Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek ’n bietjie privaatheid kry?

Hoe kan ek ’n bietjie privaatheid kry?

 Waarom meng ouers in?

 Jou ouers sê dat hulle maar net bekommerd is. Maar jy beskou dit as ’n skending van jou privaatheid. Byvoorbeeld:

  •   ’n Tiener met die naam Erin sê: “My pa sal sommer my selfoon vat, aandring op my wagwoord en na al my boodskappe kyk. As ek hom probeer keer, dink hy dat ek iets het om weg te steek.”

  •   Denise, wat nou in haar vroeë 20’s is, onthou hoe haar ma altyd die telefoonrekening deurgegaan het. “Sy sou na elke nommer kyk en my dan vra wie se nommer dit is en waaroor ek met daardie persoon gepraat het.”

  •   ’n Tiener met die naam Kayla sê dat haar ma eenkeer haar dagboek gelees het. “Ek het baie van my gevoelens daarin neergeskryf—party van hulle was oor haar! Daarna het ek opgehou om ’n dagboek te hou.”

 Die slotsom: Jou ouers is verantwoordelik vir jou welsyn en jy het geen beheer oor hoe streng hulle hierdie verantwoordelikheid gaan uitoefen nie. Sal dit partykeer voel asof hulle te streng is? Miskien. Die goeie nuus is dat daar dinge is wat jy kan doen om die gevoel dat iemand in jou lewe inmeng beter te hanteer.

 Wat jy kan doen?

 Wees openhartig. Die Bybel sê dat ons “ons in alles eerlik wil gedra” (Hebreërs 13:18). Probeer om altyd eerlik en openhartig met jou ouers te wees. Hoe meer jy dit doen, hoe groter is die moontlikheid dat hulle jou meer privaatheid sal gee.

 Iets om oor te dink: Wat is jou reputasie wanneer dit kom by betroubaarheid? Is jy altyd betyds terug? Is jy geheimsinnig oor jou vriendskappe? Steek jy dinge vir hulle weg?

  “Ek moet ook iets van my kant af doen. Ek praat openlik met my ouers oor wat in my lewe aangaan. Ek vertel hulle alles wat hulle wil weet, en daarom vertrou hulle my en gee hulle my privaatheid.”—Delia.

 Wees geduldig. Die Bybel sê: “Stel julleself voortdurend op die proef” (2 Korintiërs 13:5). Dit neem tyd om aan ander te bewys dat jy betroubaar is, maar dit is die moeite werd.

 Iets om oor te dink: Jou ouers was ook tieners. Hoe dink jy hou dit verband met die feit dat hulle belangstel in jou lewe?

 “Ek dink ouers onthou die foute wat hulle gemaak het en wil nie hê dat hulle tieners dieselfde foute moet maak nie.”—Daniel.

 Betoon empatie. Probeer dinge uit jou ouers se oogpunt sien. Die Bybel sê dat ’n bekwame vrou “waak oor die werksaamhede van haar huisgesin” en dat ’n goeie pa sy kinders grootmaak “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” (Spreuke 31:27; Efesiërs 6:4). Daar is nie ’n kortpad hiervoor nie. Die enigste manier waarop jou ouers dit kan doen, is om by jou lewe betrokke te wees.

 Iets om oor te dink: Sê nou jy was ’n ouer—met alles wat jy oor tieners weet—sou jy jou seun of dogter toelaat om algehele privaatheid te hê, sonder dat jy enige vrae vra?

  Wanneer jy ’n tiener is, lyk dit dalk asof jou ouers ‘inbreuk maak’ op jou privaatheid. Maar noudat ek ’n jong volwassene is, kan ek sien waarom ouers dit moet doen. Hulle doen dit omdat hulle jou liefhet.”—James.