Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoekom ’n ander taal leer?

Hoekom ’n ander taal leer?

 Om ’n ander taal te leer, kan jou nederigheid en selfdissipline toets. Is dit die moeite werd? Baie jongmense sal ja sê! Hierdie artikel sal verduidelik hoekom hulle ’n ander taal leer.

 Hoekom party dit doen

 Baie jongmense leer ’n ander taal omdat hulle skool dit vereis. Party het ’n meer persoonlike rede. Byvoorbeeld:

  •   Anna, ’n jong vrou in Australië, het besluit om Letties, haar ma se moedertaal, te leer. “Ons gesin beplan om by ons familie in Letland te gaan kuier, en ek wil graag met hulle in Letties gesels wanneer ons daar is”, sê Anna.

  •   Gina, een van Jehovah se Getuies van die Verenigde State, het Amerikaanse Gebaretaal (ASL) geleer en na Belize getrek om haar bediening uit te brei. “’n Dowe persoon se wêreld bestaan gewoonlik net uit ’n handjie vol mense met wie hy of sy kan kommunikeer”, verduidelik sy. “Mense waardeer dit regtig wanneer ek vir hulle vertel dat ek ASL geleer het sodat ek mense in hulle eie taal van die Bybel kan leer!”

 Het jy geweet? Die Bybel het voorspel dat die goeie nuus van God se Koninkryk aan mense van “elke nasie en stam en taal” verkondig sal word (Openbaring 14:6). Baie jongmense onder Jehovah se Getuies het ’n ander taal geleer sodat hulle hulle bediening in hulle eie land of in ’n ander land kan uitbrei, en dit is een manier waarop hierdie profesie vervul word.

 Wat is die uitdagings?

 Dit is nie maklik om ’n ander taal te leer nie. ’n Tiener met die naam Corrina sê: “Ek het gedink dat ek net nuwe woorde gaan leer, maar toe het ek agtergekom dat ek ’n nuwe kultuur en ’n nuwe manier van dink moes aanleer. Dit neem beslis tyd om ’n ander taal te leer.”

 ’n Mens moet ook nederig wees. James, ’n jong man wat Spaans leer praat het, sê: “Jy moet leer om vir jouself te lag omdat jy baie foute gaan maak. Maar dis hoe ’n mens leer.”

 Kortliks: Jy sal dit heel moontlik regkry om ’n ander taal te leer praat as jy besef dat daar uitdagings gaan wees en dat jy nou en dan simpel foute gaan maak.

 Wenk: Moenie moedeloos word as dit lyk asof ander vinniger as jy leer nie. Die Bybel sê: “Laat elkeen sy eie werk op die proef stel, en dan sal hy net met betrekking tot homself rede tot vreugde hê, en nie in vergelyking met die ander persoon nie.”—Galasiërs 6:4.

 Wat is die voordele?

 Daar is baie voordele om ’n ander taal te leer praat. Byvoorbeeld, ’n tiener met die naam Olivia sê: “Wanneer jy ’n ander taal leer praat, leer jy ook nuwe dinge en maak jy nuwe vriende.”

 Mary, ’n tienermeisie, het gevind dat dit haar meer selfvertroue gegee het toe sy ’n ander taal leer praat het. Sy sê: “Dis vir my moeilik om trots te wees op enigiets wat ek doen, maar noudat ek ’n ander taal leer, is ek opgewonde oor elke nuwe woord wat ek leer. Ek voel nou beter oor myself.”

 Gina, wat vroeër aangehaal is, het gevind dat sy haar bediening meer geniet wanneer sy mense in gebaretaal van die Bybel leer. Sy sê: “Dis fantasties om te sien hoe bly mense is wanneer ek met hulle in hulle eie taal kommunikeer!”

 Kortliks: Om ’n ander taal te leer, kan jou help om nuwe vriende te maak, kan jou meer selfvertroue gee en kan jou bediening betekenisvoller maak. Dit is ’n belangrike manier om “alle nasies en stamme en volke en tale” met die goeie nuus te bereik.—Openbaring 7:9.