Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Skepping of evolusie?—Deel 2: Waarom moet ek evolusie bevraagteken?

Skepping of evolusie?—Deel 2: Waarom moet ek evolusie bevraagteken?

Alex is verward. Hy het nog altyd aan God en aan die skepping geglo. Maar vandag het sy biologie-onderwyser daarop aangedring dat evolusie ’n feit is en dat dit op geloofwaardige wetenskaplike navorsing gebaseer is. Alex wil nie dom lyk nie. Hy dink by homself: ‘As wetenskaplikes bewys het dat evolusie waar is, wie is ek dan om hulle te bevraagteken?’

 Klink die situasie hierbo vir jou bekend? Dalk glo jy al jou hele lewe lank wat die Bybel sê: “God [het] die hemel en die aarde geskep” (Genesis 1:1). Maar mense het jou onlangs probeer oortuig dat die skepping ’n mite is en dat evolusie ’n feit is. Moet jy hulle glo? Waarom moet jy evolusie bevraagteken?

 Twee redes om evolusie te bevraagteken

  1.   Wetenskaplikes stem nie saam oor evolusie nie. Ondanks dekades se navorsing moet wetenskaplikes nog ’n verduideliking vir evolusie vind waarmee hulle almal saamstem.

     Iets om oor te dink: As wetenskaplikes nie oor evolusie kan saamstem nie—en hulle is veronderstel om die deskundiges te wees—sal dit dan verkeerd wees as jy die teorie bevraagteken?—Psalm 10:4.

  2.   Dit maak saak wat jy glo. “As die lewe per toeval ontstaan het, is ons lewe—en alle ander dinge in ons heelal—sinloos”, sê ’n jong man met die naam Zachary. Dit is ’n geldige punt. As evolusie waar was, sou die lewe geen blywende doel gehad het nie (1 Korintiërs 15:32). Maar as die skepping waar is, kan ons bevredigende antwoorde vind op vrae oor die doel van die lewe en oor wat die toekoms vir ons inhou.—Jeremia 29:11.

     Iets om oor te dink: Watter verskil sal dit in jou lewe maak om te weet wat die waarheid oor evolusie en die skepping is?—Hebreërs 11:1.

 Vrae om oor te dink

 BEWERING: ‘Alles in die heelal het as gevolg van ’n toevallige oerknal ontstaan.’

  •   Wie of wat het die oerknal veroorsaak?

  •   Wat maak meer sin—dat alles uit niks ontstaan het of dat alles uit iets of by iemand ontstaan het?

 BEWERING: ‘Mense het uit diere geëvolueer.’

  •   As mense uit diere geëvolueer het—byvoorbeeld uit ape—waarom is daar dan so ’n groot gaping tussen die intellektuele vermoëns van mense en ape? a

  •   Waarom is selfs die “eenvoudigste” vorme van lewe so ongelooflik kompleks? b

 BEWERING: ‘Evolusie is as ’n feit bewys.’

  •   Het die persoon wat hierdie bewering maak, die bewyse self ondersoek?

  •   Hoeveel mense glo aan evolusie net omdat daar vir hulle gesê is dat alle intelligente mense daaraan glo?

a Party beweer dalk dat mense intelligenter is omdat hulle ’n groter brein as ape het. Maar sien die brosjure Vyf belangrike vrae oor die oorsprong van lewe, bladsy 28, vir redes waarom hierdie redenasie nie geldig is nie.