Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | JONGMENSE

Wanneer ’n ouer sterf

Wanneer ’n ouer sterf

DIE UITDAGING

Dami was ses jaar oud toe haar pa skielik dood is. Derrick was nege toe sy pa aan hartsiekte oorlede is. Jeannie was sewe toe haar ma kanker gekry het en binne ’n jaar gesterf het. *

Dit is hartseer dat hierdie drie jongmense so vroeg in die lewe ’n ma of pa deur die dood moes verloor. Het so iets al met jou gebeur? Dan sal hierdie artikel jou help om daardeur te kom. * Maar kom ons kyk eers na ’n paar feite oor die sterk emosies wat jy nou voel.

WAT JY MOET WEET

Daar is baie maniere om jou hartseer te wys. Nie almal doen dit op dieselfde manier nie. Die boek Helping Teens Cope With Death sê: “Wanneer iemand sterf, is daar nie net een manier of een stel reëls wat mense volg om dit te verwerk nie.” Wat wel belangrik is, is dat jy nie al jou pyn onnodig inhou nie. Hoekom nie? Hier is twee redes:

Dit kan vir jou baie sleg wees as jy jou groot hartseer onderdruk. Jeannie, wat aan die begin genoem is, sê: “Omdat ek ’n klein sussie het, het ek gedink ek moes sterk wees en my emosies diep wegsteek. Ek is vandag nog geneig om my pyn te onderdruk en dit is nie goed nie.”

Kenners stem saam. “’n Mens kan nie vir ewig jou gevoelens ignoreer of inhou nie. Wanneer jy dit die minste verwag, kan alles net te veel raak en veroorsaak dat jy siek word of ’n emosionele uitbarsting het”, sê die boek The Grieving Teen. Pyn en hartseer wat onderdruk word, kan maak dat jy alkohol of dwelms misbruik om van die pyn te ontsnap.

Wanneer jy treur, voel jy dalk baie vreemde emosies. Byvoorbeeld, party is kwaad en voel dat die persoon wat dood is hulle alleen agtergelaat het. Ander blameer God omdat hy nie gekeer het dat die persoon sterf nie. Baie wat treur, voel skuldig omdat hulle nie meer jammer kan sê vir iets wat hulle gedoen of gesê het nie.

Om te treur is duidelik ’n moeilike proses om te verstaan. Wat kan jou help om beter te voel en aan te gaan met jou lewe?

WAT JY KAN DOEN

Praat met iemand. Jy sal dalk in hierdie moeilike tyd net alleen wil wees. Maar as jy jou hart uitpraat met ’n familielid of ’n vriend, kan dit jou help om jou emosies te hanteer en nie toe te laat dat hierdie verskriklike situasie jou onderkry nie.—Bybelwaarheid: Spreuke 18:24.

Hou ’n dagboek. Skryf oor jou ma of pa wat jy verloor het. Byvoorbeeld, wat is jou mooiste en beste herinnering van hulle? Skryf oor hulle goeie eienskappe. Hoe wil jy soos hulle wees?

As jy negatiewe gedagtes het en byvoorbeeld die heeltyd dink aan iets lelik wat jy gesê het voordat jou ma of pa gesterf het, moet jy neerskryf hoe jy voel en hoekom jy so voel. Skryf byvoorbeeld neer: “Ek voel skuldig omdat ek die dag voordat my pa gesterf het, met hom baklei het.”

Dink ook hieraan: Is dit nodig om so skuldig te voel? The Grieving Teen sê: “Jy kan jouself nie vir alles blameer nie. Hoe moes jy geweet het dat daar hierdie keer nie ’n kans sou wees om jammer te sê nie? Dit is onrealisties om te dink dat jy nooit ’n fout gaan maak nie. Ons almal gaan iets verkeerd doen of sê waarvoor ons later om verskoning moet vra.”—Bybelwaarheid: Job 10:1.

Kyk mooi na jouself. Kry genoeg rus en oefening en eet gesond. Selfs al is jy nie lus om ’n volle bord kos te eet nie, eet ten minste deur die dag ietsie gesonds totdat jy jou eetlus terugkry. Moenie dink dat ongesonde kos en alkohol jou beter sal laat voel nie; dit sal dinge net erger maak.

Praat met God in gebed. Die Bybel sê: “Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag” (Psalm 55:22). Gebed is nie net iets wat ons doen om beter te voel nie. Dit is hoe ons kommunikeer met die God “wat ons in al ons verdrukking vertroos”.—2 Korintiërs 1:3, 4.

Een manier hoe God mense vertroos wat hartseer is, is deur sy Woord, die Bybel. As jy dit lees, sal jy antwoorde kry op vrae soos: Wat gebeur met mense wat sterf? En kan hulle weer lewe? *Bybelwaarheid: Psalm 94:19.

^ par. 4 Jy kan in die volgende artikel oor Dami, Derrick en Jeannie se ondervindinge lees.

^ par. 5 Al bespreek hierdie artikel die dood van ’n ouer, kan dit jou ook help as jy ’n broer, suster of vriend verloor het.

^ par. 19 Sien hoofstuk 16 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1. Dit kan gratis afgelaai word by www.pr418.com/af. Kyk onder PUBLIKASIES.