Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Vriendskap of verliefdheid?—Deel 1: Watter seine kry ek?

Vriendskap of verliefdheid?—Deel 1: Watter seine kry ek?

 Jy hou regtig van iemand van die teenoorgestelde geslag, maar jy is nie seker of hy of sy dieselfde voel nie. Julle stuur heeltyd vir mekaar teksboodskappe, by gesellighede praat julle net met mekaar ... en hierdie persoon flirt openlik met jou in party van die boodskappe wat hy of sy vir jou stuur.

 Jy besluit dus om te vra of julle meer as net vriende is, net om seker te maak dat julle albei dieselfde voel. Die antwoord? “Ons is net vriende—niks meer nie.”

 Hoe dit voel

 “Ek was so kwaad—kwaad vir hom en vir myself! Ons het elke dag vir mekaar teksboodskappe gestuur, en hy het regtig belangstelling in my getoon. Ek het natuurlik gevoelens vir hom begin ontwikkel.”—Jasmine.

 “Ek en ’n meisie was chaperones vir ’n ander paartjie. Soms het dit gelyk asof ons ook uitgaan. Ons twee het baie gesels, en toe het ons baie teksboodskappe vir mekaar begin stuur. Dit was moeilik toe sy vir my sê dat ek net ’n vriend is en toe ek uitvind dat sy eintlik die hele tyd met iemand anders uitgaan.”—Richard.

 “’n Ou het elke dag vir my teksboodskappe gestuur, en soms het ons met mekaar geflirt. Maar toe ek vir hom sê hoe ek oor hom voel, het hy gelag en gesê: ‘Ek wil nie nou met enigiemand uitgaan nie!’ Ek het baie gehuil.”—Tamara.

 Die slotsom: Wanneer jy dink dat jy ’n spesiale verhouding met iemand het en dan uitvind dat die persoon nie dieselfde oor jou voel nie, is dit net natuurlik om kwaad, skaam en selfs verraai te voel. “My hart was gebreek toe dit met my gebeur het, en my gevoelens was regtig seergemaak”, sê ’n jong man met die naam Steven. “Dit het my ’n rukkie geneem voordat ek iemand weer vertrou het.”

 Waarom dit gebeur

 Teksboodskappe en sosiale media maak dit maklik om emosioneel geheg te raak aan iemand wat in werklikheid nie romantiese gevoelens vir jou het nie. Kyk na wat party jongmense sê.

 “Iemand kan vir jou teksboodskappe stuur net om hulleself besig te hou, maar jy dink dalk dat die persoon in jou belangstel. En as hy elke dag vir jou boodskappe stuur, kan jy verkeerdelik dink dat jy baie spesiaal vir hom is.”—Jennifer.

 “Die een persoon stel dalk regtig in ’n verhouding belang, terwyl die ander een net iemand wil hê om mee te gesels, iemand om sy of haar selfvertroue ’n hupstootjie te gee.”​—James.

 “’n Eenvoudige ‘lekker slaap’-boodskap kan as romantiese belangstelling beskou word, maar dit is dalk met al die ‘liefdevolle’ gevoelens van ’n telefoonbemarker gestuur.”—Hailey.

 “’n Glimlaggende gesiggie kan ‘Ek het goeie maniere’ of ‘Ek flirt’ beteken. Soms neem die persoon wat die boodskap kry, aan dat die ander persoon flirt.”​—Alicia

 Die slotsom: Moenie dink dat die persoon wat jou aandag gee, verlief is op jou nie.

 Makliker gesê as gedaan? Ja! Die Bybel sê: “Die hart is verraderliker as enigiets anders en is desperaat” (Jeremia 17:9). Dit kan veroorsaak dat jy ’n ‘sandkasteelromanse’ bou wat wegspoel die oomblik wanneer jy besef dat dit net in jou verbeelding bestaan het.

 Wat jy kan doen

  •   Wees objektief. Neem ’n oomblik om die verhouding te analiseer. Vra jou af: ‘Het ek goeie redes om te dink dat hierdie persoon my nie behandel soos hy ander behandel nie?’ Moenie toelaat dat jou emosies jou “denkvermoë” oorheers nie.—Romeine 12:1.

  •   Toon onderskeidingsvermoë. Moenie net fokus op al die tekens wat jou laat dink dat julle dalk meer as vriende is nie; skenk spesiale aandag aan die tekens wat jou laat twyfel. Moenie dink dat die persoon dieselfde oor jou voel net omdat jy dink dat julle meer as vriende is nie.

  •   Wees geduldig. Totdat die persoon reguit sê dat hy of sy meer as net vriende wil wees, moet jy nie meer in die verhouding insit as wat jy kan bekostig om te verloor nie.

  •   Wees eerlik. Die Bybel sê dat daar “’n tyd [is] om te praat” (Prediker 3:7). As jy wil uitvind of iemand dink dat jy meer as ’n vriend is, moet jy met die persoon praat. “As hy of sy nie dieselfde voel nie, is dit beter om nou ’n klein bietjie seer te kry as om oor ’n paar maande te besef dat die persoon in die eerste plek nie belanggestel het nie”, sê ’n jong vrou met die naam Valerie.

 Die slotsom: “Bewaak jou hart”, sê Spreuke 4:23. As jy tot iemand aangetrokke voel, moet jy uitvind of hierdie persoon aangetrokke tot jou voel. As jy toelaat dat romantiese gevoelens wortelskiet voordat jy uitvind, is dit soos om ’n plant in klip te probeer groei.

 As jy uitvind dat die persoon wel gevoelens het vir jou—en as jy oud genoeg en gereed is om met iemand uit te gaan—moet jy besluit of jy ’n verhouding wil hê. Onthou, ’n sterk huwelik bestaan uit ’n man en vrou met dieselfde geestelike doelwitte en wat ook reguit en eerlik met mekaar is (1 Korintiërs 7:39). Om die waarheid te sê, hulle was ongetwyfeld eers—en is nog steeds—goeie vriende.—Spreuke 5:18.