Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Is dit net onskuldige pret wanneer jy flirt?

Is dit net onskuldige pret wanneer jy flirt?

 Wat beteken dit om te flirt?

 Party mense dink om te flirt beteken dat jy deur jou woorde en wat jy doen, wys dat jy romanties belangstel in iemand van die teenoorgestelde geslag. Is dit verkeerd om te wys dat jy romanties in iemand belangstel? Nie noodwendig nie. ’n Jong vrou met die naam Ann sê: “As jy gereed is vir ’n verhouding en jy in iemand belangstel, hoe anders kan jy uitvind of hulle dieselfde oor jou voel?”

 Maar in hierdie artikel gaan ons bespreek wanneer jy met iemand flirt en voorgee dat jy romantiese gevoelens vir die persoon het terwyl jy nie belangstel in ’n verhouding nie.

 “Dit is een ding om spesiale aandag aan iemand te gee omdat jy ’n romantiese verhouding wil begin. Maar dit is ’n heel ander saak om iemand te laat dink dat jy van hom hou en dan jou rug op hom te draai omdat jy nooit regtig belanggestel het nie.”—Deanna.

 Hoekom doen party mense dit?

 Party doen dit net om hulleself goed te laat voel. ’n Jong vrou met die naam Hailey sê: “Wanneer jy agterkom dat jy daardie soort aandag kan kry, wil jy dalk meer daarvan hê.”

 Maar as jy doelbewus iemand laat dink dat jy romanties in hulle belangstel wanneer dit nie so is nie, wys jy dat jy glad nie aan die ander persoon se gevoelens dink nie. Dit wys ook dat jy nie goeie besluite kan neem nie. Die Bybel sê: “Dwaasheid is ’n vreugde vir iemand wat nie ’n verstandige hart het nie.”—Spreuke 15:21.

 Dit is waarom Hailey verder sê: “Dit kan dalk heel onskuldig begin, maar wanneer jy flirt, beland jy dikwels in die moeilikheid.”

 Wat is die gevare?

  •   Wanneer jy flirt, kry jy ’n slegte reputasie.

     “Ek dink dat ’n persoon wat flirt, onseker van haarself en kinderagtig is. Dit voel asof sy nie eerlik met jou is nie, maar eerder net iets van jou wil hê.”​—Jeremy.

     Die Bybel sê: “Die liefde . . . soek nie sy eie belang nie.”—1 Korintiërs 13:4, 5.

     Dink hieraan: Watter soort dinge wat jy sê of doen, kan jou die reputasie gee dat jy flirt?

  •   Wanneer jy flirt, kry die ander persoon seer.

     “Wanneer ek iemand ontmoet wat flirt, is ek regtig nie lus vir sy geselskap nie. Dis asof hy net met my praat omdat ek ’n meisie is. Mense wat flirt, gee nie regtig vir my om nie. Hulle wil net hulleself goed laat voel.”​—Jaqueline.

     Die Bybel sê: “Laat elkeen aanhou om, nie sy eie voordeel nie, maar dié van die ander persoon te soek.”—1 Korintiërs 10:24.

     Dink hieraan: Het iemand jou al ooit laat dink dat hulle romanties in jou belangstel, en toe vind jy later uit dat dit nie so is nie? Hoe het dit jou laat voel? Hoe kan jy keer dat jy nie iemand anders op hierdie manier seermaak nie?

  •   Wanneer jy flirt, verminder dit jou kanse op ware liefde.

     “Ek sal nie wil trou of selfs wil uitgaan met iemand wat flirt nie. Hoe kan ek iemand regtig leer ken of vertrou as hy net voorgee dat hy in my belangstel?”​—Olivia.

     Die psalmis Dawid sê in die Bybel: “By dié wat verberg wat hulle is, gaan ek nie in nie.”—Psalm 26:4.

     Dink hieraan: Watter soort persoon is aangetrokke tot iemand wat flirt? Is dit die soort persoon wat jy wil hê in jou moet belangstel?