Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek ’n goeie voorbeeld kies om na te volg?

Hoe kan ek ’n goeie voorbeeld kies om na te volg?

 “Wanneer ek probleme by die skool gehad het, het dit my gehelp om aan iemand te dink na wie ek opkyk en wat deur dieselfde probleem gegaan het. Ek het dan probeer om daardie persoon se voorbeeld na te volg. Dit was makliker om deur moeilike situasies te kom as ek iemand se voorbeeld kon navolg.”—Haley.

 Iemand anders se voorbeeld kan jou help om probleme te vermy en jou doelwitte te bereik. Maar dit is baie belangrik om iemand te kies wat ’n goeie voorbeeld is.

 Waarom moet jy versigtig kies?

  •   Jou gedrag sal beïnvloed word deur die persoon wat jy kies om na te volg.

     Die Bybel sê dat Christene moet kyk na persone wat ’n goeie voorbeeld stel: “Namate julle die uiteinde van hulle gedrag aanskou, moet julle hulle geloof navolg.”—Hebreërs 13:7.

     Wenk: Omdat jy op ’n goeie of ’n slegte manier beïnvloed sal word deur die voorbeeld wat jy kies om na te volg, moet jy iemand kies wat regtig goeie eienskappe het. Moenie iemand kies net omdat hulle gewild is of amper dieselfde ouderdom as jy is nie.

     “Ek het baie geleer by ’n Christen met die naam Adam, nie net uit sy gesindheid nie, maar ook uit sy algemene gedrag. Ek kan nog steeds sekere dinge wat hy gesê en gedoen het, onthou. Hy het geen idee hoe baie hy my beïnvloed het nie.”—Colin.

  •   Hoe jy dink en voel, sal beïnvloed word deur die persoon wat jy kies om na te volg.

     Die Bybel sê: “Moenie mislei word nie. Slegte omgang bederf nuttige gewoontes.”—1 Korintiërs 15:33.

     Wenk: Kies iemand wat goeie eienskappe het. Moenie iemand kies net omdat hulle aantreklik is nie. Anders sal jy dalk teleurgestel word.

     “Wanneer jy jouself die hele tyd met beroemde mense vergelyk, laat dit jou onbelangrik en lelik voel. Dit kan veroorsaak dat jy te veel stres oor hoe jy lyk.”—Tamara.

     Iets om oor te dink: Wat kan die gevare wees as jy kies om die voorbeeld van beroemdes en atlete na te volg?

  •   Of jy jou doelwitte sal bereik, kan beïnvloed word deur die persoon wat jy kies om na te volg.

     Die Bybel sê: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word.”—Spreuke 13:20.

     Wenk: Kies persone om na te volg wat die goeie eienskappe het wat jy graag wil hê. Wanneer jy na hulle voorbeeld kyk, sal jy sien watter dinge jy kan doen om jou doelwitte te bereik.

     “In plaas daarvan om net te sê: ‘Ek wil verantwoordeliker wees’, kan jy eerder spesifieke doelwitte stel soos: ‘Ek wil so verantwoordelik soos Jane wees. Sy is altyd betyds en is ernstig oor haar toewysings.’”—Miriam.

     Kortliks: Wanneer jy kies om ’n persoon wat ’n goeie voorbeeld stel, na te volg, besluit jy watter soort persoon jy wil word.

Jy kan jou doelwitte makliker bereik as jy iemand anders se goeie voorbeeld navolg!

 Hoe om te kies

 Daar is twee maniere waarop jy ’n persoon kan kies wie se voorbeeld jy wil navolg.

  1.   Jy kan ’n eienskap kies waaraan jy wil werk en dan ’n persoon kies van wie jy hou wat hierdie eienskap het.

  2.   Jy kan ’n persoon kies van wie jy hou en dan ’n eienskap kies wat hy of sy het waaraan jy graag wil werk.

 Die werkblad wat saam met hierdie artikel gaan, kan jou help om dit te doen.

 Die persone wie se voorbeeld jy wil navolg, kan iemand wees soos:

  •  Ander jongmense. “Ek wil soos my beste vriendin wees. Sy is nooit te besig om te wys dat sy vir iemand omgee nie. Sy is jonger as ek, maar sy het mooi eienskappe wat ek nie het nie. Daarom wil ek graag haar voorbeeld navolg.”—Miriam.

  •  Grootmense. Dit kan jou ouers of mede-gelowiges wees. “Ek kan my ma en pa se voorbeeld definitief navolg. Hulle het albei baie goeie eienskappe. Ek kan sien dat hulle nie volmaak is nie, maar ten spyte daarvan bly hulle nog steeds getrou. Ek hoop dat wanneer ek so oud soos hulle is, dieselfde oor my gesê kan word.”—Annette.

  •  Mense in die Bybel. “Ek het ’n hele paar persone in die Bybel—Timoteus, Rut, Job, Petrus en die Israelitiese dogtertjie—gekies wat ek wil navolg. Ek het elkeen van hulle vir ’n ander rede gekies. Hoe meer ek oor die mense in die Bybel leer, hoe werkliker word hulle vir my. Ek het dit regtig geniet om die stories in die boek Volg hulle geloof na te studeer. Ek hou ook baie van die ‘Rolmodel-indeks’ in albei die boeke Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk.”—Melinda.

 Wenk: Moenie net een persoon kies wie se voorbeeld jy wil volg nie. Die apostel Paulus het vir mede-Christene gesê: “Hou julle oë gerig op dié wat op ’n wyse wandel wat ooreenkom met die voorbeeld wat julle in ons het.”—Filippense 3:17.

 Het jy geweet? Jy kan ’n voorbeeld vir iemand anders wees om na te volg! Die Bybel sê: “Wees ’n voorbeeld vir die getroues in woord, in gedrag, in liefde, in geloof, in kuisheid.”—1 Timoteus 4:12.

 “Al is dit nodig dat jy daaraan moet werk om ’n beter mens te word, kan jy ook ander mense help om dieselfde te doen. Jy weet nooit watter invloed die dinge wat jy doen en sê op iemand anders se lewe kan hê nie.”—Kiana.