Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Wat as my punte swak is op skool?

Wat as my punte swak is op skool?

 “Ek sien hoe party van my klasmaats net in die klas sit sonder ’n handboek en met oorfone aan. Hulle luister na musiek terwyl die onderwyser praat. En hierdie leerders wonder hoekom hulle druip! Dan is daar mense soos ek wat hulle beste gee, baie hard studeer en nog steeds swak punte kry. Ek weet regtig nie hoekom dit gebeur nie. Dit voel definitief nie lekker om swak punte te kry nadat ek ’n week lank tot laat in die aand gestudeer het nie.” – Yolanda.

 Het jy al soos Yolanda gevoel? Om die waarheid te sê, dit kan jou mismoedig maak om swak punte te kry – of om die hele tyd net swak punte te kry.

 Party jongmense wat nie goed doen op skool nie, hou dalk op om te probeer om goeie punte te kry. Party besluit sommer om nie meer skool toe te gaan nie. Albei hierdie opsies lyk dalk soos ’n uitweg, maar daar is ’n ander manier om die probleem op te los. Kyk na die volgende ses stappe wat jy kan neem om beter punte te kry.

 Wat jy kan doen

  •   Woon elke klas by. Jy dink dalk dat almal dit alreeds weet, maar as jy te veel klasse mis, sal jy verseker swak punte kry.

     “In my skool is die kinders wat van die skool af weggebly het, die kinders wat nie regtig omgegee het oor hulle punte nie. Dit het net probleme vir hulle veroorsaak.” – Matthew.

     Bybelwaarheid: “Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes.” – Galasiërs 6:7.

  •   Maak die beste van elke klas. Om net in die klas te wees, is alreeds ’n goeie begin. Maar wanneer jy daar is, moet jy jou beste doen om die meeste uit die klas te kry. Neem goeie notas. Probeer verstaan wat die onderwyser sê. As dit toegelaat word, vra vrae gedurende die klas.

     “Ek vra baie vrae gedurende ’n klas omdat ek al opgelet het dat ’n onderwyser ’n onderwerp beter sal verduidelik wanneer hy of sy weet dat ’n leerder dit nie verstaan nie.” – Olivia.

     Bybelwaarheid: “Skenk . . . aandag aan hoe julle luister.” – Lukas 8:18.

  •   Moenie oneerlik wees nie. Dit is verkeerd om oneerlik te wees. Daar is baie maniere om oneerlik te wees op skool. Een manier is om ander se werk af te skryf. Dit is nie net oneerlik nie, maar dit gaan jou nie help om enigiets te leer nie.

     “As jy nie iets verstaan nie, moenie die antwoorde van ander leerders se toetse afskryf nie. Jy help regtig nie jouself deur oneerlik te wees nie. In plaas daarvan om probleme op jou eie op te los, leer jy jouself om van ander afhanklik te wees.” – Jonathan.

     Bybelwaarheid: “Doen jou eie werk goed, en dan sal jy iets hê om op trots te wees.” – Galasiërs 6:4, Contemporary English Version.

  •   Stel huiswerk eerste. As dit moontlik is, doen eers jou huiswerk voordat jy ander aktiwiteite doen – veral voordat jy ontspan. a As jy dit doen, sal jy nog lekkerder kan ontspan as jou huiswerk klaar is!

     “Ek het huiswerk eerste gestel, en dit het ’n verskil aan my punte gemaak. Wanneer ek by die huis gekom het, wou ek baie graag gaan slaap of na musiek luister. Maar ek het probeer om eers my huiswerk te doen en dan te ontspan.” – Calvin.

     Bybelwaarheid: “Maak [seker] van die belangriker dinge.” – Filippense 1:10.

  •   Vra vir hulp. Moenie skaam wees om hulp van ander te aanvaar nie. Vra jou ouers vir raad. Vra jou onderwyser om jou te help om beter punte te kry. In party gevalle kan jy dalk ook hulp kry van ’n privaatonderwyser.

     “Gaan reguit na die onderwyser toe. Vra jou onderwyser om jou te help om die vak te verstaan en om jou punte te verbeter. Die onderwyser sal heel moontlik beïndruk wees met hoe graag jy wil slaag en sal jou wil help.” – David.

     Bybelwaarheid: “As daar baie raadgewers is, lei dit tot sukses.” – Spreuke 15:22.

  •   Gebruik elke geleentheid, en maak die beste daarvan. In party lande is daar bonusvrae in toetse wat jou kan help om jou punte te verbeter. Jy kan ook vra om ekstra take te doen om jou punte te verbeter. As jy ’n toets druip, kan jy vra vir die geleentheid om dit oor te skryf.

    Om jou punte te verbeter is soos om ’n instrument te leer speel. Dis harde werk, maar dit is die moeite werd

     “As ek my punte in ’n vak wil verbeter, moet ek die eerste stap neem. Ek vra my onderwysers of daar ekstra take is wat ek kan doen of enige van my werk oor kan doen om beter punte te kry.” – Mackenzie.

     Bybelwaarheid: “Elke soort harde werk hou voordele in.” – Spreuke 14:23.

a Vir nog voorstelle om jou studiegewoontes te verbeter, sien die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek my huiswerk klaarmaak?