Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Waarom moet ek pornografie verwerp?

Waarom moet ek pornografie verwerp?

 Sal jy dit kan verwerp?

 As jy die Internet gebruik, kan jy verwag dat jy vroeër of later op die een of ander soort pornografie sal afkom. “Jy hoef dit nie eens meer te soek nie”, sê die 17-jarige Hayley. “Dit soek jou.”

 Pornografie kan ’n versoeking wees selfs vir diegene wat vasbeslote is om dit te vermy. “Ek het vir myself gesê dat ek op my hoede sal bly, maar ek het nie”, sê Greg, 18 jaar oud. “Jy kan nooit sê dat dit nie met jou sal gebeur nie.”

 Dit is vandag makliker as ooit tevore om toegang tot pornografie te verkry. En met sexting wat nou so algemeen word, maak en versprei baie tieners hulle eie pornografie.

 Die slotsom: Jy het te kampe met ’n groter uitdaging as jou ouers en grootouers toe hulle jou ouderdom was. Die vraag is: Sal jy pornografie kan verwerp?—Psalm 97:10.

 Die antwoord is ja—as jy kies om dit te doen. Maar eerstens moet jy oortuig wees dat pornografie sleg is. Kom ons kyk na ’n paar mites en feite oor die onderwerp.

 Mites en feite

 Mite: Pornografie sal my geen skade aandoen nie.

 Feit: Pornografie het dieselfde uitwerking op jou verstand as wat rook op jou longe het. Dit besoedel jou. Dit verlaag iets wat God gemaak het om ’n kragtige en blywende verbintenis tussen twee mense te wees (Genesis 2:24). Mettertyd kan dit jou selfs ongevoelig maak vir wat reg en verkeerd is. Byvoorbeeld, party deskundiges sê dat mans wat gereeld na pornografie kyk, meer geneig is om ’n ongevoelige gesindheid teenoor geweld teen vroue te hê.

  Die Bybel praat van mense wat “alle sedelikheidsgevoel verloor het” (Efesiërs 4:19). Hulle gewete raak so ongevoelig dat dit hulle nie meer pla as hulle slegte dinge doen nie.

 Mite: Pornografie kan jou oor seks leer.

 Feit: Pornografie leer jou oor gierigheid. Dit verlaag persone tot blote voorwerpe en impliseer dat hulle net bestaan vir jou selfsugtige genot. Dit is nie verbasend dat ’n studie getoon het dat diegene wat gereeld na pornografie kyk, minder geneig is om seksuele bevrediging te ervaar wanneer hulle getroud is nie.

  Die Bybel sê dat Christene “hoerery, onreinheid, geslagsdrif, skadelike begeertes en hebsug”—alles dinge wat deur pornografie bevorder word—moet verwerp.—Kolossense 3:5.

 Mite: Mense wat pornografie verwerp, het net ’n bekrompe beskouing van seks.

 Feite: Mense wat pornografie verwerp, het ’n verhewe beskouing van seks. Hulle besef dat dit ’n gawe is wat deur God gemaak is om die verbintenis tussen ’n man en ’n vrou wat getroud is en aan mekaar toegewy is, te versterk. Mense met hierdie beskouing is geneig om groter seksuele bevrediging te ervaar wanneer hulle getroud is.

  Die Bybel praat reguit oor seks. Dit sê byvoorbeeld vir mans: “Verheug jou met die vrou van jou jeug ... Mag jy voortdurend met haar liefde in ekstase wees.”—Spreuke 5:18, 19.

 Hoe om pornografie te verwerp

 Sê nou die versoeking om na pornografie te kyk, voel te sterk om te weerstaan? Die werkblad “Hoe om pornografie te verwerp” kan jou help.

 Wees verseker dat jy die versoeking om na pornografie te kyk, kan weerstaan. Jy kan ook leer om op te hou om na pornografie te kyk as jy reeds begin het. Jy sal beslis daarby baat vind as jy dit doen.

 Let op die voorbeeld van Calvin, wat erken dat hy op ongeveer 13-jarige ouderdom ’n gewoonte ontwikkel het om na pornografie te kyk. “Ek het geweet dat dit verkeerd is”, sê Calvin, “maar ek kon net nie die versoeking weerstaan om daarna te kyk nie. En nadat ek dit gedoen het, het ek vreeslik gevoel. Uiteindelik het my pa daarvan uitgevind—en om eerlik te wees, ek was baie verlig! Ek kon uiteindelik die hulp kry wat ek nodig gehad het.”

 Calvin het geleer om pornografie te verwerp. Hy sê: “Dit was ’n groot fout om na pornografie te kyk, ’n fout waarvoor ek nog duur betaal, want die beelde kom oor en oor by my op. En soms kom ek nog steeds in die versoeking om te dink aan wat ek kan sien as ek na dinge sou kyk waarna ek nie moet nie. Maar dan dink ek aan hoe gelukkig, hoe skoon en hoe helder my toekoms is solank ek dinge op Jehovah se manier doen.”