Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP

Pornografie​—⁠Onskadelik of gevaarlik?

Pornografie​—⁠Onskadelik of gevaarlik?

Pornografie is baie algemeen in vandag se wêreld. * Dit kan gevind word in advertensies, die modebedryf, rolprente, musiek, tydskrifte, televisieprogramme, videospeletjies, op slimfone, draagbare toestelle, webwerwe en nou ook op webwerwe waarop foto’s gelaai kan word. Pornografie word blykbaar algemeen aanvaar in die hedendaagse kultuur. Meer mense op meer plekke verslind meer pornografie as op enige ander tyd in die geskiedenis.—Sien die venster  “Feite oor pornografie”.

Die aard van pornografie verander ook. Professor Gail Dines skryf: “Uitbeeldings het nou so erg geword dat wat vroeër as harde pornografie beskou is, nou hoofstroompornografie is.”

Hoe beskou jy hierdie tendense? Is pornografie ’n onskadelike tydverdryf, ’n dodelike gif of iets tussenin? Jesus het gesê: “Elke goeie boom [bring] goeie vrugte voort, maar elke slegte boom bring waardelose vrugte voort” (Matteus 7:17). Watter vrugte bring pornografie voort? Om die antwoorde te vind, kan ons kyk na ’n paar belangrike vrae oor pornografie.

Watter uitwerking het pornografie op individue?

WAT DESKUNDIGES SÊ: Pornografie is uiters verslawend, en party navorsers en terapeute vergelyk dit selfs met crack-kokaïen.

Brian, * wat verslaaf was aan Internetpornografie, vertel: “Niks het my gekeer nie. Dit het gevoel asof ek in ’n beswyming is. Ek het gebewe en pyne in my kop gekry. Ek het hard gestry teen die gewoonte, maar jare later was ek nog steeds verslaaf.”

Mense wat aan pornografie verslaaf is, steek dikwels hulle gewoonte weg. Hulle is geheimsinnig en bedrieglik. Dit is nie verbasend dat baie van hulle afgesonderd, skaam, angstig, neerslagtig en kwaad voel nie. Daar is selfs party wat selfmoordneigings kry. “Ek het selfbehep geword en wanhopig gevoel”, sê Serge, wat feitlik elke dag pornografie op sy selfoon afgelaai het. “Ek het nikswerd, skuldig, alleen en vasgevang gevoel. Ek was te skaam en bang om hulp te vra.”

Selfs vlugtige of toevallige blootstelling aan pornografie kan ’n slegte uitwerking hê. Dr. Judith Reisman, ’n vooraanstaande navorser op die gebied van pornografie, het voor ’n komitee van die Amerikaanse senaat getuig en gesê: “Pornografiese beelde word in die brein ingeprent en verander die brein deur onmiddellik ’n onwillekeurige maar blywende biochemiese geheuespoor te laat [wat] moeilik of onmoontlik [is] om uit te wis.” Susan, 19, wat blootgestel was aan pornografiese webwerwe, sê: “Die beelde is in my verstand ingeprent. Dit kom onverwags by my op. Dit voel asof ek dit nooit heeltemal sal kan uitwis nie.”

DIE SLOTSOM: Pornografie maak sy slagoffers tot slawe en het ’n verwoestende uitwerking op hulle.—2 Petrus 2:19.

Watter uitwerking het pornografie op gesinne?

WAT DESKUNDIGES SÊ: “Egpare gaan uitmekaar en gesinne verbrokkel weens pornografie.”—The Porn Trap, deur Wendy en Larry Maltz.

Pornografie doen huwelike en gesinne skade aan deur

  • Vertroue, intimiteit en liefde in die huwelik te ondermyn.—Spreuke 2:12-17.

  • Selfsug, emosionele afsydigheid en ontevredenheid met ’n mens se huweliksmaat te bevorder.—Efesiërs 5:28, 29.

  • Aanleiding te gee tot skadelike seksuele fantasieë en drange.—2 Petrus 2:14.

  • Gebruikers in die versoeking te bring om aanstootlike seksgebruike op hulle maat af te dwing.—Efesiërs 5:3, 4.

  • Emosionele en fisiese ontrouheid in die hand te werk.—Matteus 5:28.

Die Bybel vermaan huweliksmaats om nie ‘verraderlik te handel’ met mekaar nie (Maleagi 2:16). Ontrouheid is die soort verraad wat ’n huwelik kan verwoes en ’n egpaar kan laat uitmekaargaan en skei. En dít benadeel die kinders wat uit die huwelik gebore is.

