Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOORBLADONDERWERP

Sal die mens die aarde onherstelbaar beskadig?

Sal die mens die aarde onherstelbaar beskadig?

“’n Geslag gaan, en ’n geslag kom; maar die aarde bly tot onbepaalde tyd staan.”—KONING SALOMO, 11DE EEU VHJ. *

Die kortstondigheid van die mens se lewe het vir hierdie eertydse Bybelskrywer ’n skerp teenstelling gevorm met die aarde wat vir ewig bly staan. Ja, geslagte kom en gaan al duisende jare lank, en tog het die planeet Aarde nog altyd die merkwaardige vermoë gehad om te herstel en lewe te onderhou—ten minste tot nou toe.

Die jare sedert die Tweede Wêreldoorlog is al deur party die Groot Versnelling genoem. In ’n enkele leeftyd het mense merkwaardige vooruitgang gesien op die gebied van vervoer, kommunikasie en ander tegnologieë, wat ongeëwenaarde ekonomiese veranderinge meegebring het. Baie geniet ’n lewenstandaard wat mense vroeër gedink het onmoontlik is. Intussen het die aarde se bevolking byna verdriedubbel.

Maar ’n hoë prys is vir dit alles betaal. Menslike bedrywighede is na bewering skadelik vir die aarde se natuurlike kringlope. Trouens, party wetenskaplikes sê dat ons ’n nuwe geologiese tydperk betree het wat die Antroposeen genoem word—’n tydperk waarin die negatiewe uitwerking wat mensebedrywighede op die planeet het, al hoe duideliker word.

Die Bybel het ’n tyd voorspel waarin die mens ‘die aarde sal verderf’ (Openbaring 11:18). Party wonder of ons nou in daardie tyd lewe. Hoeveel skade sal nog aangerig word? Sal dit ’n punt bereik waar geen  terugkeer meer moontlik sal wees nie? Sal die mens die aarde onherstelbaar beskadig?

’N PUNT WAAR GEEN TERUGKEER MEER MOONTLIK SAL WEES NIE?

Sal die aarde heeltemal verderf word? Party wetenskaplikes meen dat dit moeilik is om die uitwerking van klimaatsveranderinge te voorspel. Daarom is hulle bekommerd dat ons binnekort ’n punt kan bereik waar skielike en onverwagse klimaatsveranderinge rampspoedige gevolge kan hê.

Neem as voorbeeld die Wes-Antarktiese yslaag. As aardverwarming voortgaan, sal die smelting van hierdie yslaag ’n punt bereik waar dit volgens party nie omgekeer sal kan word nie. Dit is omdat ’n yslaag die son se strale van nature weerkaats. Maar as die yslaag dunner en kleiner word, word die oseaan daaronder, wat minder lig weerkaats, uiteindelik aan sonlig blootgestel. Die donker oseaanoppervlak absorbeer meer hitte, wat dan weer veroorsaak dat die yslaag vinniger smelt. ’n Selfonderhoudende, onkeerbare kringloop kan ontstaan. Die gevolglike styging in die seevlak weens smeltwater kan vir honderdmiljoene mense rampspoedig wees.

EKOLOGIESE SKULD HOOP OP

Verskeie strategieë is al opgestel om werk te maak van die noodtoestand waarin ons planeet nou verkeer. ’n Strategie wat al lank in werking is, is volhoubare ontwikkeling, wat beteken dat die ekologiese beperkings van die planeet in ag geneem moet word wanneer ekonomiese en maatskaplike groei bevorder word. Wat was die resultate?

Soos in die geval van die wêreldwye finansiële skuldkrisis, bly die aarde se ekologiese skuld ongelukkig ophoop. Mense hou aan om ons planeet se hulpbronne vinniger uit te put as wat dit van nature aangevul kan word. Kan iets gedoen word? ’n Ekoloog het openlik erken: “In sekere sin weet ons glad nie hoe om die planeet doeltreffend te bestuur nie.” Die Bybel som die situasie baie goed op: “Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie.”—Jeremia 10:23.

Maar die Bybel verseker ons dat God, die Skepper, die mens nie sal toelaat om die planeet onherstelbaar te beskadig nie. In Psalm 115:16 lees ons: “Die aarde het [God] aan die mensekinders gegee.” Ja, ons planeet is ’n “goeie gawe” van ons hemelse  Vader (Jakobus 1:17). Sou ons verwag dat God se gawe net tydelik is, asof dit ’n vervaldatum het? Natuurlik nie! Die manier waarop ons planeet ontwerp is, is duidelike bewys hiervan.

