Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Moet ek my laat doop? – Deel 2: Hoe om jou vir doop voor te berei

Moet ek my laat doop? – Deel 2: Hoe om jou vir doop voor te berei

 As jy volgens die Bybel se standaarde lewe en ’n vriendskap met God opbou, dink jy heel waarskynlik daaraan om gedoop te word. Hoe weet jy of jy gereed is daarvoor? a

In hierdie artikel

 Wat moet ek alles weet?

 Voorbereiding vir doop is nie soos ’n skooleksamen waarvoor jy ’n hele klomp goed uit jou kop moet leer om te slaag nie. Maar jy sal jou “denkvermoë” moet gebruik om jou oortuiging sterker te maak dat dít wat die Bybel leer die waarheid is (Romeine 12:1). Byvoorbeeld:

  •   Glo jy regtig dat God bestaan en dat hy verdien dat jy hom aanbid?

     Die Bybel sê: “As iemand God wil nader, moet hy glo dat hy bestaan en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek.” – Hebreërs 11:6.

     Vra jou af: ‘Hoekom glo ek in God?’ (Hebreërs 3:4). ‘Hoekom verdien hy dat ek hom aanbid?’ – Openbaring 4:11.

     Het jy hulp nodig? Sien “Skepping of evolusie?—Deel 1: Waarom moet ek aan God glo?

  •   Glo jy regtig dat die Bybel se boodskap van God af kom?

     Die Bybel sê: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer.” – 2 Timoteus 3:16.

     Vra jou af: ‘Hoekom glo ek dat die Bybel nie net ’n boek is wat vol is van mense se idees nie?’ – Jesaja 46:10; 1 Tessalonisense 2:13.

     Het jy hulp nodig? Sien “Hoe kan die Bybel my help? — Deel 1: Leer ken jou Bybel”.

  •   Glo jy regtig dat Jehovah die Christengemeente gebruik om sy wil uit te voer?

     Die Bybel sê: “[God] verdien . . . die eer deur middel van die gemeente en deur middel van Christus Jesus tot in alle geslagte, vir ewig en altyd.” – Efesiërs 3:21.

     Vra jou af: ‘Dink ek dat die dinge wat ek by Christelike vergaderinge uit die Bybel leer van mense of van Jehovah af kom?’ (Matteus 24:45). ‘Woon ek die vergaderinge by selfs wanneer my ouers nie daar kan wees nie (as hulle jou toelaat om dit te doen)?’ – Hebreërs 10:24, 25.

     Het jy hulp nodig? Sien “Hoekom vergaderinge by die Koninkryksaal bywoon?

 Wat moet ek alles doen?

 Jy hoef nie volmaak te wees om gedoop te kan word nie. Maar jy moet wys jy wil regtig “[wegdraai] van wat sleg is en doen wat goed is” (Psalm 34:14). Byvoorbeeld:

  •   Lewe jy in ooreenstemming met Jehovah se standaarde?

     Die Bybel sê: “Behou ’n goeie gewete.” – 1 Petrus 3:16.

     Vra jou af: ‘Hoe het ek al gewys dat ek my “denkvermoë geoefen het” om te “onderskei wat reg en wat verkeerd is”?’ (Hebreërs 5:14). ‘Kan ek aan spesifieke kere dink toe ek negatiewe groepsdruk weerstaan het? Moedig my vriende my aan om te doen wat reg is?’ – Spreuke 13:20.

     Het jy hulp nodig? Sien “Hoe kan ek my gewete oplei?

  •   Aanvaar jy verantwoordelikheid vir jou dade?

     Die Bybel sê: “God sal . . . elkeen van ons volgens ons dade oordeel.” – Romeine 14:12.

     Vra jou af: ‘Hoe eerlik is ek, met myself en met ander?’ (Hebreërs 13:18). ‘Erken ek my foute of is ek geneig om dit weg te steek of ander die skuld daarvoor te gee?’ – Spreuke 28:13.

     Het jy hulp nodig? Sien “Wat moet ek doen wanneer ek foute maak?

  •   Hou jy jou vriendskap met Jehovah sterk?

     Die Bybel sê: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.” – Jakobus 4:8.

     Vra jou af: ‘Op watter maniere kom ek nader aan Jehovah?’ Byvoorbeeld: ‘Hoe gereeld lees ek die Bybel?’ (Psalm 1:1, 2). ‘Bid ek gereeld?’ (1 Tessalonisense 5:17). ‘Hoe spesifiek is ek wanneer ek bid? Is my vriende Jehovah se vriende?’ – Psalm 15:1, 4.

     Het jy hulp nodig? Sien “Hoe kan die Bybel my help? — Deel 2: Maak Bybellees lekker” en “Hoekom moet ek bid?

 WENK: Om jou te help om jou vir doop voor te berei, kan jy hoofstuk 37 lees van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2. Kyk veral na die werkblad op bladsy 308 en 309.

a Lees die artikel “Moet ek my laat doop? – Deel 1” wat wys wat dit beteken en hoe belangrik dit is om jou aan God toe te wy en gedoop te word.