Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek leer om te fokus?

Hoe kan ek leer om te fokus?

 Hoekom kan ek nie fokus nie?

 “Ek lees nie meer boeke soos ek altyd gedoen het nie. Ek hou nie eers meer daarvan om lang paragrawe te lees nie.” – Elaine.

 “Ek sal ’n video vinniger speel as ek dink dat dinge te stadig gebeur.” – Miranda.

 “Wanneer ek op iets belangriks fokus en my foon hoor, dan wonder ek die heeltyd: ‘Wie stuur vir my ’n boodskap?’” – Jane.

 Kan tegnologie dit moeilik maak om te fokus? Party sê ja. Nicholas Carr, ’n skrywer en bestuurskonsultant, skryf: “Hoe meer ons die Internet gebruik, hoe meer leer ons ons brein om afgelei te word – om inligting baie vinnig en effektief te verwerk sonder om daarop te fokus.” a

 Kyk na drie situasies waar tegnologie jou aandag kan aftrek.

  •   Wanneer jy met ander praat. ’n Jong vrou met die naam Maria sê: “Selfs wanneer mense van aangesig tot aangesig praat, is hulle besig om boodskappe te stuur of speletjies te speel of om na sosiale media op hulle foon te kyk. Hulle gee nie hulle volle aandag aan die persoon met wie hulle praat nie.”

  •   Wanneer jy in die klas is. Die boek Digital Kids sê: “Die meeste studente sê dat hulle hulle elektroniese toestelle gedurende die klas gebruik om boodskappe te stuur, of hulle is besig op die Internet of met ander media.” Hulle gebruik hierdie toestelle vir dinge “waarby hulle niks kan leer nie”.

  •   Wanneer jy studeer. Chris, ’n 22-jarige, sê: “Dit is baie moeilik vir my om nie na my foon te kyk elke keer as ek dit hoor nie.” Huiswerk wat jou net ’n uur moet neem om klaar te maak, kan dalk drie of meer ure neem omdat jou toestelle jou aandag aftrek.

 Die slotsom: Jy sal dit moeilik vind om te fokus as jy toelaat dat tegnologie jou aandag aflei en jou beheer.

’n Brein wat nie kan fokus nie, is soos ’n wilde perd – dit beheer jou

 Hoe om beter te fokus

  •   Wanneer jy met ander praat. Die Bybel sê: “Julle [moet] nie net aan julle eie belange dink nie, maar ook aan die belange van ander” (Filippense 2:4). Wys vir ander dat jy vir hulle omgee deur aandagtig na hulle te luister. Behou oogkontak, en moenie toelaat dat jou aandag afgetrek word deur jou toestelle nie.

     “Wanneer jy met iemand praat, vermy dit om na jou foon te kyk. Wys dat jy die persoon met wie jy praat, respekteer deur hom of haar jou volle aandag te gee.” – Thomas.

     WENK: Wanneer jy met iemand praat, sit jou foon op ’n plek waar jy dit nie kan sien nie. Kenners sê dat as jy jou foon kan sien, kan dit jou keer om op die gesprek te fokus. Dit kan dit laat lyk asof daar binnekort ’n onderbreking gaan wees.

  •   Wanneer jy in die klas is. Die Bybel sê: “Skenk . . . aandag aan hoe julle luister” (Lukas 8:18). Met hierdie Bybelwaarheid in gedagte, as jou skool Internettoegang in die klaskamer toelaat, moenie jou boodskappe lees, speletjies speel of aanlyn klets wanneer jy moet fokus op wat jy leer nie.

     “Probeer om beter aandag in die klas te skenk. Maak notas. As dit moontlik is, sit voor in die klas sodat niks jou aandag kan aftrek nie.” – Karen.

     WENK: Neem notas met pen en papier eerder as op ’n rekenaar. Navorsing wys dat jou aandag minder afgetrek sal word en dat jy beter sal onthou wat jy geleer het.

  •   Wanneer jy studeer. Die Bybel sê: “Verkry wysheid, verkry begrip” (Spreuke 4:5). Dit behels dat ’n mens dieper dink en nie net deur die inligting jaag om ’n toets te slaag nie.

     “Wanneer ek studeer, stel ek my tablet sodat dit nie boodskappe kry nie en dan fokus ek net op wat ek moet doen. Ek kyk nie na my boodskappe nie. As ek gedagte kry van iets wat ek moet onthou, skryf ek dit neer.” – Chris.

     WENK: Maak seker dat die plek waar jy studeer, jou toelaat om te fokus. Hou dit skoon en netjies.

a Uit die boek The Shallows—What the Internet Is Doing to Our Brains.