Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek my gewete oplei?

Hoe kan ek my gewete oplei?

 Met watter van die volgende dinge kan jou gewete vergelyk word?

  •   ’n kompas

  •   ’n spieël

  •   ’n vriend

  •   ’n regter

 Die regte antwoord is al vier. Hierdie artikel sal verduidelik hoekom.

 Wat is die gewete?

 Jou gewete is daardie klein stemmetjie binne jou wat vir jou sê wat reg en verkeerd is. Die Bybel sê dat dit “soos ’n geskrewe wet in die mens se hart” is (Romeine 2:15, Contemporary English Version). ’n Goeie gewete help jou om mooi te dink oor ’n besluit wat jy gaan neem of oor ’n besluit wat jy alreeds geneem het.

  •   Jou gewete is soos ’n kompas. Dit lei jou in die regte rigting sodat jy gevare kan vermy.

  •   Jou gewete is soos ’n spieël. Dit wys wat jou waardes is en wie jy van binne is.

  •   Jou gewete is soos ’n goeie vriend. Dit kan jou goeie raad gee en jou help om suksesvol te wees – as jy daarna luister.

  •   Jou gewete is soos ’n regter. Dit sê vir jou wanneer jy iets verkeerds doen.

’n Goeie gewete kan jou help om wyse besluite te maak

 Die slotsom: Jou gewete is iets baie belangrik wat jou kan help om (1) wyse besluite te maak en (2) te wys dat jy jammer is oor ’n fout en dit probeer regmaak.

 Hoekom moet jy jou gewete oplei?

 Die Bybel sê: “Behou ’n goeie gewete” (1 Petrus 3:16). Dit is moeilik om dit te doen as jou gewete nie opgelei is nie.

 “Ek was nie altyd eerlik met my ouers oor waar ek was nie en het dit ’n geheim gehou. My gewete het my eers gepla, maar later van tyd het ek nie gedink dat dit so erg is nie.” – Jennifer.

 Uiteindelik het Jennifer se gewete haar beweeg om vir haar ouers te sê wat aangaan en om eerlik met hulle te wees.

 Iets om oor te dink: Hoe kon Jennifer se gewete haar vroeër gewaarsku het?

 “Dis moeilik en stresvol om ’n dubbele lewe te lei. Wanneer jou gewete jou toelaat om een slegte besluit te maak, word dit makliker om nog ’n slegte besluit te maak.” – Matthew.

 Party mense ignoreer hulle gewete heeltemal. Die Bybel sê: “Hulle het glad nie meer ’n gevoel vir wat reg en wat verkeerd is nie” (Efesiërs 4:19). Die Good News Translation sê: “Hulle het geen skaamte nie.”

 Iets om oor te dink: Is mense wat nie skuldig voel oor iets wat hulle verkeerds gedoen het nie, se lewe regtig beter? Watter probleme sal hulle op die ou einde hê?

 Die slotsom: Om ’n goeie gewete te hê, moet jou “denkvermoë geoefen [wees] deur dit te gebruik, sodat [jy] kan onderskei wat reg en wat verkeerd is”. – Hebreërs 5:14.

 Hoe kan jy jou gewete oplei?

 Om jou gewete op te lei, het jy ’n voorbeeld nodig van hoe jy moet optree. Dan kan jy jou optrede met daardie voorbeeld vergelyk. Party mense volg voorbeelde wat gestel word deur:

  •   familie en kultuur

  •   ander jongmense

  •   beroemde mense

 Maar wat die Bybel sê oor hoe ons moet optree, is baie beter as hierdie voorbeelde. Dit verbaas ons nie, want die Bybel is “deur God geïnspireer”, die Een wat ons gemaak het en wat weet wat die beste vir ons is. – 2 Timoteus 3:16.

 Kyk na ’n paar voorbeelde.

 DIE BYBEL SE STANDAARD: “Ons wil ons in alles eerlik gedra.” – Hebreërs 13:18.

  •   Hoe kan hierdie standaard jou gewete beïnvloed wanneer jy dit oorweeg om oneerlik te wees in ’n toets, om vir jou ouers te lieg of om te steel?

  •   Hoe dink jy kan dit jou nou en in die toekoms help as jou gewete jou beweeg om in alles eerlik te wees?

 DIE BYBEL SE STANDAARD: “Vlug vir seksuele onsedelikheid.” – 1 Korintiërs 6:18.

  •   Hoe kan hierdie standaard jou gewete beïnvloed wanneer jy dit oorweeg om na pornografie te kyk of om seks voor die huwelik te hê?

  •   Hoe kan dit jou nou en in die toekoms help as jou gewete jou beweeg om vir seksuele onsedelikheid te vlug?

 DIE BYBEL SE STANDAARD: “Wees goed vir mekaar, betoon intense medelye, en vergewe mekaar vryelik.” – Efesiërs 4:32.

  •   Hoe kan hierdie standaard jou beïnvloed wanneer jy probleme met jou boetie, sussie of ’n vriend het?

  •   Hoe kan dit jou nou en in die toekoms help as jou gewete jou beweeg om te vergewe en medelye te hê?

 DIE BYBEL SE STANDAARD: “Jehovah . . . haat elkeen wat geweld liefhet.” – Psalm 11:5.

  •    Hoe moet hierdie standaard jou keuse van flieks, TV-programme en video-speletjies beïnvloed?

  •   Hoe kan dit jou nou en in die toekoms help as jou gewete jou beweeg om gewelddadige vermaak te vermy?

 WARE VERHAAL: “Ek het vriende wat gewelddadige video-speletjies gespeel het, en ek het dit ook gedoen. Toe het my pa vir my gesê dat ek nie meer daardie speletjies mag speel nie. So ek het dit net gespeel wanneer ek by my vriende gekuier het. Wanneer ek huis toe gekom het, het ek nie daaroor gepraat nie. My pa het my gevra wat fout is en dan het ek net gesê dat ek oukei is. Maar eendag het ek Psalm 11:5 gelees en begin sleg voel oor wat ek besig was om te doen. Ek het besef dat ek nie meer daardie video-speletjies moet speel nie. Hierdie keer het ek opgehou. My voorbeeld het ook een van my vriende beweeg om op te hou om hierdie gewelddadige video-speletjies te speel.” – Jeremy.

 Iets om oor te dink: Wanneer het Jeremy se gewete begin werk, en op watter stadium het hy daarna begin luister? Wat leer jy uit Jeremy se verhaal?

 Die slotsom: Jou gewete wys wie jy is en wat vir jou belangrik is. Wat sê jou gewete oor jou?