Spring na inhoud

Wat is die oorlog van Armageddon?

Wat is die oorlog van Armageddon?

Die Bybel se antwoord

 Die oorlog van Armageddon verwys na die finale oorlog tussen menseregerings en God. Hierdie regerings en dié wat hulle ondersteun, staan God selfs nou teë deur te weier om hulle aan sy heerskappy te onderwerp (Psalm 2:2). Die oorlog van Armageddon sal ’n einde aan menseheerskappy maak.—Daniël 2:44.

 Die woord “Armageddon” kom slegs een keer in die Bybel voor, in Openbaring 16:16. Openbaring toon profeties dat “die konings van die hele bewoonde aarde” by “die plek wat in Hebreeus Har-Magedon genoem word”, versamel sal word “vir die oorlog van die groot dag van God die Almagtige”.—Openbaring 16:14.

 Wie sal tydens Armageddon veg? Jesus Christus sal ’n hemelse leër tot oorwinning oor God se vyande lei (Openbaring 19:11-16, 19-21). Hierdie vyande sluit diegene in wat God se gesag teëstaan en God minag.—Esegiël 39:7.

 Sal Armageddon letterlik in die Midde-Ooste geveg word? Nee. Die oorlog van Armageddon sal nie net in een gebied plaasvind nie, maar oor die hele aarde.—Jeremia 25:32-34; Esegiël 39:17-20.

 Armageddon, wat soms met “Har-Magedon” (Har Meghiddohnʹ in Hebreeus) weergegee word, beteken “die berg Megiddo”. Megiddo was eens ’n stad in die gebied van eertydse Israel. Die geskiedenis toon dat beslissende gevegte in hierdie omgewing gevoer is, insluitende party wat in die Bybel opgeteken is (Rigters 5:19, 20; 2 Konings 9:27; 23:29). Armageddon kan egter nie na die letterlike gebied naby eertydse Megiddo verwys nie. Daar is nie ’n groot berg daar nie, en selfs die hele aangrensende laagvlakte van Jisreël is nie groot genoeg vir almal wat teen God sal veg nie. Armageddon is eerder die wêreldwye situasie waarin die nasies bymekaarkom in hulle laaste opstand teen God se heerskappy.

 Wat sal gedurende die oorlog van Armageddon gebeur? Hoewel ons nie weet hoe God sy krag sal gebruik nie, sal hy wapens tot sy beskikking hê soos dié wat hy in die verlede gebruik het—hael, aardbewings, oorstromende stortreën, vuur en swael, weerlig en siektes (Job 38:22, 23; Esegiël 38:19, 22; Habakuk 3:10, 11; Sagaria 14:12). Uit verwarring sal ten minste party van God se vyande mekaar doodmaak, maar hulle sal op die ou end besef dat dit God is wat teen hulle veg.—Esegiël 38:21, 23; Sagaria 14:13.

 Sal Armageddon die einde van die wêreld beteken? Dit sal nie die einde van ons planeet beteken nie, aangesien die aarde die mensdom se ewige tuiste is (Psalm 37:29; 96:10; Prediker 1:4). Armageddon sal nie die mensdom uitwis nie, maar sal dit in werklikheid red, want “’n groot menigte” van God se knegte sal behoue bly.—Openbaring 7:9, 14; Psalm 37:34.

 Wanneer die Bybel die woord “wêreld” gebruik, verwys dit nie net na die aarde nie, maar soms ook na die goddelose mensegemeenskap wat God teëstaan (1 Johannes 2:15-17). In hierdie sin sal Armageddon “die einde van hierdie wêreld” beteken.—Matteus 24:3, Die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

 Wanneer sal Armageddon plaasvind? Toe Jesus gepraat het van die “groot verdrukking” wat sy hoogtepunt met die oorlog van Armageddon sal bereik, het hy gesê: “Van daardie dag en uur weet niemand nie, nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader” (Matteus 24:21, 36). Maar die Bybel toon wel dat Armageddon gedurende Jesus se onsigbare teenwoordigheid, wat in 1914 begin het, sal plaasvind.—Matteus 24:37-39.