As jy aan die Bybel se skeppingsverslag glo, sal mense dink dat jy ’n godsdiensfanatikus is.

 “Baie mense beskou geloof in die skepping as ’n grap. Hulle dink dat die Genesisverslag net ’n storie is.”—Jasmine.

 Wat jy moet weet: Mense het dikwels wanopvattings oor die Bybel se skeppingsverslag. Party voorstanders van die skeppingsleer beweer byvoorbeeld dat die aarde onlangs geskep is of dat lewe binne ses dae van 24 uur elk geskep is. Die Bybel ondersteun nie een van hierdie beskouings nie.

  •   Genesis 1:1 sê eenvoudig: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.” Dit is nie in stryd met wetenskaplike bewyse dat die aarde miljarde jare oud is nie.

  •   Die woord “dag” wat in Genesis gebruik word, kan na lang tydperke verwys. In Genesis 2:4 word die woord “dag” selfs gebruik om al ses skeppingsdae saam te beskryf.

 Die slotsom: Die Bybel se skeppingsverslag stem ooreen met wetenskaplike feite.

 Dink na oor jou oortuigings

 Geloof in die skepping beteken nie dat jy “blinde geloof” moet hê nie. Dit is eerder gebaseer op logiese redenasies. Dink aan die volgende:

 Alles wat jy in die lewe ondervind, leer jou dat iets wat ontwerp is, ’n ontwerper moet hê. Wanneer jy ’n kamera, ’n vliegtuig of ’n huis sien, kom jy logieserwys tot die slotsom dat iemand dit ontwerp het. Hoekom sal jy anders redeneer wanneer dit kom by die menseoog, ’n voël in die lug of ons planeet, die aarde?

 Iets om oor te dink: Ingenieurs boots dikwels ontwerpe na wat hulle in die natuur sien sodat hulle hulle eie uitvindings kan verbeter, en dit is te verstane dat hulle erkenning vir hulle werk wil ontvang. Is dit logies om erkenning te gee aan die menslike uitvinder en sy werk, maar nie aan die Skepper en Sy ontwerpe, wat ver verhewe is bo dié van mense nie?

Is dit redelik om te dink dat ’n vliegtuig ontwerp is, maar nie ’n voël nie?

 Hulpmiddele om die bewyse te ondersoek

 Jy kan jou geloof in die skepping opbou deur die bewyse in die natuur te ondersoek.

 Probeer die volgende: Tik die frase (met aanhalingstekens) “is dit ontwerp” in die soekvenster van die Wagtoring—AANLYN BIBLIOTEEK. Kies ’n paar titels waarin jy belangstel uit die reeks “Is dit ontwerp?” in die Ontwaak! Kyk in elke artikel wat merkwaardig is omtrent die aspek van die natuur wat bespreek word. Hoe oortuig dit jou dat daar ’n Ontwerper is?

 Delf dieper: Gebruik die volgende brosjures om die bewyse van die skepping in groter besonderhede te ondersoek.

  •  Is lewe geskep?

    •   Die aarde is volmaak geleë en toegerus om lewe te onderhou.—Sien bladsye 4-​10.

    •   Voorbeelde van ontwerp word in die natuur gevind.—Sien bladsye 11-​17.

    •   Die Bybel se skeppingsverslag in Genesis stem met die wetenskap ooreen.—Sien bladsye 24-​28.

  •  Vyf belangrike vrae oor die oorsprong van lewe

    •   Lewe kon nie vanself uit lewelose materie ontstaan het nie.—Sien bladsye 4-7.

    •   Lewende organismes is te kompleks om deur onbeheerde, spontane gebeurtenisse te kon ontstaan het.—Sien bladsye 8-​12.

    •   Die genetiese kode se vermoë om inligting te berg, is beter as dié van moderne tegnologie.—Sien bladsye 13-​21.

    •   Alle lewe het nie van ’n gemeenskaplike voorouer afgestam nie. Die fossielverslag toon dat vername diersoorte skielik verskyn het en nie geleidelik ontwikkel het nie.—Sien bladsye 22-​29.

 “Die natuur is vir my die oortuigendste bewys dat God bestaan—van die diere hier op die aarde tot die heelal en die orde wat daarin bestaan.”—Thomas.