Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Skepping of evolusie?—Deel 1: Waarom moet ek aan God glo?

Skepping of evolusie?—Deel 1: Waarom moet ek aan God glo?

 Skepping of evolusie?

 Glo jy dat God alles geskep het? Dan is jy nie alleen nie; baie jongmense (en volwassenes) glo dit ook. Maar ander sê dat lewe en die heelal geëvolueer het—sonder die hulp van ’n “Opperwese”.

 Het jy geweet? Mense aan albei kante van die geskil sal dikwels gou sê wat hulle glo sonder om werklik te weet waarom hulle dit glo.

  •   Party mense glo aan die skepping net omdat hulle dit in die kerk geleer is.

  •   Baie mense glo aan evolusie net omdat hulle dit op skool geleer is.

 Hierdie reeks artikels sal jou help om jou geloof in die skepping te versterk en te verduidelik. Maar jy moet jou eers ’n selfs eenvoudiger vraag afvra:

 Waarom glo ek aan God?

 Waarom is hierdie vraag belangrik? Omdat die Bybel jou aanspoor om jou verstand te gebruik, jou “denkvermoë” (Romeine 12:1). Dit beteken dat jou geloof in God op meer gebaseer moet wees as

  •  emosie (Ek voel net dat daar ’n hoër mag moet wees)

  •  die invloed van ander (Ek is deel van ’n godsdienstige gemeenskap)

  •  druk (My ouers het my grootgemaak om aan God te glo—of daar’s moeilikheid)

 Jy moet eerder persoonlik oortuig wees dat God bestaan en goeie redes hê waarom jy dit glo.

 Wat oortuig jou dat God bestaan? Die werkblad “Waarom glo ek aan God?” sal jou oortuiging versterk. Jy sal dit dalk ook nuttig vind om te kyk hoe ander jongmense hierdie vraag beantwoord het.

 “Wanneer ek in die klas is en luister hoe die onderwyser verduidelik hoe ons liggaam werk, twyfel ek glad nie dat God bestaan nie. Elke liggaamsdeel het sy eie funksie, wat tot in die fynste besonderhede vasgestel is, en hierdie funksies word dikwels verrig sonder dat ons daarvan bewus is. Die menseliggaam is werklik verstommend!”—Teresa.

 “Wanneer ek ’n wolkekrabber, ’n toerskip of ’n motor sien, vra ek my af: ‘Wie het dit gebou?’ Slegs intelligente mense kan byvoorbeeld ’n motor bou, want soveel klein onderdele moet presies reg werk sodat die hele ding kan funksioneer. En as motors deur iemand ontwerp moet word, dan is dit ook met ons as mense die geval.”—Richard.

 “Wanneer jy besef dat dit die intelligentste menseverstande honderde jare geneem het om slegs ’n bietjie kennis van die heelal op te doen, dan lyk die idee dat die heelal sonder enige intelligensie ontstaan het, absoluut onlogies!”—Karen.

 “Hoe meer ek die wetenskap bestudeer het, hoe ongeloofwaardiger het evolusie gelyk. Ek het byvoorbeeld gedink aan die wiskundige presisie in die natuur en hoe uniek mense is, insluitende ons behoefte om te weet wie ons is, waarvandaan ons kom en waarheen ons op pad is. Evolusie probeer al hierdie dinge in terme verduidelik wat met diere verband hou, maar dit kon nog nooit verduidelik waarom mense uniek is nie. Volgens my verg dit meer ‘geloof’ om aan evolusie te glo as aan ’n Skepper.”—Anthony.

 Hoe ek my oortuiging kan verduidelik

 Sê nou jou klasmaats spot jou omdat jy aan iets glo wat jy nie kan sien nie? Sê nou hulle sê dat die wetenskap evolusie “bewys” het?

 Wees eerstens oortuig van wat jy glo. Moenie geïntimideerd voel of skaam wees nie (Romeine 1:16). Onthou:

  1.   Jy is nie alleen nie; baie mense glo nog aan God. Dit sluit hoogs intelligente, professionele mense in. Daar is byvoorbeeld wetenskaplikes wat glo dat daar ’n God is.

  2.   Wanneer mense sê dat hulle nie aan God glo nie, bedoel hulle soms eintlik dat hulle God nie verstaan nie. In plaas daarvan om bewyse te voorsien vir hulle beskouing, vra hulle vrae soos: “As God bestaan, waarom laat hy dan lyding toe?” Hulle verander in werklikheid ’n intellektuele saak in ’n emosionele een.

  3.   Mense het ’n “geestelike behoefte” (Matteus 5:3). Dit sluit in ’n behoefte om aan God te glo. As iemand dus sê dat daar nie ’n God is nie, het daardie persoon—nie jy nie—die verantwoordelikheid om te verduidelik hoe hy of sy tot hierdie slotsom gekom het.—Romeine 1:18-20.

  4.   Om aan God te glo, is heeltemal logies. Dit kom ooreen met die feit dat lewe nie vanself kan ontstaan nie. Daar is geen bewyse om die idee te steun dat lewe vanself uit lewelose materie kan ontstaan nie.

Wat kan jy dan sê as iemand vra waarom jy aan God glo? Kyk na ’n  paar moontlikhede.

 As iemand sê: “Slegs onkundige mense glo aan God.”

 Kan jy antwoord: “Aanvaar jy werklik hierdie stereotipe? Ek aanvaar dit nie. Trouens, in ’n opname wat onder meer as 1 600 professors van die wetenskap van verskeie vooraanstaande universiteite gedoen is, het ’n derde van hulle nie gesê dat hulle ateïsties of agnosties is nie. a Sou jy sê dat daardie professors onintelligent is net omdat hulle aan God glo?”

 As iemand sê: “As God bestaan, waarom is daar dan soveel lyding in die wêreld?”

 Kan jy antwoord: “Jy bedoel dalk dat jy nie verstaan hoe God optree nie—of in hierdie geval, waarom dit lyk asof hy nie optree nie. Is dit so? [Wag vir ’n antwoord.] Ek het ’n bevredigende antwoord gevind op die vraag waarom daar soveel lyding is. Maar om dit te verstaan, moet ’n mens verskeie Bybelleringe ondersoek. Sal jy graag meer wil leer?”

 Die volgende artikel in hierdie reeks sal bespreek waarom die evolusieteorie nie ’n bevredigende verklaring vir ons bestaan voorsien nie.

a Bron: Navorsingsraad vir Sosiale Wetenskappe, “Religion and Spirituality Among University Scientists,” deur Elaine Howard Ecklund, 5 Februarie 2007.