’n Openbaring aan Johannes 11:1-19

  • Die twee getuies (1-13)

    • Profeteer 1 260 dae in saklinne (3)

    • Doodgemaak en nie begrawe nie (7-10)

    • Ná drie en ’n half dae lewend gemaak (11, 12)

  • Tweede vreeslike gebeurtenis is verby, derde kom (14)

  • Die sewende trompet (15-19)

    • Koninkryk van ons Here en van sy Christus (15)

    • Vernietigers van die aarde sal vernietig word (18)

11  En ’n riet wat soos ’n stok* gelyk het,+ is vir my gegee terwyl hy gesê het: “Staan op en meet die tempelheiligdom van God en die altaar en dié wat daarin aanbid.  Maar jy moet die voorhof wat buitekant die tempelheiligdom is, heeltemal uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die nasies gegee, en hulle sal die heilige stad+ 42 maande lank+ vertrap.  Ek sal my twee getuies 1 260 dae in saklinne laat profeteer.”  Hulle word deur die twee olyfbome+ en die twee lampstaanders+ gesimboliseer en staan voor die Here van die aarde.+  As enigiemand iets slegs aan hulle wil doen, kom vuur by hulle monde uit en verteer dit hulle vyande. As enigiemand iets slegs aan hulle wil doen, moet hy op hierdie manier doodgemaak word.  Hulle het die gesag om die hemel toe te sluit+ sodat geen reën sal val+ gedurende die dae wat hulle profeteer nie, en hulle het gesag oor die waters, om dit in bloed te verander+ en om die aarde met allerhande plae te tref so dikwels as wat hulle wil.  Wanneer hulle hulle getuienis klaar gegee het, sal die wilde dier wat uit die afgrond opkom, teen hulle oorlog voer en hulle oorwin en hulle doodmaak.+  En hulle lyke sal op die hoofstraat van die groot stad lê wat in ’n geestelike sin Sodom en Egipte genoem word, waar hulle Here ook aan die paal gehang is.  En mense uit die volke en stamme en tale en nasies sal drie en ’n half dae+ na hulle lyke kyk, en hulle sal nie toelaat dat hulle lyke in ’n graf neergelê word nie. 10  En dié wat op die aarde woon, sal bly wees oor hulle en feesvier, en hulle sal geskenke aan mekaar stuur, want hierdie twee profete het dié wat op die aarde woon, gepynig. 11  Ná die drie en ’n half dae het God die asem* van die lewe in hulle geblaas,+ en hulle het op hulle voete gaan staan, en dié wat hulle gesien het, het baie bang geword. 12  En hulle het ’n harde stem uit die hemel vir hulle hoor sê: “Kom op hierheen.” En hulle het in die wolk na die hemel opgegaan, en hulle vyande het hulle gesien.* 13  In daardie uur was daar ’n groot aardbewing, en ’n tiende van die stad het geval, en 7 000 mense is deur die aardbewing doodgemaak, en die res het bang geword en die God van die hemel verheerlik. 14  Die tweede vreeslike gebeurtenis+ is verby. Kyk! Die derde een kom gou. 15  Die sewende engel het op sy trompet geblaas.+ En daar was harde stemme in die hemel wat sê: “Die koninkryk van die wêreld het die Koninkryk van ons Here+ en van sy Christus+ geword, en hy sal vir ewig en altyd as koning regeer.”+ 16  En die 24 ouderlinge+ wat voor God op hulle trone gesit het, het met hulle gesigte na die grond toe neergeval en God aanbid 17  en gesê: “Ons dank u, Jehovah* God, die Almagtige, die Een wat is+ en wat was, want u het u groot krag opgeneem en as koning begin regeer.+ 18  Maar die nasies het woedend geword, en u eie woede het gekom. Die vasgestelde tyd het gekom om die dooies te oordeel en om u slawe, die profete,+ en die heiliges en dié wat u naam vrees, klein en groot, te beloon,+ en om die vernietigers van die aarde te vernietig.”*+ 19  En die tempelheiligdom van God wat in die hemel is, is oopgemaak, en die ark van sy verbond is in sy tempelheiligdom+ gesien. En daar was weerligstrale en stemme en donderslae en ’n aardbewing en ’n groot haelstorm.

Voetnote

Of “maatstok”.
Of “gees”.
Of “het toegekyk”.
Of “die verderwers van die aarde te verderf”.