WAT DIE SKEPPER SE VOORNEME IS

Die Bybelboek Genesis vertel in besonderhede hoe God die aarde met groot sorg gemaak het. In die begin, sê die verslag, was die aarde “vormloos en woes, en daar was duisternis op die oppervlak van die waterdiepte”. Daar word spesifiek genoem dat daar “waters”—wat noodsaaklik is vir lewe—op die planeet was (Genesis 1:2). God het toe gesê: “Laat daar lig wees” (Genesis 1:3). Klaarblyklik het die son se strale deur die atmosfeer gedring, en lig het vir die eerste keer op die aarde sigbaar geword. Die verslag sê verder dat droë grond en seë gevorm is (Genesis 1:9, 10). Daarna het die aarde “gras begin voortbring, plante wat volgens hulle soorte saad dra en bome wat vrugte lewer” (Genesis 1:12). Elemente wat nodig was vir prosesse en kringlope wat noodsaaklik is vir lewe—soos fotosintese—was dus in plek. Wat was die doel van al hierdie voorbereidings?

Die eertydse profeet Jesaja het God beskryf as “die Formeerder van die aarde en die Maker daarvan, . . . wat dit stewig gevestig het, wat dit nie verniet geskep het nie, wat dit gevorm het om bewoon te word” (Jesaja 45:18). Dit is beslis God se voorneme dat die aarde vir ewig deur die mens bewoon word.

Ongelukkig het die mens God se pragtige gawe so misbruik dat dit byna verderf is. Maar die Skepper se voorneme het nie verander nie. ’n Man van die ou tyd het gesê: “God is nie ’n mens dat hy leuens sou vertel nie, ook nie ’n mensekind dat hy sou spyt voel nie. Het hy dit gesê en sal hy dit nie doen nie?” (Numeri 23:19). Ja, God sal nie toelaat dat die aarde verderf word nie; die tyd kom eerder vinnig nader wanneer hy “die verderwers van die aarde [sal] verderf”.—Openbaring 11:18.

DIE AARDE—ONS EWIGE TUISTE

Jesus Christus het in sy beroemde Bergpredikasie gesê: “Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf” (Matteus 5:5). Later in daardie selfde preek het Jesus geopenbaar hoe die aarde van verderwing gered sal word. Hy het sy volgelinge  beveel om te bid: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.” Ja, God se Koninkryk, of regering, sal God se voorneme met die aarde verwesenlik.—Matteus 6:10.

God sê aangaande die merkwaardige veranderinge wat die Koninkryk sal meebring: “Kyk! Ek maak alles nuut” (Openbaring 21:5). Beteken dit dat God die aarde sal vervang met ’n nuwe aarde? Nee, want daar is in werklikheid niks met ons planeet self verkeerd nie. God sal eerder die mense vernietig wat verantwoordelik is vir die krisis waarin ons planeet verkeer, “die verderwers van die aarde”, dit wil sê die hedendaagse mensestelsel met sy regerings. Dit sal vervang word met “’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde”—’n nuwe hemelse regering, God se Koninkryk, wat oor ’n nuwe aardse gemeenskap regeer.—Openbaring 21:1.

Om die ekologiese skuld wat die mens laat ophoop het, te delg, sal God as ’t ware die ekologiese begroting weer laat klop. Die psalmis het onder inspirasie beskryf wat God sal doen: “U het u aandag op die aarde gerig, sodat u dit oorvloed kan gee; u verryk dit grootliks.” Met klimaatstoestande wat gunstig sal wees en bowenal met God se seën, sal die aarde ’n paradys word wat ’n oorvloed kos sal voortbring.—Psalm 65:9-13.

Mohandas Gandhi, die oorlede geestelike leier van Indië, het volgens sy sekretaris Pyarelal gesê: “Die aarde bring genoeg voort om in elke mens se behoeftes te voorsien, maar nie genoeg om elke mens se gierigheid te bevredig nie.” God se Koninkryk sal die grondoorsaak van die aarde se probleme uit die weg ruim deur mense se harte te laat verander. Die profeet Jesaja het voorspel dat mense onder Koninkryksheerskappy mekaar of die aarde “geen kwaad [sal aandoen] of enige verderf [sal] aanrig” nie (Jesaja 11:9). Trouens, vandag reeds leer miljoene mense van alle agtergronde omtrent God se verhewe standaarde. Hulle word geleer om God en hulle naaste lief te hê, om ’n dankbare gees te openbaar, om na die omgewing om te sien, om natuurlike hulpbronne te bewaar en om ’n lewe te lei wat in ooreenstemming is met die Skepper se voorneme. Hulle word voorberei vir lewe op ’n paradysaarde.—Prediker 12:13; Matteus 22:37-39; Kolossense 3:15.

Die aarde is heeltemal te kosbaar om onherstelbaar beskadig te word

Die skeppingsverslag in Genesis sluit af met die woorde: “God [het] alles gesien wat hy gemaak het, en kyk! dit was baie goed” (Genesis 1:31). Die aarde is beslis heeltemal te kosbaar om onherstelbaar beskadig te word. Ons word vertroos deur die wete dat ons planeet se toekoms veilig is in die hande van ons liefdevolle Skepper, Jehovah God. Hy belowe: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon” (Psalm 37:29). Mag jy gereken word onder “die regverdiges”, wat die aarde hulle ewige tuiste sal noem.

^ par. 3 Uit Prediker 1:4 in die Bybel.