Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Is hierdie persoon reg vir my?

Is hierdie persoon reg vir my?

 Het jy iemand gevind wat dalk ’n goeie huweliksmaat sal wees? Indien wel, hoe sal jy weet of hy of sy reg is vir jou?

 Dit is belangrik dat jy dieper moet kyk as oppervlakkige eienskappe. Die oulikste meisie is dalk nie betroubaar nie of die gewildste seun het dalk nie goeie sedes nie. Jy wil iemand hê by wie jy gemaklik sal voel—iemand wat werklik by jou persoonlikheid en doelwitte pas.—Genesis 2:18; Matteus 19:4-6.

Kyk dieper as die oppervlak

 Kyk objektief na jou vriend(in). Maar wees versigtig! Jy sien dalk net wat jy wil sien. Gee jouself dus genoeg tyd. Probeer onderskei watter soort persoon jou vriend(in) werklik is.

 Baie mense wat met mekaar uitgaan, kyk nie dieper as die oppervlak nie. Hulle wys eerder gou op die dinge wat hulle in gemeen het: “Ons hou van dieselfde musiek.” “Ons hou daarvan om dieselfde dinge te doen.” “Ons stem oor alles saam!” Maar jy moet dieper as die oppervlakkige eienskappe kyk. Jy moet “die geheime persoon van die hart” onderskei (1 Petrus 3:4; Efesiërs 3:16). In plaas van te konsentreer op hoe dikwels julle oor dinge saamstem, sal jy dalk meer oor hom of haar leer as jy kyk wat gebeur wanneer julle nie saamstem nie.

 Dink byvoorbeeld na oor die volgende:

  •   Hoe hanteer hierdie persoon konflik—deur daarop aan te dring om sy of haar sin te kry en miskien toe te gee aan “vlae van toorn” of “smadende taal”? (Galasiërs 5:19, 20; Kolossense 3:8). Of is hierdie persoon redelik—gewillig om ter wille van vrede toe te gee wanneer dit nie ’n saak van reg of verkeerd is nie?—Jakobus 3:17.

  •   Is die persoon manipulerend, besitlik of jaloers? Dring hy of sy daarop aan om alles te weet wat jy doen? “Ek weet van paartjies wat uitgaan en altyd baklei omdat die een dit nie kan verdra dat die ander een nie voortdurend ‘rapporteer’ waar hy of sy is nie”, sê Nicole. “Ek dink dis ’n slegte teken.”—1 Korintiërs 13:4.

  •   Hoe beskou ander hom of haar? Jy kan met mense praat wat hierdie persoon al ’n ruk lank ken, soos ervare persone in die gemeente. So kan jy uitvind of hy of sy “gunstig vermeld word”.—Handelinge 16:1, 2.