Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan die Bybel my help? — Deel 2: Maak Bybellees lekker

Hoe kan die Bybel my help? — Deel 2: Maak Bybellees lekker

 “Die Bybel kan vervelig lyk as jy nie weet hoe om dit op die regte manier te lees nie”, sê ’n tiener met die naam Will.

 Wil jy graag uitvind wat die geheim is om Bybellees te geniet? Hierdie artikel kan jou help.

 Laat die Bybel lewe

 Stel belang in wat jy lees. Jy kan die volgende probeer:

  1.   Kies ’n Bybelverhaal wat jy graag wil studeer. Jy kan iets wat in die Bybel gebeur het of ’n Evangelieverslag kies. Of jy kan een van die gedramatiseerde Bybelvoorlesings op jw.org kies.

  2.   Lees die Bybelverhaal. Jy kan dit vir jouself lees of saam met jou familie of vriende hardop lees. Een persoon kan die verteller wees terwyl die ander die karakters speel.

  3.   Probeer een of meer van die volgende voorstelle:

    •   Teken prente om te wys wat in die verhaal gebeur het. Of teken ’n reeks eenvoudige prentjies om te wys wat in ’n spesifieke deel van die verhaal gebeur het. Gebruik opskrifte om te beskryf wat in die verhaal aangaan.

    •   Teken ’n diagram. Byvoorbeeld, terwyl jy oor ’n getroue karakter lees, skryf die persoon se eienskappe en wat die persoon gedoen het, neer. Verbind dit dan met die seëninge wat die persoon gekry het.

    •   Maak asof die verhaal ’n nuusberig is. Gee ’n verslag uit verskillende oogpunte. Sluit ook “onderhoude” in met die hoofkarakters en ooggetuies.

    •   Een van die karakters in die verhaal het ’n verkeerde besluit gemaak. Maar wat as hy ’n ander keuse gemaak het? Stel jou voor hoe dinge dan sou uitgedraai het. Dink byvoorbeeld aan die geval toe Petrus gesê het dat hy nie vir Jesus ken nie (Markus 14:66-72). Hoe kon hy die druk beter hanteer het?

    •   As jy baie kreatief voel, hoekom skryf jy nie jou eie drama wat op ’n Bybelverhaal gebaseer is nie. Sluit lesse in wat uit die verhaal geleer kan word. — Romeine 15:4.

      Jy kan die Bybel laat lewe!

 Doen ondersoek!

 As jy die details goed deurgaan, kan jy skatte in die verhaal kry. Om die waarheid te sê, partykeer is selfs net ’n woord in ’n Bybelverhaal belangrik.

 Byvoorbeeld, vergelyk Matteus 28:7 met Markus 16:7.

  •    Hoekom het Markus die detail ingesluit dat Jesus binnekort aan die dissipels “en Petrus” sou verskyn?

  •  Wenk: Markus was nie ’n ooggetuie van wat gebeur het nie, so hy het heel moontlik sy informasie by Petrus gekry.

  •  Die skat: Hoekom het Petrus bly gevoel toe hy hoor dat Jesus hom weer wou sien? (Markus 14:66-72). Hoe het Jesus gewys dat hy ’n goeie vriend van Petrus is? Hoe kan jy Jesus se voorbeeld volg en ’n goeie vriend vir ander wees?

 Wanneer jy die Bybel laat lewe en die details ondersoek, sal jy dit meer geniet om die Bybel te lees!