Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Moet ons uitmaak? (Deel 2)

Moet ons uitmaak? (Deel 2)

 Jy moet eers die regte tyd en plek kies vir die bespreking. Waar of wanneer kan dit wees?

 Wel, dink hoe jy behandel sou wou word (Matteus 7:12). Sou jy wou hê dat dit voor ander mense aangekondig moet word? Heel waarskynlik nie.

 Tensy omstandighede dit raadsaam maak, sou dit die beste wees om nie ’n verhouding oor ’n telefoonantwoordmasjien, met ’n SMS of per e-pos te beëindig nie. Kies eerder ’n tyd en plek wat jou die geleentheid sal gee om hierdie ernstige saak te bespreek.

 Wat kan jy sê wanneer die tyd kom om te praat? Die apostel Paulus het Christene aangespoor om met mekaar ‘die waarheid te praat’.—Efesiërs 4:25.

 Die beste manier is dan om taktvol maar ferm te wees. Sê duidelik waarom jy voel dat hierdie verhouding nie vir jou sal werk nie.

 Jy hoef nie ’n ellelange lys foute op te noem of die ander persoon met kritiek te bombardeer nie. In plaas van te sê: “Jy doen dit nie” of “Jy doen nooit dat nie”, sou dit beter wees om frases te gebruik wat die aandag vestig op hoe jy voel—“Ek het iemand nodig wat . . . ” of “Ek voel dat hierdie verhouding moet eindig omdat . . . ”

 Dis nie nou die tyd om besluiteloos te wees of om jou te laat ompraat nie. Onthou, jy het weens ’n ernstige rede besluit om uit te maak. Wees dus versigtig as jou vriend(in) probeer om jou deur subtiele manipulasie van plan te laat verander. “Nadat ek die verhouding beëindig het”, sê ’n jong vrou met die naam Lori, “het my ekskêrel altyd gemaak asof hy terneergedruk is. Ek dink hy het dit gedoen sodat ek vir hom jammer sou voel. Ek het sleg gevoel. Maar ek het nie toegelaat dat sy reaksie my besluit verander nie.” Soos Lori, moet jy weet wat jy wil hê. Bly by jou besluit. Laat jou nee, nee beteken.—Jakobus 5:12.