Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Wat moet ek omtrent elektroniese speletjies weet?

Wat moet ek omtrent elektroniese speletjies weet?

 Vasvra oor elektroniese speletjies

 In die Verenigde State, waar elektroniese speletjies ’n multimiljoenrandbedryf is . . .

  1.   Wat is die gemiddelde ouderdom van mense wat elektroniese speletjies speel?

    1.   18

    2.   30

  2.   Wat is die persentasie van manlike spelers teenoor vroulike spelers?

    1.   55 persent manlik; 45 persent vroulik

    2.   15 persent manlik; 85 persent vroulik

  3.   Watter een van hierdie twee groepe maak die oorgrote meerderheid uit van diegene wat elektroniese speletjies speel?

    1.   Vroulike spelers van 18 en ouer

    2.   Manlike spelers van 17 en jonger

 Antwoorde (gebaseer op data vir 2013):

  1.   B. 30.

  2.   A. Vroulike spelers maak 45 persent​—byna die helfte​—van alle spelers uit.

  3.   A. Vroulike spelers van 18 en ouer maak 31 persent van alle spelers uit, terwyl seuns van 17 en jonger 19 persent uitmaak.

 Hierdie statistiek kan jou ’n idee gee van wie speel. Maar dit sê nie vir jou watter uitwerking—goed of sleg—elektroniese speletjies op jou het nie.

 Voordele

 Met watter van die volgende opmerkings oor elektroniese speletjies stem jy saam?

  •  “Dis ’n aangename manier om nader aan familie en vriende te kom.”—Irene.

  •  “Dis ’n lekker manier om aan die werklikheid te ontsnap.”—Annette.

  •  “Dit verbeter jou reflekse.”—Christopher.

  •  “Dit leer jou hoe om probleme op te los.”—Amy.

  •  “Dit is stimulerend; dit dwing jou om te dink, te beplan en strategieë uit te werk.”—Anthony.

  •  “Party speletjies bevorder spanwerk met vriende.”—Thomas.

  •  “Party speletjies help jou om te oefen en fiks te word.”—Jael.

 Stem jy saam met sommige van hierdie opmerkings—of selfs met almal? Videospeletjies kan verstandelike en fisiese voordele inhou. Al is party speletjies net ’n manier om die tyd te verdryf en—soos Annette dit gestel het—“’n lekker manier om aan die werklikheid te ontsnap”, is dit nie altyd sleg nie.

 ● Die Bybel sê dat daar “’n tyd vir elke aangeleentheid onder die hemel” is, insluitende ontspanning.—Prediker 3:1-4.

 Nadele

 Neem elektroniese speletjies te veel van jou tyd in beslag?

 “Wanneer ek begin speel, is dit vir my moeilik om op te hou. Ek bly sê: ‘Nog net een rondte!’ Voor ek my kom kry, het ’n hele paar uur verbygegaan en het ek hopeloos te veel tyd voor die skerm deurgebring!”​—Annette.

 “Videospeletjies kan tydrowers wees. Jy sit ure lank daar en voel dan asof jy iets bereik het omdat jy vyf rondtes gewen het, maar in werklikheid het jy absoluut niks bereik nie.”​—Serena.

 Die slotsom: As jy geld verloor, kan jy dit dalk nog terugkry. Maar dit is nie die geval met tyd nie. In sekere sin is tyd dus kosbaarder as geld. Moet dus nie toelaat dat jy daarvan beroof word nie!

 ● Die Bybel sê: “Gaan voort om in wysheid te wandel ..., terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop.”—Kolossense 4:5.

 Beïnvloed elektroniese speletjies jou denke?

 “’n Mens kan misdade waarvoor ’n persoon tronkstraf of die doodstraf sou kry, in ’n videospeletjie ‘pleeg’ sonder om twee keer te dink.”​—Seth.

 “Baie speletjies behels dat ’n mens jou vyande moet verslaan om jou doelwit te bereik. Dit beteken dikwels dat jy hulle op verskeie grusame maniere moet doodmaak.”​—Annette.

 “Soms kan jy nie glo wat jy vir jou vriende sê terwyl julle speel nie—dinge soos ‘Gaan dood!’ of ‘Ek gaan jou doodmaak!’”​—Nathan.

 Die slotsom: Vermy speletjies wat dinge bevorder wat God haat, insluitende geweld, ongeoorloofde seks en spiritisme.—Galasiërs 5:19-21; Efesiërs 5:10; 1 Johannes 2:15, 16.

 ● Die Bybel sê dat Jehovah “elkeen [haat] wat geweld liefhet”—nie net geweld pleeg nie (Psalm 11:5). Al is jou keuse van elektroniese speletjies nie ’n aanduiding van die soort persoon wat jy sal word nie, sê dit moontlik iets omtrent die soort persoon wat jy alreeds is.

 Iets om oor te dink: Volgens die boek Getting to Calm “het videospeletjies waarskynlik ’n groter uitwerking op gedrag as televisie omdat kinders nie net na die wrede en bloeddorstige held kyk nie—hulle is die held. Aangesien speletjies die leerproses naboots, leer dit kinders in werklikheid om gewelddadig te wees.”​—Vergelyk Jesaja 2:4.

 Terug na die werklikheid

 Baie jongmense het geleer om gebalanseerd te wees wanneer dit kom by elektroniese speletjies. Kyk na twee voorbeelde.

 “Ek het altyd tot so laat as moontlik videospeletjies gespeel en gedink: ‘Ek het mos net vyf uur se slaap nodig, of hoe? Nog net een rondte.’ Maar nou het ek geleer om meer gebalanseerd te wees. Ek beskou dit as ’n lekker stokperdjie wat ek van tyd tot tyd kan geniet. Maar alles moet in matigheid gedoen word.”—Joseph.

 “Ek het minder videospeletjies begin speel, en nou kry ek baie meer gedoen! Ek kon my bediening verbeter, ander in my gemeente help en selfs leer om ’n musiekinstrument te speel. Daar is ’n hele ander wêreld daar buite!”—David.

 ● Die Bybel sê dat volwasse mans en vroue “matig in gewoontes” is (1 Timoteus 3:2, 11). Hulle geniet dit om te ontspan, maar weet wanneer om op te hou, en hulle het die selfbeheersing om dit te doen.—Efesiërs 5:10.

 Die slotsom: Elektroniese speletjies kan aangename ontspanning wees as ’n mens gebalanseerd bly. Maar moenie toelaat dat dit te veel van jou tyd in beslag neem of veroorsaak dat jy nie meer op die belangrike dinge in die lewe fokus nie. Eerder as om te veel daarop te konsentreer om ’n doelwit in ’n speletjie te bereik, sou dit tog sekerlik beter wees om jou in te span om jou persoonlike doelwitte te bereik sodat jy in die werklike lewe ’n wenner kan wees.