Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek dit hanteer wanneer ek treur?

Hoe kan ek dit hanteer wanneer ek treur?

 Het ’n vriend of familielid onlangs gesterf? Indien wel, kan hierdie artikel jou help om dit te hanteer wanneer jy hartseer voel.

In hierdie artikel

 Treur ek te veel?

 Vir baie mense is die emosies wat hulle voel wanneer iemand sterf, baie sterk, en daardie gevoelens gaan nie vinnig weg nie.

 “Ek dink elke liewe dag aan my oupa. Al het hy twee jaar terug gesterf, is dit nog steeds vir my moeilik om oor hom te praat sonder om te huil.” – Olivia.

 “My ouma het my altyd aangemoedig om doelwitte te stel, maar sy het gesterf voordat ek enige van daardie doelwitte kon bereik. Wanneer ek ook al ’n doelwit bereik, voel ek hartseer omdat sy nie daar is om dit te sien nie.” – Alison.

 Wanneer ons treur, kan dit veroorsaak dat ons verskillende emosies ondervind. Byvoorbeeld:

 “Toe my oom gesterf het, was ek in skok, en ek was ’n baie lang tyd in skok. Dit was die eerste keer wat iemand na aan my gesterf het, en dit het gevoel asof ek deur ’n trein getref is.” – Nadine.

 “Ek was kwaad vir my oupa toe hy gesterf het, want hy het nie na sy gesondheid gekyk nie, alhoewel ons hom gesmeek het om dit te doen.” – Carlos.

 “Ek en my suster was die enigste familielede wat nie by my oupa was toe hy gesterf het nie. Ná die tyd het ek skuldig gevoel omdat ek nie behoorlik vir hom totsiens gesê het nie.” – Adriana.

 “’n Getroude paartjie wat na aan ons familie was, het in ’n karongeluk gesterf. Daarna het ek bang gevoel wanneer ’n familielid uit die huis gegaan het omdat ek gedink het dat hy of sy ook dalk kan sterf.” – Jared.

 “Toe my ouma drie jaar terug gesterf het, het ek spyt gevoel omdat ek nie meer tyd saam met haar spandeer het terwyl sy nog gelewe het nie.” – Julianna.

 Dit is normaal om geskok, kwaad, skuldig, bang en spyt te voel wanneer jy treur. As jy enige van daardie gevoelens ondervind, kan jy seker wees dat dit met tyd beter sal word. Maar hoe kan jy dit nou hanteer?

 Hoe om die verskillende gevoelens te hanteer wanneer iemand gesterf het

 Praat met ’n goeie vriend. Die Bybel sê dat ’n ware vriend daar is “gedurende moeilike tye” (Spreuke 17:17). Wanneer jy met iemand praat oor hoe jy voel, kan dit jou help om die ondersteuning te kry wat jy nodig het.

 “Dit is normaal om te treur. Partykeer kan jy dit alleen doen, maar jy kan dalk begin dink dat dinge nooit beter sal raak nie. Dit is hoekom dit goed is om met iemand te praat.” – Yvette.

 Onthou jou geliefde. Die Bybel sê dat “’n goeie persoon goeie dinge in sy hart gestoor het” (Lukas 6:45, Easy-to-Read Version, 1992). Jy kan jou goeie herinneringe neerskryf of ’n foto-album maak.

 “Ek het besluit om al die dinge neer te skryf wat my vriend my geleer het voordat hy gesterf het, en so help sy voorbeeld my nog steeds. Om dit neer te skryf, help my om dit te hanteer wanneer ek hartseer voel.” – Jeffrey.

 Kyk na jou gesondheid. Die Bybel erken dat fisiese oefening voordelig is (1 Timoteus 4:8). Maak seker jy eet gesond, oefen en kry genoeg rus.

 “Wanneer jy treur, kan dit veroorsaak dat jy nie reguit dink nie. Daarom is dit belangrik dat jy gesond bly. Maak seker dat jy genoeg eet en die nodige slaap inkry.” – Maria.

 Help ander. Die Bybel sê: “Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang.” – Handelinge 20:35.

 “Probeer om dinge vir ander te doen, veral vir dié wat ook ’n geliefde aan die dood verloor het. Dit kan jou herinner dat ander ook swaarkry.” – Carlos.

 Sê vir God hoe jy voel in gebed. Die Bybel noem Jehovah God die “Hoorder van gebed” (Psalm 65:2). Dit sê ook: “[Jehovah] genees dié wie se hart gebreek is. Hy verbind hulle wonde.” – Psalm 147:3.

 “Vra Jehovah om jou die ondersteuning en aanmoediging te gee wat jy nodig het. Party dae sal moeiliker wees as ander, maar Jehovah is altyd daar vir ons.” – Jeanette.

 Wees redelik in die dinge wat jy verwag. Onthou dat elke persoon op hulle eie manier treur. Die Bybel sê dat Jakob “geweier [het] om hom te laat troos” toe hy gedink het dat sy seun gesterf het (Genesis 37:35). So moenie verbaas wees as jy nog steeds treur nie.

 “Verskillende dinge herinner my aan my ouma se sussie, al het sy 15 jaar terug gesterf.” – Taylor.

 Stel jou voor jy het ’n been gebreek. Dit sal baie seer wees en dalk tyd neem om gesond te word. Intussen sal die dokter jou voorstelle gee oor wat jy kan doen om jou liggaam te help om gesond te word.

 Dit is amper dieselfde wanneer jy ’n geliefde aan die dood verloor het. Dit kan jou hart “breek”, en jy moet hiervan herstel. Dit vat tyd vir intense gevoelens van hartseer om minder te word. So wees geduldig. Dink aan die voorstelle in hierdie artikel, en kyk watter voorstelle jou die meeste kan help.