Spring na inhoud

Waarom laat my ouers my nie toe om enige pret te hê nie?

Waarom laat my ouers my nie toe om enige pret te hê nie?

Stel jou die volgende toneel voor:

Jy wil na ’n partytjie toe gaan, maar jy is nie seker of jou ouers jou sal toelaat om te gaan nie. Watter opsie sal jy kies?

  1.  MOENIE VRA NIE—GAAN NET

  2.  MOENIE VRA NIE—MOENIE GAAN NIE

  3.  VRA—EN KYK WAT GEBEUR

 1. MOENIE VRA NIE—GAAN NET

 Waarom jy dalk hierdie opsie oorweeg: Jy wil jou vriende beïndruk deur vir hulle te wys hoe onafhanklik jy is. Jy voel dat jy beter weet as jou ouers, of jy respekteer nie juis hulle oordeel nie.—Spreuke 14:18.

 Die gevolge: Jou vriende sal dalk beïndruk wees, maar hulle sal ook iets omtrent jou leer—dat jy bedrieglik is. As jy bereid is om jou ouers te bedrieg, sal jy dalk bereid wees om jou vriende te bedrieg. As jou ouers uitvind, sal hulle seergemaak voel en meen dat jy hulle vertroue misbruik het, en jy sal waarskynlik gehok word!—Spreuke 12:15.

 2. MOENIE VRA NIE—MOENIE GAAN NIE

 Waarom jy dalk hierdie opsie oorweeg: Jy dink aan die uitnodiging en besluit dat die aktiwiteit nie aan jou standaarde voldoen nie of dat party wat genooi is, nie goeie assosiasie sal wees nie (1 Korintiërs 15:33; Filippense 4:8). Aan die ander kant wil jy miskien gaan, maar jy het nie die moed om jou ouers te vra nie.

 Die gevolge: As jy nie gaan nie omdat jy weet dat dit ’n slegte idee is, sal jy met groter selfvertroue vir jou vriende kan sê waarom jy nie gegaan het nie. Maar as jy nie gaan nie net omdat jy nie die moed het om jou ouers te vra nie, sal jy dalk op die ou end by die huis sit en tob en voel dat jy die enigste een is wat nie pret het nie.

 3. VRA—EN KYK WAT GEBEUR

 Waarom jy dalk hierdie opsie oorweeg: Jy erken jou ouers se gesag oor jou en jy respekteer hulle oordeel (Kolossense 3:20). Jy is lief vir jou ouers en wil hulle nie seermaak deur skelm uit die huis te sluip nie (Spreuke 10:1). Jy het dalk ook die geleentheid om jou saak te stel.

 Die gevolge: Jou ouers sal voel dat jy hulle liefhet en respekteer. En as hulle dink dat jou versoek redelik is, sal hulle miskien ja sê.

Waarom ouers moontlik nee sal sê

Soos lewensredders op ’n strand, is jou ouers in ’n beter posisie om gevaar te sien

 Een rede kan soos volg toegelig word: As jy ’n keuse het, sal jy waarskynlik verkies om by ’n strand te swem waar daar lewensredders is. Waarom? Want terwyl jy in die water baljaar, is jy nie baie bewus van gevaar nie. Maar die lewensredders kan gevare beter van hulle uitkykplek af sien. Net so is jou ouers, omdat hulle meer kennis en ondervinding het, moontlik bewus van gevare wat jy nie sien nie. Soos die lewensredders op die strand, is dit nie jou ouers se doel om jou pret te bederf nie, maar om jou te help om gevare te vermy wat jou van vreugde in die lewe kan beroof.

 Hier is nog ’n rede: Jou ouers wil jou baie graag beskerm. Liefde beweeg hulle om ja te sê wanneer hulle kan, maar om nee te sê wanneer hulle moet. Wanneer jy hulle toestemming vra om iets te doen, vra hulle hulle af of hulle ja kan sê en dan met die gevolge kan saamlewe. Hulle sal slegs vir hulleself—en vir jou—ja sê as hulle redelik oortuig is dat jy niks sal oorkom nie.

Hoe om jou kanse op ’n ja te vergroot

Wat jy kan doen

 Eerlikheid: Vra jou af: ‘Waarom wil ek nou eintlik gaan? Is dit omdat ek die aktiwiteit geniet, of is dit omdat ek by my portuurs wil inpas? Is dit omdat iemand tot wie ek aangetrokke voel, daar gaan wees?’ Wees dan eerlik met jou ouers. Hulle was ook jonk, en hulle ken jou goed. Gevolglik sal hulle waarskynlik in elk geval weet wat jou ware beweegredes is. Hulle sal jou eerlikheid waardeer, en jy sal by hulle wysheid baat vind (Spreuke 7:1, 2). Maar as jy nie eerlik is nie, breek jy hulle vertroue in jou af en sal jou kanse om ’n ja te hoor, al hoe kleiner word.

 Tydsberekening: Moenie jou ouers met versoeke bombardeer wanneer hulle net van die werk af by die huis kom of terwyl hulle op ander dinge konsentreer nie. Praat met hulle wanneer hulle meer ontspanne is. Maar moenie tot die laaste oomblik wag en dan druk op hulle probeer uitoefen vir ’n antwoord nie. Jou ouers sal nie daarvan hou as hulle oorhaastig moet besluit nie. Vra vroegtydig en gee hulle tyd om daaroor te dink.

 Inhoud: Moenie vaag wees nie. Verduidelik presies wat jy wil doen. Ouers voel onrustig as hulle ’n antwoord kry soos “Ek weet nie”, veral wanneer hulle jou gevra het: “Wie gaan daar wees?” “Sal daar ’n verantwoordelike volwassene wees?” of “Hoe laat sal jy by die huis wees?”

 Gesindheid: Moenie jou ouers as vyande beskou nie. Beskou hulle as deel van jou span—want dit is tog wat hulle is. As jy jou ouers as vriende beskou, sal jy waarskynlik nie stryerig klink nie en sal hulle heel moontlik meer tegemoetkomend wees.

 Wys vir jou ouers dat jy volwasse genoeg is om hulle besluit te aanvaar en te respekteer. As jy dit doen, sal hulle jou respekteer. En volgende keer sal hulle dalk meer geneig wees om te kyk of hulle ja kan sê.