Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek uitbranding voorkom?

Hoe kan ek uitbranding voorkom?

 Is jy op die punt van uitbranding? As dit die geval is, kan hierdie artikel jou help!

 Hoekom dit gebeur

  •   As alles te veel raak. ’n Jong vrou met die naam Julie sê: “Daar word vir ons gesê dat ons op alle gebiede van die lewe aanhoudend beter moet doen, jouself moet verbeter, groter doelwitte moet stel en suksesvoller moet wees. Om onder hierdie konstante druk te wees is moeilik!”

  •   Tegnologie. As gevolg van slimfone, tablette en ander toestelle is ons “aangeskakel” en amper 24 uur per dag, 7 dae per week beskikbaar. Dit kan stres veroorsaak wat later tot uitbranding kan lei.

  •   Te min slaap. ’n Jong vrou met die naam Miranda sê: “Baie jongmense staan vroeg op en gaan slaap laat as gevolg van skool, werk en ontspanning. Hulle is vasgevang in ’n slegte roetine en dit lyk asof hulle nie daaruit kan kom nie.” Hierdie roetine lei baie keer tot uitbranding.

 Hoekom dit saak maak

 Volgens die Bybel is dit goed om hard te werk (Spreuke 6:6-8; Romeine 12:11). Maar dit sê nie dat ’n mens so hard moet werk dat al die ander dinge in jou lewe verkeerd loop en dat dit selfs sleg is vir jou gesondheid nie.

 “Op een punt het ek die hele dag niks geëet nie omdat ek so gefokus het op alles wat ek moes doen. Ek het geleer dat dit nie goed is om alle werk te aanvaar nie. Nie as dit sleg is vir my gesondheid nie.” — Ashley.

 Daar is ’n goeie rede hoekom die Bybel sê dat “’n lewende hond beter daaraan toe is as ’n dooie leeu” (Prediker 9:4). As jy baie hard werk, dink jy dalk dat jy so sterk soos ’n leeu is, ten minste vir ’n kort rukkie. Maar as jy uitbrand, kan dit baie sleg wees vir jou gesondheid.

 Wat jy kan doen

  •   Leer om nee te sê. Die Bybel sê: “Wysheid is by die beskeidenes” (Spreuke 11:2). Iemand wat beskeie of nederig is, besef wat hulle kan en nie kan doen nie, en pak nie meer aan as wat hulle kan doen nie.

     “Iemand wat nie nee kan sê nie, staan ’n groot kans om uitbranding te kry. ’n Mens is nie nederig as jy probeer om elke bietjie werk aan te vat wat jy aangebied word nie. Jy gaan een of ander tyd uitbrand.” — Jordan.

  •   Kry genoeg rus. Die Bybel sê: “’n Hand vol rus is beter as ’n dubbele hand vol harde werk en ’n gejaag na die wind” (Prediker 4:6). Slaap is al “kos vir die brein” genoem, maar die meeste tieners kry nie die agt tot tien uur slaap per nag wat hulle nodig het nie.

     “Wanneer ek verskriklik baie het om te doen, is ek geneig om nie genoeg te slaap nie. Maar soms is daai ekstra uur slaap al wat ek nodig het om die volgende dag harder te werk en gelukkiger te wees.” — Brooklyn.

  •   Raak georganiseerd. Die Bybel sê: “Die planne van die vlytige lei gewis tot voordeel” (Spreuke 21:5). Om te leer hoe om die meeste werk te doen in die tyd wat jy het, is nie maklik nie. Maar dit is iets wat jou baie sal help in die lewe.

     “’n Mens kan baie stres vermy as jy kan sien wat jy alles moet doen, soos op ’n kalender. Wanneer jou skedule voor jou is, is dit makliker om te sien waar jy veranderinge kan maak sodat jy nie uitbrand nie.” — Vanessa.