Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Skepping of evolusie?—Deel 4: Hoe kan ek my geloof in die skepping verduidelik?

Skepping of evolusie?—Deel 4: Hoe kan ek my geloof in die skepping verduidelik?

Jy glo aan die skepping, maar jy huiwer om dit openlik by die skool te erken. Dalk staan jou handboeke evolusie voor en is jy bekommerd dat jou onderwysers en klasmaats jou sal spot. Hoe kan jy jou geloof in die skepping moedig verduidelik?

 Jy kan dit doen!

 Jy dink dalk: ‘Ek is nie slim genoeg om oor die wetenskap en evolusie te praat nie.’ Dit is hoe Danielle voorheen gevoel het. “Ek het dit gehaat om ’n ander opinie as dié van my onderwyser en klasmaats uit te spreek”, sê sy. Diana stem saam: “Dit het my verwar wanneer hulle wetenskaplike terme in hulle argumente gebruik het.”

 Maar jou doelwit is nie om argumente te wen nie. En die goeie nuus is dat jy nie in die wetenskap hoef uit te blink om te verduidelik waarom jy dink dat die skepping ’n redelike verklaring vir die natuurlike wêreld is nie.

 Wenk: Gebruik die eenvoudige logika wat in die Bybel in Hebreërs 3:4 gevind word: “Elke huis word natuurlik deur iemand gebou, maar hy wat alles gebou het, is God.”

 ’n Jong vrou met die naam Carol redeneer soos volg oor die beginsel in Hebreërs 3:4: “Stel jou voor dat jy deur ’n digte woud loop. Daar is geen bewys dat enige mens al ooit daar was nie. Dan kyk jy af en sien jy ’n tandestokkie op die grond. Tot watter slotsom kom jy? Die meeste mense sal sê: ‘Iemand anders was hier.’ As iets so kleins en onbenulligs soos ’n tandestokkie ’n bewys is van intelligente lewe, hoeveel te meer dan die heelal en alles wat daarin is!”

 As iemand sê: “As die skepping ’n feit is, wie het dan die Skepper geskep?”

 Kan jy antwoord: “Net omdat ons nie alles omtrent die Skepper verstaan nie, beteken dit nie dat hy nie bestaan nie. Byvoorbeeld, jy ken dalk nie die agtergrond van die persoon wat jou selfoon ontwerp het nie, maar jy glo nog steeds dat dit deur iemand ontwerp is, nie waar nie? [Wag vir ’n antwoord.] Daar is soveel wat ons omtrent die Skepper kan leer. As jy meer wil weet, sal ek graag vir jou vertel wat ek oor hom geleer het.”

 Wees gereed

 Die Bybel sê: “Wees altyd gereed om julle te verdedig voor elkeen wat van julle ’n rede vir die hoop in julle eis, maar doen dit met sagmoedigheid en diep respek” (1 Petrus 3:15). Daarom moet jy aandag skenk aan twee faktore—wat jy sê en hoe jy dit sê.

  1.   Wat jy sê. Jou liefde vir God is belangrik en kan jou beweeg om jou geloof te verdedig. Maar om net vir ander te vertel hoe lief jy God het, sal miskien nie genoeg wees om hulle te oortuig dat God alles geskep het nie. Dit sal dalk die beste wees om voorbeelde uit die natuur te gebruik om te toon waarom dit redelik is om aan die skepping te glo.

  2.   Hoe jy dit sê. Praat met selfvertroue, maar moenie ongeskik of verkleinerend wees nie. Mense sal waarskynlik na jou beskouing luister as jy respekvol oor hulle oortuigings praat en hulle reg erken om hulle eie gevolgtrekkings te maak.

     “Ek dink dis belangrik om nooit as beledigend of beterweterig voor te kom nie. Dit sal ’n negatiewe uitwerking hê as jy op ’n verkleinerende wyse met ander praat.”—Elaine.

 Hulpmiddele om jou oortuiging te verduidelik

Om voorbereid te wees om jou oortuigings te verdedig, is soos om voorbereid te wees op ’n verandering in weerstoestande

 “As ons nie voorbereid is nie”, sê ’n tiener met die naam Alicia, “sal ons net wil stilbly sodat ons nie in die verleentheid kom nie.” Soos Alicia sê, is voorbereiding noodsaaklik om doeltreffend te wees. Jenna sê: “Dit is vir my baie makliker om oor die skepping te praat as ek ’n eenvoudige maar treffende voorbeeld het om my oortuiging te staaf.”

 Waar kan jy sulke voorbeelde vind? Baie jongmense het al goeie resultate behaal deur die volgende materiaal te gebruik:

 Jy sal dit dalk ook nuttig vind om die vorige artikels in hierdie reeks, “Skepping of evolusie?”, te lees.

  1.  Deel 1: Waarom moet ek aan God glo?

  2.  Deel 2: Waarom moet ek evolusie bevraagteken?

  3.  Deel 3: Waarom moet ek aan die skepping glo?

 Wenk: Kies voorbeelde wat jou oortuig. Jy sal dit makliker kan onthou, en jy sal met oortuiging daaroor kan praat. Oefen hoe jy jou sal verduidelik wat jy glo.