Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Is huisreëls regtig nodig?

Is huisreëls regtig nodig?

 Is dit vir jou moeilik om ’n huisreël te gehoorsaam? Hierdie artikel en die bygaande werkblad sal jou help om met jou ouers daaroor te praat.

 Die regte beskouing

 Mite: As jy die huis verlaat, sal jy eens en vir altyd klaar wees met reëls.

 Feit: Reëls verdwyn nie as jy uittrek nie. Jy sal nog steeds ’n verpligting teenoor iemand hê—dalk ’n werkgewer, ’n verhuurder of selfs die regering. “Ek dink dat jongmense wat nie reëls by die huis kan gehoorsaam nie, ’n groot skok kan verwag wanneer hulle uittrek”, sê die 19-jarige Danielle.

 Die Bybel sê: “[Wees] gehoorsaam ... aan regerings en owerhede” (Titus 3:1). As jy leer om jou ouers se reëls te gehoorsaam, sal dit jou op ander gebiede van die lewe help as jy eendag ’n volwassene is.

 Wat jy kan doen: Leer om die voordele van reëls raak te sien. “My ouers se reëls het my regtig gehelp om te leer hoe om my vriende te kies en my tyd wyslik te gebruik”, sê ’n jong man met die naam Jeremy. “Die reëls het my ook gehelp om nie te veel TV te kyk en te veel videospeletjies te speel nie en het my gehelp om eerder produktiewer dinge te begin doen—dinge wat ek nou nog geniet.”

 Die regte benadering

 Maar sê nou dit lyk of ’n reël nie sin maak nie? Byvoorbeeld, ’n jong vrou met die naam Tamara sê: “My ouers het my toegelaat om na ’n ander land te reis, maar noudat ek terug is by die huis, wil hulle nie eens hê dat ek na ’n stad toe moet ry wat net 20 minute weg is nie!”

 Sou dit verkeerd wees om met jou ouers oor die reël te praat as jy in ’n soortgelyke situasie is? Glad nie! Die sleutel is om te weet wanneer en hoe om daaroor met hulle te praat.

 Wanneer. “Eers nadat jy bewys het dat jy verantwoordelik is en vertrou kan word, kan jy jou ouers vra om ’n reël te verander”, sê ’n tiener met die naam Amanda.

 ’n Meisie met die naam Daria het gevind dat dit waar is. “My ma het dit eers oorweeg om ’n reël te verander toe sy sien dat ek altyd gehoorsaam is”, sê sy. Onthou, vertroue moet verdien word, jy kan nie daarop aandring nie.

Om in ’n huis te woon waar ouers se reëls nie gehoorsaam word nie, sal wees soos om te probeer land by ’n lughawe waar die reëls van die lugverkeer nie gehoorsaam word nie

 Die Bybel sê: “Bewaar ... die gebod van jou vader, en moenie die wet van jou moeder verlaat nie” (Spreuke 6:20). As jy hierdie vermaning gehoorsaam, sal jy vir jou ouers wys dat jy vertrou kan word en sal dit makliker wees om met hulle te praat.

 Hoe. “Dit is altyd beter om respekvol en kalm met jou ouers te praat, eerder as om te kerm en te skree”, sê ’n jong man met die naam Steven.

 Daria, wat vroeër aangehaal is, stem saam. “Wanneer ek met my ma gestry het, het niks verander nie”, sê sy. “Eintlik het sy soms die reël selfs strenger gemaak.”

 Die Bybel sê: “’n Sot laat al sy gees uit, maar hy wat wys is, hou dit tot op die laaste kalm” (Spreuke 29:11). As jy leer om selfbeheersing te hê, sal dit vir jou baie voordelig wees, nie net by die huis nie, maar ook by die skool, by die werk en op ander plekke.

 Wat jy kan doen: Dink voordat jy praat. ’n Woedeuitbarsting kan veroorsaak dat jou rekord van betroubaarheid niks beteken nie. Die Bybel sê met goeie rede die volgende: “Hy wat nie gou toornig word nie, is oorvloedig in onderskeidingsvermoë.”—Spreuke 14:29.

 Wenk: Gebruik die bygaande werkblad om oor reëls te redeneer, en praat met jou ouers oor die onderwerp, indien dit nodig is.