Spring na inhoud

Wat is doop?

Wat is doop?

Die Bybel se antwoord

 Om gedoop te word, moet ’n persoon heeltemal onder water gedompel word. a Daar is baie verslae oor doop in die Bybel opgeteken (Handelinge 2:41). Een van hierdie verslae is oor Jesus wat in die Jordaanrivier gedoop is (Matteus 3:13, 16). Jare later is ’n Etiopiese man gedoop in water wat naby die pad was waarop hy gereis het. – Handelinge 8:36-40.

 Jesus het ander geleer dat doop ’n vereiste vir sy volgelinge is (Matteus 28:19, 20). Die apostel Petrus het dit ook bevestig. – 1 Petrus 3:21.

In hierdie artikel

 Wat beteken doop?

 Doop is iets wat iemand doen om ander te wys dat hy berou getoon het oor sy sondes en God belowe het om Sy wil te doen. Dit sluit in dat hulle in alle aspekte van hulle lewe aan God en Jesus gehoorsaam sal wees. Mense wat gedoop word, volg die weg wat tot die ewige lewe lei.

 Waterdoop simboliseer op ’n gepaste manier die veranderinge wat ’n persoon in sy lewe gemaak het. Hoe so? Die Bybel vergelyk doop met wanneer iemand begrawe word (Romeine 6:4; Kolossense 2:12). Deur onder die water gedompel te word, wys die persoon dat hy ten opsigte van sy vorige lewenswyse gesterf het. Wanneer hy uit die water opkom, wys hy dat hy sy nuwe lewe as ’n toegewyde Christen nou begin.

 Wat sê die Bybel oor kinderdoop?

 Die term “kinderdoop” word nie in die Bybel genoem nie. b Dit sê ook nie dat babas gedoop moet word nie.

 Kinderdoop stem nie ooreen met wat die Bybel leer nie. Die Bybel sê dat ’n persoon wat gedoop wil word, aan sekere vereistes moet voldoen. Byvoorbeeld, hy moet ten minste die basiese leringe van God se Woord verstaan en in ooreenstemming daarmee lewe. Hy het berou oor sy sondes getoon. En deur gebed het hy sy lewe aan God toegewy (Handelinge 2:38, 41; 8:12). Babas kan nie hierdie dinge doen nie.

 Wat beteken dit om in die naam van die Vader, die Seun en die heilige gees gedoop te word?

 Jesus het sy volgelinge beveel: “Maak dissipels . . . , en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te gehoorsaam wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). “In die naam van” beteken dat die een wat gedoop word, die gesag en die posisie van die Vader en die Seun erken, sowel as die rol van God se heilige gees. Byvoorbeeld, die apostel Petrus het vir ’n man wat van sy geboorte af verlam was, gesê: “In die naam van Jesus Christus die Nasarener, loop!” (Handelinge 3:6). Dit is duidelik dat Petrus besef en erken het dat hierdie wonderwerk te danke was aan Christus se gesag.

  •   “Die Vader” verwys na Jehovah c God. As die Skepper, Lewegewer en God die Almagtige, het Jehovah absolute gesag. – Genesis 17:1; Openbaring 4:11.

  •   “Die Seun” is Jesus Christus, wat sy lewe vir ons gegee het (Romeine 6:23). Ons kan nie redding verkry tensy ons Jesus se belangrike rol in God se voorneme vir die mensdom verstaan en aanvaar nie. – Johannes 14:6; 20:31; Handelinge 4:8-12.

  •   “Die heilige gees” is God se werkende krag, of sy krag in aksie. d God het sy heilige gees gebruik om te skep, om lewe te gee, om boodskappe aan sy profete en ander oor te dra en om hulle die krag te gee wat hulle nodig gehad het om sy wil te doen (Genesis 1:2; Job 33:4; Romeine 15:18, 19). God het ook heilige gees gebruik om Bybelskrywers te inspireer om sy gedagtes neer te skryf. – 2 Petrus 1:21.

 Is dit ’n sonde om meer as een keer gedoop te word?

 Dit is nie vreemd vir mense om van godsdiens te verander nie. Maar wat as hulle in hulle vorige kerk gedoop was? Sal dit ’n sonde wees as hulle weer gedoop word? Party sê ja, moontlik as gevolg van hulle beskouing van Efesiërs 4:5, wat sê: “Een Here, een geloof, een doop.” Maar hierdie vers beteken nie dat ’n persoon nie weer gedoop kan word nie. Hoe so?

 Konteks. In die konteks van Efesiërs 4:5 wys die apostel Paulus hoe belangrik dit vir ware Christene is om verenig te wees in wat hulle glo (Efesiërs 4:1-3, 16). Sulke eenheid kan net bestaan as hulle dieselfde Here, Jesus Christus, volg, dieselfde geloof het, of dieselfde begrip het oor wat die Bybel leer. Hulle moet ook dieselfde Bybelgebaseerde vereistes vir doop volg.

 Die apostel Paulus het sommige wat alreeds gedoop was, aangemoedig om weer gedoop te word. Dit was omdat hulle gedoop was sonder dat hulle die leringe van Christus ten volle verstaan het. – Handelinge 19:1-5.

