Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek versoeking weerstaan?

Hoe kan ek versoeking weerstaan?

 Die apostel Paulus het geskryf: “Wanneer ek wil doen wat reg is, is die slegte by my aanwesig” (Romeine 7:21). Het jy al ooit so gevoel? As jy al so gevoel het, kan hierdie artikel jou help om die versoeking te weerstaan om verkeerde dinge te doen.

 Wat jy moet weet

 Versoeking en groepsdruk gaan baie keer hand aan hand. Die Bybel sê dat ‘slegte omgang nuttige gewoontes bederf’ (1 Korintiërs 15:33). Die druk van ander en ook die media kan begeertes in jou hart laat ontwikkel wat dan veroorsaak dat jy in die versoeking kan kom. Dit kan selfs veroorsaak dat jy agter ander aangaan om slegte dinge te doen. — Eksodus 23:2.

 “As jy graag wil hê dat mense van jou moet hou en jou moet aanvaar, kan jy maklik dieselfde dinge doen wat hulle doen net om hulle gelukkig te maak.” — Jeremy.

 Iets om oor te dink: Hoekom is dit dalk moeiliker om versoeking te weerstaan as jy te veel omgee oor wat ander van jou dink? — Spreuke 29:25.

 Die slotsom: Moenie toelaat dat druk van ander jongmense jou in die versoeking bring om nie by jou standaarde te bly nie.

 Wat jy kan doen

 Maak seker van wat jy glo. As jy nie seker is van wat jy glo nie, kan jy soos ’n pop word wat deur ander mense beheer word. Dit is baie beter om die Bybel se raad te volg, wat sê: “Maak seker van alles; hou vas aan wat goed is” (1 Tessalonisense 5:21). Hoe beter jy verstaan wat jy glo, hoe makliker sal dit wees om daarby te bly en om die versoeking te weerstaan om verkeerde dinge te doen.

 Iets om oor te dink: Hoekom glo jy dat God se standaarde van reg en verkeerd goed is vir jou?

 “Ek het al gesien dat mense my meer respekteer wanneer ek vasstaan vir wat ek glo en versoekings weerstaan.” — Kimberly.

 ’n Goeie voorbeeld in die Bybel: Daniël. Toe Daniël heel moontlik nog ’n tiener was, het hy “in sy hart besluit” dat hy God se wette sou gehoorsaam. — Daniël 1:8.

As jy nie seker is van wat jy glo nie, kan jy soos ’n pop word wat deur ander mense beheer word.

 Ken jou swakhede. Die Bybel praat van “begeertes wat eie is aan die jeug” — die begeertes wat veral sterk is wanneer jy jonk is (2 Timoteus 2:22). Dit sluit nie net seksuele begeertes in nie, maar ook die begeerte om by ander in te pas en om van jou ouers onafhanklik te wees voordat jy daarvoor gereed is.

 Iets om oor te dink: Die Bybel sê dat ‘elkeen beproef word deurdat hy deur sy eie begeerte meegesleep en verlok word’ (Jakobus 1:14). Met watter verkeerde begeerte sukkel jy die meeste?

 “Wees eerlik met jouself oor die versoekings waarmee jy die meeste sukkel. Doen dan navorsing oor hoe om hierdie versoekings te weerstaan, en skryf die punte neer wat jy kan gebruik. Dan sal jy volgende keer weet wat om te doen wanneer jy in die versoeking kom en dit kan weerstaan.” — Sylvia.

 ’n Goeie voorbeeld in die Bybel: Dawid. Soms het hy voor die druk van ander en selfs sy eie begeertes ingegee. Maar Dawid het uit sy foute geleer en probeer om beter te doen. Hy het tot Jehovah gebid: “Skep in my ook ’n suiwer hart . . . en plaas in my ’n nuwe, standvastige gees.” — Psalm 51:10.

 Kry beheer. Die Bybel sê: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie” (Romeine 12:21). Dit beteken dat jy nie voor versoeking hoef in te gee nie. Jy kan kies om die regte ding te doen.

 Iets om oor te dink: Hoe kan jy in beheer bly en seker maak dat jy die regte ding doen wanneer jy in die versoeking kom om iets verkeerds te doen?

 “Ek dink aan hoe ek sal voel as ek voor die versoeking sou ingee. Sal ek beter voel? Miskien, maar net vir ’n klein rukkie. Sal ek later goed daaroor voel? Nee, dit sal my net erger laat voel. Is dit regtig die moeite werd? Nee!” — Sophia.

 ’n Goeie voorbeeld in die Bybel: Paulus. Hy het erken dat hy slegte neigings gehad het, maar hy het dit onder beheer gehad. Hy het geskryf dat hy sy liggaam streng gedissiplineer het en dit as ’n slaaf gelei het. — 1 Korintiërs 9:27.

 Die slotsom: Jy is die een wat besluit hoe jy versoekings gaan hanteer.

 Onthou, versoekings is tydelik. Melissa, wat 20 jaar oud is, sê: “Baie dinge wat op hoërskool vir my ’n groot versoeking was, is nou niks nie. Wanneer ek mooi daaroor dink, gee dit my die versekering dat die dinge wat nou vir my ’n versoeking is, ook sal verbygaan en dat ek eendag sal terugkyk en besef dat my lewe baie beter is omdat ek die versoekings weerstaan het.”