Pornografie kan kinders ook op ’n direkter manier leed aandoen. Brian, wat vroeër genoem is, verduidelik: “Toe ek omtrent tien was, het ek toevallig op my pa se pornografiese tydskrifte afgekom terwyl ek wegkruipertjie gespeel het. Ek het in die geheim daarna begin kyk, sonder om werklik te verstaan waarom daardie beelde vir my so ’n aantrekkingskrag gehad het. So het ’n vernietigende gewoonte begin wat tot diep in my volwasse lewe voortgeduur het.” Studies toon dat pornografie jongmense kan beïnvloed om op ’n jonger ouderdom seksueel aktief te word, asook om rond te slaap, seksueel gewelddadig te word en emosioneel en sielkundig onbestendig te word.

DIE SLOTSOM: Pornografie vergiftig liefdevolle verhoudings en veroorsaak uiteindelik hartseer en pyn.—Spreuke 6:27.

Wat sê die Bybel oor pornografie?

GOD SE WOORD SÊ: “Maak dan dood julle liggaamsdele . . . ten opsigte van hoerery, onreinheid, geslagsdrif, skadelike begeertes en hebsug, wat afgodediens is.”—Kolossense 3:5.

Eenvoudig gestel, Jehovah * God haat pornografie. Dit is nie omdat hy preuts is oor geslagsomgang nie. Hy het ons seksuele vermoëns geskep, en sy voorneme was dat huweliksmaats dit gebruik om mekaar genot te verskaf, emosioneel nader aan mekaar te kom en saam die wonderwerk te ondervind om kinders in die wêreld te bring.—Jakobus 1:17.

Waarom kan ons dan met sekerheid sê dat Jehovah ’n sterk afkeer van pornografie het? Kyk na net ’n paar redes.

  • Hy weet dat pornografie lewens kan verwoes.—Efesiërs 4:17-19.

  • Hy is lief vir ons en wil ons teen leed beskerm.—Jesaja 48:17, 18.

  • Jehovah wil huwelike en gesinne beskerm.—Matteus 19:4-6.

  • Hy wil hê dat ons sedelik rein moet wees en die regte van ander in ag moet neem.—1 Tessalonisense 4:3-6.

  • Hy wil hê dat ons respek moet hê vir ons voortplantingsvermoëns en dit op ’n eerbare wyse moet gebruik.—Hebreërs 13:4.

  • Jehovah weet dat pornografie ’n verwronge, selfsugtige, sataniese beskouing van seks weerspieël.—Genesis 6:2; Judas 6, 7.

DIE SLOTSOM: Pornografie doen ’n mens se vriendskap met God skade aan.—Romeine 1:24.

Jehovah het egter groot medelye met diegene wat uit die greep van pornografie wil ontsnap. Die Bybel sê: “Jehovah is barmhartig en genadig, word nie gou toornig nie en is oorvloedig in liefderyke goedhartigheid. Want hy weet goed hoe ons gevorm is, gedagtig dat ons stof is” (Psalm 103:8, 14). Hy nooi nederiges om hulle tot hom te wend sodat hulle “barmhartigheid kan verkry en onverdiende goedhartigheid kan vind vir hulp op die regte tyd”.—Hebreërs 4:16; sien die venster  “Breek los van pornografie”.

Tallose mense het al God se hulp aanvaar. Is sy hulp doeltreffend? Let op wat die Bybel sê oor party wat slegte gewoontes oorkom het: “Julle is skoon gewas, . . . julle is geheilig, . . . julle is regverdig verklaar in die naam van ons Here Jesus Christus en met die gees van ons God” (1 Korintiërs 6:11). Soos die apostel Paulus kan hierdie mense sê: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.”—Filippense 4:13.

Susan, wat haar verslawing aan pornografie oorkom het, sê: “Jehovah is die enigste een wat jou kan help om los te breek van pornografie. As jy sy hulp en leiding vra, kan jy ’n rein posisie voor hom verkry. Hy sal jou nie in die steek laat nie.”

^ par. 3 Die woord “pornografie” verwys na seksueel eksplisiete materiaal wat bedoel is om mense wat daarna kyk, dit lees of daarna luister, te prikkel. Dit kan foto’s insluit, asook luister- en leesstof.

^ par. 8 Name in hierdie artikel is verander.

^ par. 25 Jehovah is die naam van God soos dit in die Bybel geopenbaar word.