Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Is dit ’n goeie idee om meer as een ding op dieselfde tyd te doen?

Is dit ’n goeie idee om meer as een ding op dieselfde tyd te doen?

 Hoe goed is jy daarin om meer as een ding op dieselfde tyd te doen?

 Weet jy hoe om meer as een ding op ’n slag te doen? Baie dink dat mense wat grootword met tegnologie, beter daarin is om meer as een ding op dieselfde tyd te doen as mense wat tegnologie begin gebruik het toe hulle alreeds volwassenes was. Maar is dit regtig die geval?

 JA of NEE?

  •   As jy meer as een ding op ’n slag doen, kan jy meer werk vinniger gedoen kry.

  •   As jy oefen om meer as een ding op ’n slag te doen, sal jy beter daarin word.

  •   Jongmense is beter daarin om meer as een ding op ’n slag te doen as ouer mense.

 As jy “ja” geantwoord het op enige van hierdie opsies, is jy dalk onder die verkeerde indruk wanneer dit kom by die “idee dat jy meer as een ding op dieselfde tyd kan doen”.

 Die idee dat jy meer as een ding op dieselfde tyd kan doen

 Dink jy dat jy twee dinge op dieselfde tyd kan doen? Jy kan dalk party dinge op dieselfde tyd doen as jy nie hoef te konsentreer wanneer jy dit moet doen nie. Byvoorbeeld, as jy na musiek luister terwyl jy jou kamer skoonmaak, sal jou kamer dalk nie te sleg lyk nie.

 Maar wanneer jy twee take op dieselfde tyd probeer doen waarop jy moet konsentreer, sal jy dalk nie een van die twee take reg doen nie. Dit is moontlik hoekom ’n jong vrou met die naam Katherine hierdie idee so verduidelik: “Dit is die vermoë om alles op dieselfde tyd op te mors.”

 “Terwyl ek met iemand gesels het, het ek ’n teksboodskap ontvang waarop ek moes reageer. Ek het probeer om albei te doen. Die gevolg was dat ek amper meeste van die gesprek gemis het en dat ek omtrent elke woord in my boodskap verkeerd gespel het.” – Caleb.

 Sherry Turkle, ’n kenner in tegnologie, skryf: “Wanneer ons dink dat ons meer as een ding op ’n slag doen, . . . is die gevolg dat ons minder konsentreer op elke nuwe taak wat ons byvoeg. Ons brein word gestimuleer en dan voel ons asof ons meer energie het. So dan dink ons dat ons al hoe beter doen, maar eintlik doen ons al hoe slegter.” a

 “Soms dink ek dat ek vir een persoon ’n boodskap kan stuur terwyl ek met ’n ander persoon praat. Maar toe besef ek dat ek hardop gesê het wat ek in die boodskap wou tik en dat ek in die boodskap getik het wat ek hardop wou sê!” – Tamara.

 Mense wat probeer om baie dinge op ’n slag te doen, maak die lewe onnodig moeilik vir hulleself. Byvoorbeeld, dit vat hulle gewoonlik langer om hulle huiswerk klaar te maak. Of hulle moet tyd spandeer om werk oor te doen wat hulle gedink het klaar is. In albei gevalle het die persoon wat meer as een ding op ’n slag doen, minder tyd om die dinge te doen wat hulle regtig wil!

 Thomas Kersting, ’n psigoterapeut en skoolvoorligter, sê met goeie rede: “As jy na die brein kyk as ’n plek waar lêers met nodige inligting netjies gestoor word, is die brein van mense wat die heeltyd baie dinge op ’n slag doen, ’n gemors.” b

 “Hoe meer dinge jy op ’n slag doen, hoe meer sien jy nie die kleiner dinge raak nie. Op die ou einde skep jy dalk net meer werk vir jouself en mors jy die tyd wat jy gedink het jy het.” – Teresa.

Om meer as een ding op dieselfde tyd te doen, is soos om op twee paaie op dieselfde tyd te probeer bestuur

 ’n Beter manier

  •   Oefen om te fokus op een ding op ’n slag. Dit kan dalk moeilik wees veral as jy daaraan gewoond is om baie dinge op ’n slag te doen, soos om te studeer en boodskappe op dieselfde tyd te stuur. Maar die Bybel sê vir ons om ‘seker te maak van die belangriker dinge’ (Filippense 1:10). Alles wat ons doen, is nie ewe belangrik nie. So besluit watter taak die belangrikste is en konsentreer daarop totdat dit klaar is.

     “’n Brein wat nie op een ding kan konsentreer nie, is soos ’n klein kindjie wat heeltyd sy sin wil hê. Net soos jy vir ’n kind soms nee moet sê, moet jy soms vir jou brein nee sê en jouself dwing om op een ding te fokus.” – Maria.

  •   Raak ontslae van afleidings. Wil jy soms na jou foon kyk terwyl jy studeer? Sit dit op ’n ander plek. Sit die TV af en moenie eers dink aan sosiale media nie! Die Bybel sê: “Gebruik [jou] tyd op die beste manier moontlik.” – Kolossense 4:5.

     “Ek het gesien dat dit baie beter is om op een ding op ’n slag te fokus. Op hierdie manier is ek bly wanneer ek ’n taak op my lysie kan doodtrek en die volgende taak kan aanpak. Dit laat my regtig tevrede voel.” – Onya.

  •   Gee jou volle aandag wanneer jy met iemand praat. Wanneer jy jou foon gebruik terwyl jy met iemand praat, is dit nie net onproduktief nie, maar ook onbeskof. Die Bybel sê dat ons ander moet behandel soos ons behandel wil word. – Matteus 7:12.

     “Soms terwyl ek met my suster praat, is sy besig om vir iemand ’n boodskap te stuur of sy is besig op haar foon. Dis baie irriterend! Maar om eerlik te wees, soms doen ek dieselfde ding!” – David.

a Uit die boek Reclaiming Conversation.

b Uit die boek Disconnected.