Spring na inhoud

Sê nou ek haat skool?

Sê nou ek haat skool?

Wat jy nodig het

 ’n Positiewe beskouing van die leerproses. Probeer om die hele prentjie te sien. Nie alles in die leerplan lyk dalk asof dit prakties is nie—ten minste nie nou nie. Maar om ’n verskeidenheid vakke te leer, sal jou ’n beter begrip van die wêreld om jou gee. Dit sal jou help om “alles vir alle soorte mense” te word sodat jy met mense uit verskillende agtergronde kan gesels (1 Korintiërs 9:22). Jy sal op die minste jou denkvermoë verbeter—iets wat jou beslis op die lange duur sal help.

Om deur die skool te kom, kan wees soos om jou pad deur ’n digte oerwoud oop te kap—maar jy kan dit doen as jy die regte hulpmiddele het

 ’n Positiewe beskouing van jou onderwyser. As jy dink dat jou onderwyser vervelig is, moet jy op die onderwerp konsentreer, nie op die persoon nie. Onthou dat jou onderwyser waarskynlik al tientalle of selfs honderde kere dieselfde les aan ander klasse gegee het. Daarom is dit dalk vir hom moeilik om dieselfde entoesiasme oor die onderwerp te hê as wat hy aan die begin gehad het.

 Wenk: Maak notas, vra respekvol vir nog inligting en wees entoesiasties oor die onderwerp. Entoesiasme is aansteeklik.

 ’n Positiewe beskouing van jou vermoëns. Skool kan jou verborge talente na vore bring. Paulus het aan Timoteus geskryf: ‘Wakker die gawe van God wat in jou is, soos ’n vuur aan’ (2 Timoteus 1:6). Timoteus het blykbaar die een of ander gawe van die heilige gees ontvang. Maar sy “gawe” moes ontwikkel word sodat dit nie ongebruik sou bly of verlore sou gaan nie. Jou akademiese vermoëns is natuurlik nie direk deur God aan jou gegee nie. Nietemin is die talente wat jy het, uniek aan jou. Skool kan jou help om vermoëns te ontdek en te ontwikkel wat jy nie eers geweet het jy het nie.