 Die regte grondslag vir doop. Om vir God aanvaarbaar te wees, moet doop gebaseer wees op akkurate kennis van Bybelwaarheid (1 Timoteus 2:3, 4). As ’n persoon gedoop is op grond van godsdiensleringe wat nie met die Bybel ooreenstem nie, sal daardie doop nie deur God erken word nie (Johannes 4:23, 24). Die persoon was dalk opreg, maar hy het nie volgens “akkurate kennis” opgetree nie (Romeine 10:2). Om God se goedkeuring te verkry, moet hy Bybelwaarheid inneem, toepas wat hy leer, sy lewe aan God toewy en weer gedoop word. Onder hierdie omstandighede sal dit nie ’n sonde wees as hy weer gedoop word nie. Dit sal eerder die regte ding wees om te doen.

 Ander Bybelverslae oor doop

 Daar is nog Bybelverslae oor doop wat ’n ander betekenis het as die waterdoop van Christus se volgelinge. Kyk na ’n paar voorbeelde.

 Mense wat deur Johannes die Doper gedoop is. e Jode en Joodse proseliete was deur Johannes gedoop as ’n simbool van hulle berou oor hulle sondes teen die Wet van Moses – die Wet wat God deur middel van Moses aan die Israeliete gegee het. Die doop wat deur Johannes gedoen is, het mense voorberei om die Messias, Jesus van Nasaret, te identifiseer en te aanvaar. – Lukas 1:13-17; 3:2, 3; Handelinge 19:4.

 Jesus se persoonlike doop. Jesus se doop deur Johannes die Doper was uniek. Jesus was ’n volmaakte man en het nooit gesondig nie (1 Petrus 2:21, 22). So sy doop het nie berou of “’n versoek tot God vir ’n goeie gewete” ingesluit nie (1 Petrus 3:21). Maar dit het eerder gewys dat hy homself aan God aangebied het om Sy wil te doen as die voorspelde Messias, of Christus. Dit het ingesluit dat hy sy lewe vir ons gegee het. – Hebreërs 10:7-10.

 Doop met heilige gees. Johannes die Doper en Jesus Christus het altwee oor doop met heilige gees gepraat (Matteus 3:11; Lukas 3:16; Handelinge 1:1-5). Daardie doop is nie dieselfde as doop in die naam van die heilige gees nie (Matteus 28:19). Hoekom sê ons so?

 Net ’n klein groepie van Jesus se volgelinge word met heilige gees gedoop. Diegene is gesalf met heilige gees omdat hulle gekies is om saam met Christus in die hemel as konings en priesters oor die aarde te dien (1 Petrus 1:3, 4; Openbaring 5:9, 10). f Hulle sal heers oor miljoene van Jesus se volgelinge wat die hoop het om vir ewig in die Paradys op aarde te lewe. – Matteus 5:5; Lukas 23:43.

 Gedoop in Christus Jesus en in sy dood. Individue wat met heilige gees gedoop is, is ook “in Christus Jesus gedoop” (Romeine 6:3). Daarom is hierdie doop van toepassing op Jesus se gesalfde volgelinge, wat saam met hom in die hemel sal regeer. Deur in Jesus gedoop te word, word hulle deel van sy gesalfde gemeente. Hy is die Hoof, en hulle is die liggaam. – 1 Korintiërs 12:12, 13, 27; Kolossense 1:18.

 Gesalfde Christene is ook “in [Jesus se] dood gedoop” (Romeine 6:3, 4). In navolging van Jesus lei hulle ’n selfopofferende lewe van gehoorsaamheid aan God en gee hulle enige hoop om vir ewig op die aarde te lewe, op. Hulle voltooi hierdie simboliese doop wanneer hulle sterf en ’n opstanding tot lewe in die hemel as geesskepsele ontvang. – Romeine 6:5; 1 Korintiërs 15:42-44.

 Doop met vuur. Johannes die Doper het vir die mense wat na hom geluister het, gesê: “Hy [Jesus] sal julle doop met heilige gees en met vuur. Die vurk waarmee hy die koring en die kaf skei, is in sy hand, en hy sal sy dorsvloer heeltemal skoonmaak en sy koring in die voorraadskuur bymekaarmaak, maar hy sal die kaf verbrand met vuur wat nie geblus kan word nie” (Matteus 3:11, 12). Let op dat daar verskille is tussen doop met vuur en doop met heilige gees. Wat het Johannes bedoel met hierdie illustrasie?

 Die koring stel mense voor wat na Jesus sal luister en hom gehoorsaam. Hulle het die vooruitsig om met heilige gees gedoop te word. Die kaf stel mense voor wat nie na Jesus sal luister nie. Hulle einde sal ’n doop met vuur wees, wat beteken dat hulle vir ewig vernietig sal word. – Matteus 3:7-12; Lukas 3:16, 17.

a Volgens Vine’s Complete Expository Dictionary of Old and New Testament Words beteken die Griekse woord wat met “doop” vertaal word, “om in die water in te gaan, heeltemal deur water bedek te word en dan uit die water op te kom”.

b “Kinderdoop” verwys na ’n geleentheid wat deur party kerke gehou word waar ’n baba ’n naam gegee kan word en dan “gedoop” word deur water op sy kop te sprinkel of te gooi.

c Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?

d Sien die artikel “Wat is die heilige gees?

e Sien die artikel “Wie was Johannes die Doper?

f Sien die artikel “Wie gaan hemel toe?

g Die Bybel gebruik ook die term “doop” om sekere seremoniële reinigings te beskryf, soos om water op voorwerpe te gooi (Markus 7:4; Hebreërs 9:10). Dit is natuurlik heeltemal anders as die waterdoop van Jesus en sy volgelinge.