Spring na inhoud

Wat sê die Bybel oor tatoeëring?

Wat sê die Bybel oor tatoeëring?

Die Bybel se antwoord

 Die Bybel meld tatoeëring net een keer, in Levitikus 19:28, wat sê: “Julle mag geen tatoeëermerke op julle aanbring nie.” God het hierdie gebod aan die nasie Israel gegee en hulle sodoende afgeskei van die naburige volke wat die name of simbole van hulle gode op hulle vel getatoeëer het (Deuteronomium 14:2). Hoewel die Wet wat aan Israel gegee is, nie vir Christene van vandag bindend is nie, verdien die beginsel waarop hierdie wet gegrond is, ernstige oorweging.

Is tatoeëring of lyfkuns gepas vir ’n Christen?

 Die volgende Bybelverse kan jou help om hieroor te redeneer:

  •   “Vroue [moet] hulle versier met . . . beskeidenheid” (1 Timoteus 2:9, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Hierdie beginsel is op vroue sowel as mans van toepassing. Ons moet ander se gevoelens respekteer en nie onnodige aandag op onsself vestig nie.

  •   Party wil hulle identiteit of onafhanklikheid bevestig, terwyl ander ’n tatoeëermerk kry om te wys dat hulle met hulle liggaam kan doen wat hulle wil. Maar die Bybel moedig Christene aan “om [hulle] liggaam aan te bied as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is, ’n heilige diens met [hulle] denkvermoë” (Romeine 12:1). Gebruik jou “denkvermoë” om te ontleed waarom jy ’n tatoeëermerk wil hê. As dit is omdat jy ’n gier wil volg of jou as ’n lid van ’n sekere groep wil identifiseer, moet jy onthou dat jou gevoelens dalk minder permanent as die tatoeëermerk sal wees. As jy jou beweegredes ondersoek, kan dit jou help om ’n wyse besluit te neem.—Spreuke 4:7.

  •   “Die planne van die vlytige lei gewis tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, stuur gewis op gebrek af” (Spreuke 21:5). Die besluit om ’n tatoeëermerk te kry, word dikwels oorhaastig geneem, maar dit kan ’n langtermyn uitwerking op verhoudings en sekulêre werk hê. En dit kan duur en pynlik wees om tatoeëermerke te verwyder. Navorsing—sowel as al die geld wat aan die verwydering van tatoeëermerke bestee word—toon dat baie mense wat tatoeëermerke kry, uiteindelik wens hulle het dit nie gekry nie.