Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 5

Wat is God se doel met die aarde?

Wat is God se doel met die aarde?

1. Hoekom het God die aarde geskep?

Jehovah het die aarde vir die mens gegee. Ons behoort hier. So, die eerste mensepaartjie, Adam en Eva, is nie geskep om in die hemel te woon nie. God het klaar engele geskep om in die hemel te woon (Job 38:4, 7). God het eerder die eerste mens geneem en hom in ’n lieflike paradys gesit wat die tuin van Eden genoem is (Genesis 2:15-17). Jehovah het hom en sy toekomstige nageslag die hoop gegee om vir ewig op die aarde te lewe. – Lees Psalm 37:29; 115:16.

Aan die begin was net die tuin van Eden ’n paradys. Die eerste mensepaartjie moes die aarde met hulle nageslag vul. Hulle moes uiteindelik die hele aarde bewerk en dit in ’n paradys verander (Genesis 1:28). Die aarde sal nooit vernietig word nie. Dit sal altyd die mens se woonplek wees. – Lees Psalm 104:5.

Kyk na die video Hoekom het God die aarde geskep?

2. Hoekom is die aarde nie nou ’n paradys nie?

Adam en Eva was ongehoorsaam aan God, en daarom het Jehovah hulle uit die tuin gesit. Die Paradys is verloor, en geen mens het dit reggekry om die aarde weer in ’n paradys te verander nie. Die Bybel sê: “Hy het die aarde aan die goddeloses oorgegee.” – Job 9:24. – Lees Genesis 3:23, 24.

Het Jehovah sy doel verander wat hy in die begin vir die mens gehad het? Nee! Hy is almagtig. Hy kan nie misluk nie (Jesaja 45:18). Hy sal seker maak dat die mens weer sal lewe soos hy bedoel het. – Lees Psalm 37:11, 34.

3. Hoe sal die aarde weer ’n paradys word?

Die aarde sal weer ’n paradys word wanneer Jesus as God se Koning oor die aarde gaan regeer. In ’n oorlog wat Armageddon genoem word, sal Jesus saam met God se engele almal vernietig wat nie aan God se kant is nie. Dan sal Jesus Satan vir 1 000 jaar opsluit. God se volk sal nie vernietig word nie omdat Jesus hulle sal help en beskerm. Hulle sal ewige lewe in die Paradys op aarde geniet. – Lees Openbaring 20:1-3; 21:3, 4.

4. Wanneer sal swaarkry tot ’n einde kom?

Wanneer sal God goddeloosheid op die aarde tot ’n einde bring? Jesus het ’n “teken” gegee om te wys wanneer die einde naby is. Wat nou in die wêreld gebeur, stel alle mense se lewe in gevaar, en dit wys dat ons aan “die einde van die wêreldstelsel” lewe. – Lees Matteus 24:3, 7-14, 21, 22.

Jesus sal 1 000 jaar lank uit die hemel oor die aarde regeer. Hy sal dan alle swaarkry tot ’n einde bring (Jesaja 9:6, 7; 11:9). Jesus sal nie net Koning wees nie, maar ook die Hoëpriester. Hy sal die sondes wegneem van die mense wat vir God lief is. Deur middel van Jesus sal God siekte, ouderdom en die dood wegneem. – Lees Jesaja 25:8; 33:24.

5. Wie sal in die toekomstige Paradys lewe?

By die Koninkryksaal sal jy mense ontmoet wat vir God lief is en wil leer hoe om hom gelukkig te maak

Mense wat aan God gehoorsaam is, sal in die Paradys lewe (1 Johannes 2:17). Jesus het sy volgelinge uitgestuur om na nederige mense te soek en om hulle te leer hoe om God gelukkig te maak. Vandag berei Jehovah miljoene mense voor vir lewe in die toekomstige Paradys op aarde (Sefanja 2:3). By Koninkryksale van Jehovah se Getuies leer mense om beter mans en pa’s en beter vrouens en ma’s te wees. Kinders en ouers aanbid saam en leer hoe die goeie nuus hulle kan help. – Lees Miga 4:1-4.